Margaret gesels met Dwayne ‘The Rock’ Johnson oor Jumanji, ouerskap, en waar hy hemde vind deur Margaret Gardiner
Ek is in ‘n mediakonferensie met Dwayne “The Rock” Johnson, en hier is ‘n tong-in-die-kies bekentenis: ek weet dat as vroue nie wil hê hulle lywe moet bespreek word nie, behoort ons seker ook nie oor mans se liggame te praat nie.
Maar Dwayne Johnson het nou net sy elmboog op die tafel gesit en sy kop op sy kneukels laat rus, en sy bultende bo-armspier het soort van die son uitgeblok. Dis groter as my bobene! Wag, ek het maar dun ou bobeentjies – dis groter as my middel! Ek jok nie vir julle nie! Nee wag, eintlik is dit min of meer die grootte van my heupomtrek, en ek het nogal heupe.
Om die voormalige voetbalspeler en professionele stoeier (hy was bekend as The Rock) in persoon te sien, laat mens wonder: hoe kry hy klere? Voeg daarby sy manier om met homself te spot en sy opregte erns, en jy kry presies die teenoorgestelde van die stereotipiese spiertier-aksieheld.
Ons gesels as deel van die bemarkingsveldtog rondom Jumanji: The Next Level.
Ek het nie juis belang gestel in die Robin Williams-fliek wat gelei het tot die reeks nie, en toe ek ‘n uur en ‘n half ver moes ry (in spitsverkeer) om by die Sony-ateljees na die nuwe fliek te gaan kyk, was ek allermins in ‘n goeie bui.
En daar is Jumanji: The Next Level presies die regte medisyne vir spitsverkeer!
Dis ‘n bietjie meer as wat verwag en presies wat jy begeer as jy ‘n Jumanji-aanhanger is – lig, met baie gelag en ‘n fantastiese aksietoneel met ape en brûe. Hierdie toneel was volgens die sterre van die fliek – Karen Gillan, Kevin Hart, Jack Black, Danny DeVito, Danny Glover, Awkwafina en Nick Jonas – die heel moeilikste om te verfilm.
Die kinkel in die kabel in hierdie Jumanji-fliek is dat die karakters – anders as in die vorige rolprente – heel gewillig deelneem aan die speletjie. Maar hulle het meer struikelblokke om te oorkom. Dis ‘n prettige affêre waaroor die akteurs self ook nie uitgepraat kan raak nie. Dis duidelik dat hulle ook baie van mekaar hou.
Wat ons bring by Dwayne Johnson… Hier is sy antwoorde op ‘n paar van my vrae.
Een van die interessantste aspekte van die storie is die aanvaarding van ‘n mens se liggaam, met al sy swakhede. Was jy nog altyd tuis in jou vel?
Nee, ek was nie. Soos ‘n klomp mense het ek maar gesukkel om my plek te vind, veral toe ek Hollywood betree het. Dit was ‘n groot uitdaging. Ek het hier aangeland met ‘n fanfare met The Scorpion King en kon darem my naam vestig. Maar dit het tyd geneem om presies uit te werk wie ek is en om my voete in Hollywood te vind.
Maar tuis in my vel? Ek het daarmee ook gesukkel – ek dink as tiener doen almal maar.
Het mense jou swakhede aan jou uitgewys, want ek dink nie ons doen dit aan onsself nie?
Soos wat ek ouer word en die oorgang na Hollywood probeer maak het, het ek my al hoe meer vasgeloop in die vraag: “wat is jou doelwitte?” Dan sou ek vertel wat my doelwitte alles is, maar op daardie stadium was daar nie ‘n bloudruk vir ‘n professionele stoeier wat half-swart, half-Samoaans was en boonop ‘n snaakse gesig kon trek met ‘n halwe wenkbrou nie. (Hy lag.)
Dan was die reaksie: “Oukei, wel, as dit jou doelwit is …”
As jou doelwit was om darem ‘n lang loopbaan te hê, was daar baie jy-kan-nie’s. Jy kan nie hierdie naam hê nie, jy kan nie hierdie grootte wees nie, jy kan ‘n klomp dinge nie doen nie … Daarom moet jy verander. So, daardie goed is vir my uitgespel.
Dikwels – as ‘n mens probeer uitvind wie jy is en waar jy inpas, veral in Hollywood en in hierdie bedryf – koop jy nogal in op daardie soort raad, nes ek vir ‘n rukkie gedoen het. Tot ek besluit het ek gaan dit nie langer doen nie.
Hoe motiveer jy jouself? Het jy lui dae? En hou mevrou Johnson daarvan om saam met jou te oefen?
(Hy lag.) Natuurlik het ek lui dae! Ek dink almal het. Toe ek jonger was, sê maar in my twintigs, het my lui dae dalk net ‘n paar uur geduur voordat ek gedink het ek moet eenvoudig deurdruk, maar soos wat ek ouer word, besef ek lui dae is eintlik my lyf se manier om te sê ek moet dalk ‘n blaaskans neem. Ek het ‘n punt bereik waar ek na my lyf en my energievlakke luister. Gewoonlik gebeur lui dae omdat ek moeg is en besef ek is moeg.
En ja, mevrou Johnson en ek hou daarvan om saam te oefen. Vir my is dit ook ons wegbreektyd – ons het ‘n huis vol babas en diere (lag). Ons doen ander dinge ook om ‘n bietjie weg te kom, maar gym is baie pret.
Het jy ooit die vlam in jou lewe gevolg, en het jy goeie instinkte as dit by die liefde kom?
Ek volg daardie vlam gedurig, want ek is verlief op die liefde. Het ek goeie instinkte as dit by die liefde kom? Ek dink nogal so, ja, al is ek geskei en weer getroud. Ek dink dis omdat ek verlief is op die liefde. Ook omdat ek nie een is wat in dinge instorm nie. Ek was byvoorbeeld 12 jaar saam met my vrou, Lauren, voordat ons getroud is – dis hoekom ek terapie nodig het. (Lag). Maar ja, ek dink ek het goeie instinkte as dit by die liefde kom.
Jy het vroeër van kinders en babas gepraat. Geniet jy vaderskap, en hoe ‘n soort pa is jy?
Ek hou regtig daarvan om ‘n pa te wees. Ek dink ek het ‘n uitdagende verhouding gehad met my eie pa, maar hy het op sy beurt ook maar ‘n uitdagende verhouding met sy pa gehad. So, ek weet hy het my binne sy vermoë liefgehad, maar dit was steeds ‘n taamlike uitdaging vir ons. Dit was dus my voorbeeld.
Toe ek ouer word, kon ek nie wag om ‘n pa te word nie. En toe ek eers ‘n pa is, het ek besef daar is ‘n verskil tussen ‘n biologiese pa en ‘n regte pa, en dit was die oomblik toe ek dit aangegryp het en regtig daarvan begin hou het.
Ek het net vroumense in my lewe en is deur vroue grootgemaak, so ek is omring deur die estrogeen. Die enigste ander stukkie testosteroon in die huis is my hond. Maar ek het ‘n dogter van vier en ‘n dogter wat oor omtrent vyf maande twee word, so, dis net verskillende stadiums en ouderdomme.
En hulle is steeds my grootste bronne van inspirasie en liefde en my grootste opvoeders. Ek leer aanhoudend.
En is ek ‘n goeie pa? Ek dink ek is.
Jy is ‘n simbool van dissipline. Nou wonder ek of jy ooit fantaseer oor eet en drink en alles?
Wel, ek dink ek hoor wat jy my vra. Ek fantaseer oor ‘n klomp goed (hy lag), maar kos is nie een van dit nie. En ek drink ook (en soms te veel) tequila.
En nou vir die ernstige vraag. As die moderedakteur van GoldenGlobes.com en as ‘n groot vrou wat sukkel om klere te kry wat my pas, wou ek al sedert ons eerste paar woorde vir jou daaroor vra.
(En toe haal ek diep asem en storm in waar engele huiwer om te vlieg…)
Dis vir my moeilik om klere te koop. Hoe werk dit vir jou? Gaan jy vir armgrootte? En hoe pas dit?
Dis ‘n goeie vraag. Ek het ‘n wonderlike stilis, en ons praat gewoonlik met die ontwerpers. Alles is pasgemaak. Soms kry ek groter klere iewers van die rak af te koop, en dan vat ek dit dadelik. Ek dryf my stilis soms na waansin, want my gewig klim en val afhangende van ‘n rol. Die pakke klere wat ons byvoorbeeld vir hierdie publisiteitstoer laat maak het, sal ek waarskynlik nie oor twee maande kan dra nie.
Volg gerus Margaret se blog vir rooi rose waar sy ons vertel oor haar interessante en besige lewe. Jy kan haar ook volg op Instagram, facebook, twitter en haar YouTube-kanaal waar sy met bekendes gesels – dis als gratis om haar te volg.