Margaret se Wêreld: Die Emmy’s en HBO-partytjie deur Margaret Gardiner.
Die Emmy’s is ’n viering van televisiewerk. The Golden Globes vereer uitmuntende werk vir rolprente en TV in Januarie, en teen September is jy weer lus vir ’n partytjie. Jy kan seker wees die laaste deel van die jaar is gelaai met partytjies.
Met ’n paar gesondheidsprobleme moes ek my aan baie van hierdie feestelikhede onttrek, want dit was te na aan my operasie. Ek was steeds besig om te verwerk wat met my gebeur het en my liggaam het ná die operasie slaap en rus nodig gehad.
Lees ook: Margaret se Wêreld: Die operasie
Ek het boonop ’n dag lange reis na Toronto gehad om twee A-lys glansmense vas te maak vir kliënte en ek moes die HFPA/InStyle-partytjie bywoon.
Ek was Sondag by Château Marmont, ’n beroemde hotel op Sunset Boulevard, vir die partytjie ter viering van die Showtime- benoemdes. Benedict Cumberbatch en Ben Stiller was net enkele van die talle glansmense teenwoordig. Ek het besluit om te rebelleer en het ’n mini met kralewerk uit die jare sewentig aangetrek saam met ’n vloeiende bloes. Die idee was dat mense hulle verkyk aan die mini en nie my letsel raaksien nie.
Dit was ’n soel aand en die dak bokant die Château se tuin is verwyder sodat mense die sprankelende LA-aand kon geniet.
Ondanks my gebreekte toon het ek ’n paar vyfduimhakke aangetrek en ’n glasie vonkelwyn geskink. Ná ’n uur was ek gereed om te gaan. Ek het die regte ding gedoen. Ek het gegaan en geglimlag, maar nou was dit tyd om gemaklik te raak.
Ek het vroeër die dag ’n geskenklokaal besoek. Dit is een van die voordele as jy ’n ster is. Jy kry hope geskenke net omdat jy ’n ster is. Die lokale het ’n versameling van die jongste handelsmerke vir die super-elite. Daar is ontwerperhandelsmerke wat glase, skoene, klere en vakansies weggee. Die idee is dat die verbintenis met die ster meer werd is as die prys van die geskenk. Terwyl ek in Cannes was, het ek die lokaal van Natalie DuBois besoek en ek is nuwe wimpers en wenkbroue aangebied. Ek hou daarvan om natuurlik te lyk. As ek fotosessies doen, sal hulle vals wimpers aansit en ek dra grimering en bevogtiger, maar ek is gewoond daaraan om myself te wees en wil nie te veel aan my voorkoms karring nie. Ek gebruik nooit wimpers as my persoonlike keuse nie en het die aanbod van die hand gewys.
Lees ook: Margaret se Cannes-dagboek
Laat ek jou inlig. As jy ’n vrou met perfekte wenkbroue en wimpers sien, is die kans goed dat sy nie daarmee gebore is nie. Ek praat nie van pluk en vorm nie. Daar is iets genaamd blading. Dit gebruik ’n tegniek wat die wenkbrou opplomp en dit semi permanent vir jou vorm. Ek hou daarvan om te eksperimenteer, maar enigiets wat semi-permanent is, maak my bang en daarom het ek dit van die hand gewys. Maar die aand by ’n geselligheid in Cannes het ek ’n vriendin gesien wat pragtig gelyk het. Met my agtergrond in die skoonheidsbedryf kan ek gewoonlik sien as iemand iets laat doen het. Ek het haar gevra wat die geheim van haar ongelooflike voorkomsverandering is. Sy het tien jaar jonger gelyk.
Sy het vertel dat sy blading laat doen het. Dit was ongelooflik dat dit al is wat sy laat doen het. Die verandering was fantasties en ek het weer nagedink oor blading ...
Lees ook: Estetiese prosedures: Neem hierdie in ag
Toe ek dieselfde vrou van Neilly van België in LA raakloop, het ek gewonder of ek nie die kans moet waag om dit te laat doen nie. My vriendin het baie goed gelyk, maar daar was baie gruwelstories en ek het blading gesien wat nie natuurlik lyk nie. Hier is my bekentenis: Ek is bang om met die natuur te mors.
Plus ek is deur skending en ek het besluit ek hou eintlik van my gesig. Daar is dingetjies wat my irriteer en wat deur veranderinge in my lewe veroorsaak is, maar ek is gewoond aan myself en ek wil nie daaraan verander nie. Daar is dinge wat my uniek maak. Toe ek onlangs aan my gesig moes laat verander, het ek besef dat ek van my gesig hou soos dit is. Die klein onperfekthede, hoewel nooit ’n groot ding in my lewe nie, het weggedryf. Wil ek regtig iets radikaals aan my laat verander terwyl ek nog herstel? Die antwoord was nee.
Ek het eerder gesels met ’n vrou wat luukse aromatiese kerse maak en dieselfde aromas in lyfbotter gebruik. Sy gebruik soja en essensiële olies. Milena moedig jou ook aan om die was van haar kers op jou vel te gebruik.
Ek het nog altyd gewonder of was jou vel kan bevoordeel en sy het my ’n produk gegee waarmee ek by die huis kan gaan eksperimenteer. Ja, ek sal ’n monster neem om by die huis te gaan toets en ja, ek sal ’n kers ook neem.
Ek het heelwat aanbiedinge van die hand gewys, maar die vrou van Neilly het my weer voorgekeer. Wat van wimpers?
Hmmmm. Ek wou iets radikaals doen. Die eerste keer toe ek kanker gehad het, het ek al my hare afgesny en blond gekleur. Onlangs, toe ek gesukkel het om oor my ma se dood te kom, het ek my hare weer blond gekleur. Ek kon nie my hare sny nie, want ek gebruik die lengte van my hare om die letsel op my bors te verbloem.
Lees ook: Margaret vertel: ’n Ma soos myne
Ek het uit ’n vliegtuig gespring toe my ma op haar laaste was. Ek het van Seinheuwel af gespring en oor Seepunt gesweef. As ek op ’n emosionele plek vasgevang word waar ek voel ek gaan verdrink, hou ek daarvan om iets te doen wat my laat konsentreer. My beweging word sedert Januarie beperk en ek kon nie oefeninge doen nie. Ek het nie meer veilige opsies gehad om ’n verandering aan te bring nie. Elke keer as ek in die spieël kyk, het ek die pers letsel op my neus gesien. Miskien sal die wimpers my iets nuuts gee om na te kyk? Met ’n bietjie versigtigheid het ek ingestem. Ek sal die wimpers probeer, maar nie die wenkbroue nie.
Hulle plak die wimpers individueel aan jou eie vas en gee jou ’n seperige vloeistof waarmee jy dit kan was. Jy kan jou wimpers so lank en dik laat maak as wat jy wil. Ek het hulle gevra om ’n foto te neem voor hulle begin. Ek wou dit ’n konserwatiewe lengte hê en so na moontlik aan my eie lengte wimpers.
Ek was opgewonde. Dit het net gelyk of ek maskara aan het. Ek het nie tien jaar jonger gelyk soos my vriendin nie. Die grootste verskil was die hoek van die oog. Die wimpers het individueel uitgestaan. Gedurende die twee weke wat ek hulle het, sal ’n wimper natuurlik uitval. Dit is ’n voorkoms waarmee ek gemaklik is. Ek hoef nie maskara te gebruik nie en dit beteken ek hoef nie van naby na myself in die spieël te kyk nie. Ek pas by die nuwe ek. Dit is ’n bonus.
Die Emmy’s
Maandag. Die Emmy’s is aan die gang, maar ek bring tyd saam met my manne deur en ek wil nie by die deur uitgaan nie. Maar ek het ’n vriendin na een van die partytjies genooi en ek kon nie daaruit kom nie. Ek het vroeër die dag gebel en die meeste van die partytjies gekanselleer. Ek was moeg. Ek het myself belowe ek sal saam met my vriendin ingaan en dan huis toe. Ek het heeltemal vergeet om iets te beplan om te dra. Ek het in my kas gegrawe en ’n romp en kanttoppie uitgehaal en na die Pacific Design Center in West Hollywood gery. By die sekuriteitshek het my vriendin by my aangesluit vir die partytjie.
Die partytjie was buite in ’n welige tuin wat vir die geselligheid geskep is. Die tafels is omring deur verskeie kroegies en tafels met kos. Ek het gesit en gesels en net toe ek na die deur begin mik, het ’n groep glansmense aangekom. Game of Thrones het gewen en Thandie Newton het die Emmy vir West World gekry.
Ek was gelukkig om vinnig met van die wenners te kon praat voor ek by die partytjie weg is. Ek het besef daar is nog ’n partytjie deur AmazonPrime net twee blokke verder en ek het ’n Uber daarheen geneem. Ciccone is ’n gewilde plek in LA en was volgepak! Ek het vir ’n glas water gevra en almal om my het vonkelwyn gedrink. Ek het lekker gesels met Emmy-wenner, Rachel Brosnahan, die ongelooflike Miss Maisel. Pragtig in ’n vyftigers rooi rok met ’n kaal skouer. Sy het geblom terwyl sy aan haar Emmy vasklou. Ons moes vir mekaar deur die lawaai skree. “Dit beteken so baie vir my as jy die reeks se tema in ag neem. Dit is baie belangrik vir vroue op die oomblik.”
Nog ’n vriend het my vertel hulle is op pad na die HBO-partytjie waar ek my kar gelos het. Die limousine het gearriveer en ek het in die sagte, weelderige stoele neergesak. Ek was baie trots op myself dat ek by my skedule gebly het. “Byna middernag,” het hy gesê. Wat? Ek het gedink dit is so tienuur. Dit is wat gebeur as jy besluit jy wil net vinnig iewers ’n draai maak. Gewoonlik is die mense en partytjie soveel pret. ’n Mens kan nie vir alles ja sê nie. Die lewe is vol keuses en jy moet jouself kans gee om dinge te doen. Die versoeking is groot om soms net by die huis te sit en jou siel te voed, maar dit is ook goed om jou vlerke te sprei.
Die geheim is om nie al jou tyd daar te bestee nie. Jy kan soos Ikarus uitbrand in die helder lig. Die balans tussen die twee is nie moeilik nie. Bly meer by die huis as wat jy uitgenooi word, maar avontuur stimuleer én bring groei.
As jy meer oor Margaret se lewe wil leer, lees gerus haar blog vir rooi rose.
Hou ook vir Margaret dop op sosiale media. Volg haar op facebook en Instagram.