Margaret se Wêreld: Besoek aan Atlanta en die Escada-Porsche-modeskou deur Margaret Gardiner. Foto’s: Margaret Gardiner.
Dis hoe my lewe werk: Daar is altyd twee kragte wat gelyktydig teen mekaar werk. As ’n onverwagte ramp soos ’n blou-oog my nie net voor die Mej. Suid-Afrika-reünie tref nie, val ek met my fiets voor ek as beoordelaar by die Mej. Filippyne-kompetisie moet optree. En ek sal dikwels twee ewe aanloklike uitnodigings kry wat op dieselfde dag, dieselfde tyd plaasvind.
My houding is dus: Probeer alles, doen wat jy kan, hê pret en geniet die lewe.
Dit is dus geen verrassing dat ek geskeduleer is om in Atlanta te wees vir ’n besoek aan ’n rolprentstel en ’n onderhoud met twee mega-sterre nie (ek mag nog nie daaroor praat nie) en toe kry ek ’n uitnodiging na die Escada/Porsche-modevertoning by die motormuseum.
Dié vertoning word deur die Los Angeles Fashion Week georganiseer. Ons onderhandel al jare dat ek hul geleenthede kan bywoon, maar ek is altyd uitstedig, en nou gaan ek weer weg wees!
Maar sien, my kop werk nie so nie. As ek die eerste vlug uit Atlanta neem, kan ek oor Denver vlieg, dan na Los Angeles om aandete vir my gesin te maak, te stort, te grimeer en die twee uur verskil ignoreer, wat beteken ek is eenuur LA-tyd wakker en kan dan die modevertoning bywoon.
Ek kan dit nie help nie. Ek het toe ek jonger was modevertonings in Parys gedoen en dit vreeslik geniet. As moderedakteur van GoldenGlobes.com moet ek ook met organiseerders van modeweke netwerke vorm.
Atlanta
Atlanta groet my met vlae reën, net soos in Kaapstad. Op pad is ek vertel ons hotel is na aan die huis van Margaret Mitchell, die skrywer van die klassieke boek Gone With the Wind. Ek boek by die hotel in. Dit reën hard. Die water spoel van die straat af oor die sypaadjies. Ek het nie weervoorspelling gekyk nadat ek ingestem het om hierheen te kom nie. En nou is reënstorms vir die duur van my verblyf voorspel! Ek gaan stap gewoonlik nadat ek by ’n nuwe plek gearriveer het. Maar … die reën! Ek het geen reënskoene, sambreel of reënjas nie. En Margaret Mitchell se huis is aanloklik naby. “Net ’n paar blokke ver,” volgens my vriende. H’m. Sal ek weer in Atlanta kom? Wie weet? Ek leen ’n sambreel en vat die pad in die gietende reën.
Dis nogal interessant dat die motorbestuurders van Atlanta nie die voetgangers wat die reën trotseer op die sypaadjies raaksien nie. Hulle is nie daarvan bewus nie en jaag verby terwyl hulle waterwerke skep wat Disneyland sou beny. Golwe water skiet op en spat oor jou. Dus, as die reën jou nie deurdrenk nie, sal die kamikaze- watervertoning dit doen.
Ek probeer oor die plasse spring (Ha! Uiteindelik het ek die voordeel van lang bene.) Ek durf die strate aan wat soos riviere vloei en soek die vlak dele uit waarheen ek kan spring. Ek is soos ’n bergbok wat na veiligheid spring. Ek het pas nuwe John Varvados-hardloopskoene gekoop en as hulle deurdrenk is, sal ek siek word, want die Amerikaners stel die lugversorgers in die somer op vriespunt en as die weer verander, pas hulle dit nie aan nie. Ek wil my voete droog hou, en ek moet die skoene die volgende drie dae gebruik. Ek het pas herstel van brongitis en wil nie weer siek word nie.
En so spring ek voort van een semi-natkol na ’n volgende om na Margaret se huis te gaan. Verkeersligte slaan groen en karre spoed voort. Ek dink hulle speel ’n speletjie genaamd “Hoeveel Maniere is Daar om Gardiner met Water te Deurdrenk?” Ek gebruik my sambreel as ’n skild en spring elke keer weg van die pad. Sheesh! waar is die legendariese goeie maniere van hierdie mense?
Ek hop tussen die diep plasse op ’n tuinpaadjie weg van die straat. En toe staan ek voor die manjifieke huis …
Dit is gesluit. Natuurlik is dit gesluit! Die reën het my vertraag en ek het die geleentheid misgeloop om die huis van binne te sien. Maar ek neem ’n foto en plas en spring my pad oop terug na die hotel.
Dit het aanhou reën tydens my besoek aan die stel, en my begelei terug in die lug op pad na Los Angeles.
Los Angeles
Op die vlug sit ek langs ’n fassinerende vrou. ’n Loods wat in die lugmag was voor sy uitgetree het om kinders groot te maak. Daarna het sy weer die arbeidsmag betree. Sy is gebaseer in Denver en op pad na LA om ’n private vliegtuig te kry om die gesin vir wie sy werk op hul vakansie-eiland te gaan haal.
’n Paar uur later is ek in die motormuseum met die invloedrykes, borge, spesiale gaste en modelle.
Die modelle is opvallend. Ek het dit nog nie voorheen raakgesien nie, maar lang, maer mense met beenstrukture is merkwaardig. Hulle is ongewoon. Ek sien dit raak, want ek is gewoond aan rolprentsterre. Ek besef skielik hoekom mense my lengte by werksgeleenthede raaksien. “Jy is so lank! Hoekom dra jy hoëhakskoene as jy so lank is? Ek moet my nek verrek om jou te sien.”
Dit het my aandag gevestig op iets wat ek nie voorheen besef het nie. Ek is die ongewone een. Ek vergeet altyd ek is lank. My susters is lank en toe ek modelwerk gedoen het, was die meeste meisies so lank soos ek. Tussen hulle was ek normaal. Ek het heelwat vriende wat kort is en ek sê graag vir hulle: “Sjoe, jy is kort.” Gelukkig het goeie geselskap en gedeelde waardes niks met lengte te doen nie.
Die skemerkelkpartytjie is ’n goeie geleentheid om nuwe mense te ontmoet. Ek gesels met drie wonderlike vroue en gaan dan af na die Vault, die motormuseum in die kelder wat nie altyd vir besoekers oop is nie. Dit is nou spesiaal. Ek wil ’n foto neem vir sosiale media. Ek dra roomkleur en een van die ouer Ford-motors is roomkleur. Goeie keuse? Ek leun teen die kar aan en neem die foto. Toe begin wagte van oral in die museum in my rigting hardloop. Dit was asof ek ’n pistool uitgeruk het. Dit is soos ’n toneel in stadige aksie.
Ek leun terug teen die kar en wonder waarom almal so opgewonde is. Mense draai om en staar na die wagte wat in my rigting hardloop. Baadjies oop, dasse wat flap, vroue met hakke wat in verbysterende spoed na my toe hardloop. Ek kyk om. Waarheen is hulle op pad? Wat mis ek? Hulle gil, maar met al die chaos hoor ek nie wat hulle sê nie. Don’t touch! ’n Glansmens? Miskien een van daardie sangers met die vreemde naam? Moenie daaraan vat nie? O, dis ’n museum …
Die kar waarteen ek leun, kom uit die jare negentig. Jy mag kyk, maar jy mag nie daarteen leun vir ’n selfie nie. Ek is soos ’n stoute skoolkind wat met haar hand in die koekieblik gevang is. Ek ruk my hand terug en vra ernstig om verskoning. Die lewe keer terug na normaal, en die wagte besluit om verdere oortredinge van my kant te vermy en neem my op ’n persoonlike toer. Ek durf nie alleen gelaat word nie.
Ek skarrel terug boontoe vir die vertoning.
Stylvolle Porsches, mans in elegante Porsche-uitrustings. Ek hou baie van die ontwerpe (nie die mans nie, ek is gelukkig getroud, ek sien net die klere, verstaan …) Die uitrustings is so prakties. Elegant. Die materiaal is ’n kombinasie van fyn tekstuur en moderne weefwerk.
Die gehoor stap rond om die modelle. Ek doen my werk en dokumenteer hulle. Al is hulle so ernstig soos die wagte by die Buckingham-paleis, draai hulle soms om en flits ’n glimlag terwyl hulle sonbrille laat sak. Dit is pret.
Ons gaan sit vir die Escada-deel van die vertoning. Die uitrustings is kleurryk en pas los en gemaklik. Ek is in die voorste ry en sien alles van naby terwyl hulle tussen die klassieke Porsches deur stap.
Voor ek my kan kry, is die nag verby. Daar is vonkelwyn en geskenksakke op die daktuin, maar ek kan nie gaan nie. Môreaand eet ek saam met vriende en daar is nog avonture vir Sondag. Dit is wys om te groet. Ek kies koers na Los Angeles se sterbelaaide nag.