Deur Margaret Gardiner
Parys se modeweek. Klink dit nie net absoluut fantasties nie? Enigemand wat lief vir klere en die jongste modes is, weet dit is die hoogtepunt op die modewêreld se kalender. Dit is waar die grootste en talentvolste ontwerpers hul skeppings – wat eintlik maar elke kledingstuk is – vertoon.
Kom ons wees net duidelik oor een ding: Om die Parys-modeweek by te woon, beteken nie noodwendig jy gaan toegang daartoe kry nie. Jy moet jou naam op ’n lys sit en goedgekeur word om aansoek te kan doen. Jy moet ’n hotelkamer bespreek wat beteken jy kort ’n vlugkaartjie. Jy moet die hotel se ligging met die Fédération de la Haute Couture et de la Mode (wat die hele geleentheid oorsien) uitklaar voordat jy goedgekeur kan word. Hotelpryse styg en daarom is dit moeilik om plek te kry.
’n Retoervlugkaartjie in besigheidsklas kos jou rondom 10 000 dollar. ’n Baie eksklusiewe hotel het aan my ’n spesiale aanbod gemaak: Hulle het 920 dollar ’n aand gevra. Ja, dit was die spesiale prys vir mense in die binnekring. Ek het uiteindelik op ’n boetiekhotel met ’n tipies Franse atmosfeer besluit: ’n klein hysbak, langwerpige fenêtres wat so eie is aan Parys, en bewegende kunswerke buite my venster wat op ’n wit geverfde muur (vir bietjie privaatheid) oorkant afkyk en waarteen die wonderlikste kleure, soos die weer verander, weerspieël is.
Die Regents Garden-hotel in Astotel. Dit het gevoel soos een van daardie multiverdiepinghuise wat in ’n hotel omskep is. Dit het ’n klein ontvangslokaal gehad, ’n welige tuin wat geroep het om beleef te word, en vir die suikertande soos ek, ’n gratis bediening van Franse gebak en warmsjokoladedrankies elke middag om twee-uur.
Wanneer jou hotelverblyf eers bevestig is, word jy toegelaat om amptelik vir die FHCM (the Fédération de la Haute Couture et de la Mode) aansoek te doen en die inskrywingsfooi te betaal. Ons het nou natuurlik nog nie die maaltye en Uber-ritte ingereken om in die uitrusting van die dag (OOTD) by jou eindpunt aan te kom nie.
Wanneer jy in die voorste ry sit, beteken dit jy moet die klere aantrek van die ontwerper wat vertoon word. Influencers en bekendes stroom Parys binne. Die ontwerper hou eksklusiewe partytjies wat jou laat voel of jy pas binne ’n musiekvideo beland het: Almal lyk dieselfde en dra die gasheer-ontwerper se klere, en almal neem foto’s van hulself. Ja, dit terwyl jy aan Franse sjampanje teug en “nee, dankie” sê vir die heerlike uitvindsels wat die kelners met groot vermaak vir ons aanbied.
Dun is al weer in. Wanneer jy rondom normale mense is, is dit maklik om te vergeet hoe baie mense in die modewêreld ondervoed is. Natuurlik sit jy dan nie jou lippe aan die hors
d’oeuvres nie: Dit mag dalk net in jou tande vassit, jou lipstiffie beduiwel of aan jou heupe bly sit.
Een of twee modehuise het nogal ’n punt daarvan gemaak om erg oorgewig-modelle by hul vertoning in te sluit, maar dis sekerlik net so ongesond as om te maer te wees? Die meeste het egter ’n meisie of twee – meisies, ja, nie vroue nie – gehad wat duidelik aan wanvoeding gely het.
Dis die onding van dié hele affêre.
Die mode! O, die glansryke mode! Die innovering! Die kuns! Die absolute prag daarvan!
Die modeneigings begin nie eers om die welige materiale, keurige snitte en slim snyerswerk te beskryf nie. Kom ek gee ’n lys daarvan voor ek hulle elkeen bespreek: Handskoene, sokkies, hoëhakskoene, fyn bandjieskoene en ’n herlewing van die Mary Jane (wat met ’n bandjie oor die boog van die voet vasmaak). Die kleure, buiten wit en swart wat altyd staatmakers is, was neongroen, helder, vleeskleurig of soos melkerige koffie, en vir die wysstuk was die hoofkleur helderrooi of -geel Andrew Gn, Givenchy en Balmain. Die liggaam is met vloeiende materiaal in gewaagde satyn beklemtoon, of dis met uitknipsels, kant en deurskynende materiale afgewys.
’n Hele paar modehuise het rompe gewys wat deur die stywe balletrompie geïnspireer is. Dié het soos ’n koponderstebo-teekoppie gelyk: ingetrek by die middel en kring met ’n boog weg van die lyf om die bene daaronder te wys. Dior het dié uitrusting afgerond met kniekouse en hoëhakskoene (met bandjies) wat tot by die kuite kom en kant is gebruik om dramatiese aandrokke en kortgeknipte kortbroeke, hempies, rompe en iets wat lyk soos ’n hemp te maak. Dior se hoofkleurskema was swart, wit en roomkleurig.
Chanel het handskoene gewys saam met visnetkouse wat tot bo die bobeen kom en lae hakke met ’n vierkantige boog en hul kenteken daarop. Die afskouer-mou is iets wat by menige modehuis voorgekom het.
Elie Saab het ’n skel lemmetjiegroen vertoon wat in heelwat versamelings voorgekom het. YSL het ’n lang, lenige silhoeët saam met ’n oorgrote jas wat tot by die vloer hang en by die skouers opgestop is, gevoeg. Daar was ook kappies en hoodies. Die vertoning was pragtig – en prakties – behalwe vir die deurskynende materiaal. Jy kon jouself geld spaar en maar net jou huis in jou onderbroekie verlaat – dit sal dieselfde effek hê.
Dis verbasend hoe gewild deurskynende materiale deesdae is. Die rooi tapyt is omtrent vir ’n paar maande lank daarmee oorgeneem – eers was dit net ’n sinspeling, toe word die hele romp of bolyf ontbloot, soos met ’n kantbloes of so. Ek het dit ook al gedra. Nou is dit onderklere en gekleurde deurskynende materiaal sonder ’n bra. Ek het een so ’n uitrusting die naweek op die rooi tapyt gesien en dit was nie mooi nie. Dit sal interessant wees om te sien hoeveel bekendes dié gier navolg wanneer die toekenningseisoen op 10 Januarie met die 80ste Golden Globes afskop.
Buiten die oormatige ontbloting, het die glansryke en fabelagtige week van sag glinsterende materiaal, innoverende skeppings en skoonheid my behoorlik tevrede laat sug toe ek aan my sjampanje gesit en teug het, terwyl die Eiffel-toring in my vliegtuig se venster verdwyn.
Volg Margaret op Instagram en Facebook!
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met 2 Brunettes on a Budget