Margaret se Wêreld: Die dinge wat mense kwytraak deur Margaret Gardiner.
As jy jouself in die publieke oog toelaat, stel jy jouself bloot aan kommentaar. As jy mense toelaat om jou te komplimenteer, moet jy ook mense toelaat om hul eerlike mening te gee. Sommige van die eerlike menings is: “Gee haar kos!” “Te maer!” En die mees onlangse, “Sy lyk soos die Katvrou!”
(Jy weet, die vrou wat soveel plastiese chirurgie laat doen het dat sy soos ’n kat lyk?)
Laasgenoemde was kommentaar op facebook na ’n onlangse artikel oor my. So kom ons ontleed dit …
As jy my blog lees, sal jy weet dat ek die weke voor die Golden Globes deurgebring het deur na my rekenaarskerm te kyk om sterre se name te memoriseer. Die spanning op mens se oë is erg. Ek is op daardie stadium wat ek perfek op ’n afstand kan sien, maar sukkel om naby te lees sonder om my oë op ’n frons te trek. Ek moet byvoorbeeld ver kyk wie op die rooi tapyt aankom, en dan weer naby kyk op my foon om seker te maak ek weet wie dra watter ontwerper se klere. Dit is moeilik met ’n bril. Ek het dit al probeer. Ek het ook vanjaar weer kontaklense probeer. Voorheen het dit gewerk, maar vanjaar het ek gesukkel. Ek het dit elke keer laat val en dan het dit omgedop.
Lees ook: Ja, hy is glansryk, maar sy naam is mos nie Emily Blunt nie!
Dit gaan soms rof. Ek moet aan die tegniese span inligting stuur oor wie wat dra en dan boodskappe ontvang van die publisiteitsbeamptes wat my vertrou om die regte inligting oor hul kliënte deur te stuur. En, dis nog net voordat die funksie begin!
Neem in ag dat ek die vorige nag by die Globes- partytjie in hoë hakke rondgehol het. Ek was dus gedaan toe die groot oomblik op die rooi tapyt aanbreek. Die Globes het laatmiddag begin, in helder, koue sonlig. Dit is winter in Los Angeles.
Vanjaar was die spanning erger omdat dit die eerste keer was wat ek in die kollig was ná my neusoperasie. Die chirurg het pragtige werk gedoen, maar daar is ’n knop en ’n letsel op my neus. Ek het dit met grimering probeer verbloem, maar dit het nie gewerk nie. Een van daardie dae.
Jy probeer, maar dan los jy die grimering en loop uit by die deur. Daar is mos tonne sterre en wie sal jou dan nou raaksien?
Lees ook: Margaret se Wêreld: Só herstel ek na die partytjieseisoen
Dan word ’n artikel maande later gepubliseer met ’n foto van jou. En dan kom die kommentaar: “Jy lyk soos die katvrou; te veel plastiese chirugie (nogal!)”.
Ek het in ’n vorige blog vir julle vertel van die velbehandelings wat ek ondergaan het voor die Golden Globes en die Influencer-geleentheid wat ek aangebied het. Ek was nie seker of hierdie behandeling gaan werk nie, maar as ek na die foto’s van die dae na die geleentheid kyk, lyk ek uitgerus en gesond. Ek kon werklik ’n verskil opmerk!
Lees ook: Margaret se Wêreld: Die oploop tot die Golden Globes
Margaret se Wêreld: Ons het almal ’n helpende hand nodig
En ek was baie gelukkig met my voorkoms die aand voor die Golden Globes.
En dan die aand van die Golden Globes? Ja, ek lyk effe anders. So, hoe kan mens binne 24 uur na twee verskillende vroue lyk? Ek probeer seker nou maar met verskonings opkom vir my voorkoms as gevolg van die facebook-kommentare wat ek gekry het.
Dit is seker iemand se reg om my op facebook ’n katvrou te noem, maar dit is nie ’n baie mooi beskrywing nie. En dit terwyl ek dink ek lyk nogal goed. Veral as mens in ag neem dat ek die vorige aand middernag eers tuisgekom het. Voor ek in die katvrou verander het, natuurlik. Daar was nie juis tyd om plastiese chiurgie te ondergaan sedert die vorige nag nie.
Saterdagaand: Normale vrou. Sondagaand: Die Katvrou!
Ja, ek het gesukkel met die kontaklense, maar uiteindelik het ek dit reggekry – na ’n gespartel! Ek dink die foto’s is gedokter. Dit is as hulle al jou plooie uitblaas, en mag ek sê aan wie ookal dit gedoen het, baie dankie! Dit het ook die letsel van my neus weggeblaas en voor iemand sarkasties raak en sê ek hoef nie die letsel te bedek nie, en dat ek die letsel moet omarm ensovoorts, wil ek net sê, ek omarm die letsel, maar ek sal veral dit doen as dit minder opsigtelik is. Dus as iemand my letsel wil weg airbrush, is ek oukei daarmee. Ek weet dit is skokkend en nie die dapper ding om te sê nie, maar ek verkies om dit nie te doen met foto’s wat ek self plaas nie.
Maar as iemand op internasionale vlak uit die goedheid van hul harte dit wil doen, wel la-di-dah – wie jy ookal is wat sê ek moenie. Ons is almal geregtig tot ons menings.
Ek dink dis menslik om jou letsels te probeer wegsteek. Of is ek verkeerd? Miskien is dit net swakheid? Of ydelheid? Ek aanvaar alle verduidelikings. Maar ’n mens kan nie met die werklikheid stry nie. Ek sien myself op elke foto wat geneem word … ook waar daar nie ’n wonderlike mens is wat die foto regdokter en my beter laat lyk as wat ek lyk nie. Ek sien myself in weerkaatsings, en ek weet hoe ek regtig lyk. Onder die grimering. Terwyl ek rondhardloop en my lewe lei. Daar is geen voorgee nie. Ek het dus nie ’n verduideliking nie, jammer mense.
Lees ook: Margaret se Wêreld: Ons het almal sulke dae …
Ek het om die een of ander rede daardie dag so gelyk, ek het nie geweet ek behoort aan mense te verduidelik hoekom ek lyk soos ek lyk nie. Maar ek verkies om dit te deel sodat ek eienaarskap kan neem van die kommentaar en dit aanvaar.
Nieteenstaande die grappies in hierdie rubriek fokus ek nie op hoe ek van oomblik tot oomblik lyk nie … tot iemand toevallig ’n opmerking daaroor maak. Dan moet ek kyk na wat hulle sê en hoekom hulle dit sê. Ek glo aan die goedheid van mense en as iemand iets oor my sê, moet ek kyk of ek iets daaruit kan leer, dus kyk ek ’n tweede keer.
Sommige dae is goeie dae en sommiges slegtes waarop jy moeg is en plooie soos kraters verskyn weens dehidrasie, ouderdom, beligting of sommer net die verkeerde hoek.
Ek is gelukkig met myself, alles in ag genome. Ek weet ek lyk dikwels slegter. As ’n mens my onlangse mediese geskiedenis in ag neem, is dit eintlik ’n wonderwerk dat ek wel op die rooi tapyt was en op my beste kon probeer lyk. Ek bedank my goeie genade daarvoor.
Lees ook: Ons het almal “bad hair days”
Hier is die foto wat die katvrou-kommentaar uitgelok het:
Nadat ek die katvrou opmerking gelees het, het ek gedink aan ’n vrou saam met wie ek werk wat nie van my hou nie en dit regkry om allerlei skokkende, gemene aanmerkings met ’n glimlag te maak soos, “Margaret, wat het gebeur? Jy het altyd so ’n mooi agterstewe gehad en nou het jy dit nie meer nie?” Uhm, wat? En hoekom kyk jy na my agterstewe?
Juis sy het my die aand van die Globes geroep toe ek agter die verhoog rondgehardloop het, “Is jy oukei?” Ek was gelukkig daardie aand. Ek was mal oor my rok, skoene en handsak, en omdat my seun ingestem het om die Globes vir die eerste keer by te woon. Ook omdat die meeste werk agter die blad was en ek die meeste groot sterre se ontwerpersinligting reg gekry het. Ek het daardie oomblik vergeet dat sy gewoonlik gemene aanmerkings maak. Ek het glimlaggend geantwoord, “Dit gaan goed, en met jou?”
Sy het haar kop geknik en weggestap, maar dit was so ’n vreemde vraag. Toe roep ek haar terug. “Hoekom vra jy?”
Sy het geantwoord, “Omdat jy lyk of jy gehuil het.”
Ek het gevries. Miskien het my maskara gesmeer. Dit raak warm onder die ligte en ek het baie gelag.
Ek het geglimlag, en geantwoord, “Nee, ek het nie, dankie dat jy gevra het.”
Ek het reguit na die damesbadkamer gegaan waar daar grimeerkunstenaars is wat vroue se grimering opknap. Ek het gevra,“Kan julle my help? Iemand het gesê dit lyk of ek gehuil het. Ek het rondgehardloop, miskien het my grimering gesmeer?”
Die grimeerkunstenaar se mond het oopgeval, “Jy lyk pragtig. Ek weet nie waarvan sy praat nie.”
Ek het gevra, “Is jy seker daar is nie maskara wat gesmeer het nie?”
Sy het ’n ander grimeerkunstenaar geroep, “Iemand het vir haar gesê dit lyk of sy gehuil het.”
Die ander grimeerkunstenaar het in skok na my gestaar. “Nee, jou grimering hoef nie opgeknap te word nie. Dit is perfek.” Ek het na die twee kundiges gekyk en hulle vertrou.
“Ek weet nie hoekom iemand so iets sou sê nie,” het een gesê.
Die ander een het gesê, “Sy was net gemeen en wou met jou kop speel.”
My glimlag het verdwyn. “Hoekom sou iemand so iets wou doen? Hoekom sal jy iemand stop wat duidelik gelukkig is en iets so moedswillig sê? Die twee vroue het my konsternasie gesien.
“Jou grimering is perfek, jy het nie eens poeier nodig nie.”
Ek het my kollega se aanmerking van my af geskud. En weer gefokus op my werk en geluk.
Maar noudat ek na die katvrou-foto kyk, wonder ek of my kollega my sien soos hierdie mense my sien? Miskien het sy dit uit goedhartigheid gevra omdat ek anders gelyk het?
Ander mense se woorde en menings kan, as jy dit toelaat, ’n uitwerking hê op hoe ons onsself sien. Nog ’n mens het op Facebook gesê ydelheid is ’n onaantreklike karaktertrek.
Ek moes my neuskanker in die oë staar voordat ek geweet het hoe die letsel gaan lyk en ek was baie bang.
Lees ook: Margaret se ope brief aan rooi rose-lesers oor die kankergewas op haar neus
Margaret se Wêreld: Die operasie
Baie Facebook-volgers was gaaf en baie het hul persoonlike verhale gedeel. Party was nie so gelukkig soos ek nie. Ek dink elke keer aan hulle as ek in die spieël kyk en die letsels op my lyf sien. Dit sê vir my sê hoe gelukkig is ek.
My neus is ’n bietjie skeef, dit het ’n pers letsel oor die brug en dit het ’n knop wat die simmetrie van my gesig versteur. Dit word party dae bloedrooi en as dit koud word, voel die flap wat oor die gat getrek is, effe dood. My neus het my voorkoms verander. Ander mag my verseker dat dit nie so is nie, maar dit is my gesig en nie my ydelheid nie. Dit is anders as wat dit was en dit is ’n realiteit.
Die realiteit is om jou beste te wil lyk. Iemand wat dit ontken, jok. Aanvaarding, selfliefde, vergifnis – dit is net so belangrik as die lys wat ons maak van wie ons is en hoe ons onsself sien.
Om op my beste op die rooi tapyt te lyk, is iets wat ek erken ek wil doen. As dit my ydel maak, is ek die personifikasie van ydelheid. Maar ek aanvaar ook dat as ek in ’n stad land na ’n vlug, gaan ek na die badkamer en sien my rooi neus in die spieël en dit is ’n realiteit. Ek kan grimering dra om dit toe te smeer, maar op daardie oomblik hoef ek nie op my beste te lyk nie. Dit is nou my nuwe normaal.
Daar is grade wanneer die mening van buitestaanders belangrik is en wanneer nie.
Lees ook: Margaret se Wêreld: Omhels wie jy is
Met ander se menings in ag genome, moet ’n mens weet wie jy is. Ons moet aanvaar dat ander se woorde hul eie is en hulle het baie redes waarom hulle dit wil uitspreek. Slegte dae, ongelukkigheid met waar hulle in die lewe is, of eenvoudige eerlikheid. Elkeen het die reg om homself uit te druk. Maar ek het die reg om my nie te steur aan ander se woorde nie. Ek het nie nodig om toe te laat dat hulle mening bepaal hoe ek myself sien nie. Hulle mening van wie ek is, wie ek behoort te wees, hoe ek moet lyk, hoeveel ek moet weeg, is stof in die wind.
Ek kies gesondheid bo grootte. Ek kies funksionaliteit bo voorkoms. Daar sal altyd iemand wees wat meen iets aan jou moet verander. Ek weeg my woorde en is versigtig oor wat ek sê. Ek probeer om mense nie seer te maak nie. Soms besef ek nie hoe die dinge wat ek sommer net sê, ander kan raak nie. Dan vra ek om verskoning. Ek hoop self ek word vergewe, en daarom vergewe ek ook.
Ek weet wie ek is. Ek probeer nie iemand anders wees nie. Ek het plooie, letsels. My lyf werk nie altyd met my saam nie. En die ouderdom is lief vir my. Ek doen alles wat ek kan wat die beste is vir my. Van binne en van buite.
Ek sal nuwe rome probeer en sal te lank en te hard lag. Ek sal dik, hoë stewels en ’n mini dra omdat ek daarvan hou.
Ek probeer dit met styl en subtiliteit doen en is bewus dat ek veroordeel en gespot kan word, maar elk doen dit omdat ek wil en omdat dit ek is. Ek probeer nie om jonger te lyk nie. Ek probeer nie vetter wees sodat iemand my minder oordeel nie. Ek wil nie maerder wees, sodat ek op ’n sekere manier geëtiketteer kan word nie. Ek wil gesond wees op ’n manier wat goed is vir my. Ek wil ’n hele blok Cadbury’s sjokolade opeet omdat ek wil. Ek kan net myself wees. My beste ek volgens my kriteria. Ek faal soms. Volgens my eie definisie en ander s’n. Maar ek vergewe myself, en ek kyk na wat ander van my sê, maar as dit nie tot my voordeel is nie, laat ek dit my net liggies raak en dan wegvlieg in die bries.
Volg gerus Margaret se blog vir rooi rose waar sy ons vertel oor haar interessante en besige lewe. Jy kan haar ook volg op Instagram, facebook, twitter en haar YouTube-kanaal waar sy met bekendes gesels.