Margaret se Wêreld: Ope brief aan rooi rose-lesers oor die kankergewas op my neus deur Margaret Gardiner.
Brief aan rooi rose-lesers
Liewe rooi rose-lesers
Van julle weet dat ek onlangs geopereer is om ʼn kankergroeisel op my neus te verwyder. Ek het rooi rose se redaksie gevra om steeds “Margaret se Wêreld” soos beplan te publiseer sodat julle kan lees watter avonture ek beleef het voor ek geopereer is. Ek deel ook al die emosies wat ek by die aanhoor van die nuus ervaar het.
Ek sal voortgaan om my wedervaringe op hierdie forum te deel, want dalk help dit ander met die uitdagings wat hulle in die gesig staar. Soms help dit om te weet hoe ander hul vrese oorwin het. Dit maak ’n mens dapper. En hopelik herinner dit almal daaraan dat ons ons vel moet beskerm.
Die operasie is agter die rug. Ek is so gelukkig, want die letsel is beperk tot my neus. Ek het nog verbande op, so ek weet nie hoe hulle die wond toegemaak het waar hulle die kanker uitgesny het nie.
Ek is gelukkig. Ek is dankbaar. Ek sal dit met humor hanteer en by die nuwe ek aanpas.
As ek dink aan al die dinge wat kon gebeur het, is ek dankbaar en gelukkig. Dankie vir al die ondersteuning, wense en gebede. Ek het reeds met die HFPA-gala vermoed ek het kanker en die biopsie was geskeduleer. Dit is hoekom die letsel op my bors heeltyd in my gedagtes was.
rooi rose sal die blog plaas wat ek voor die operasie geskryf het en net toe ek bevestiging gekry het dat ek kanker het. Ek sal volgende skryf oor my herstelpad. My avonture sal voortgaan, maar hulle sal korter wees om my neus kans te gee om te herstel. Die lewe gaan aan. Ek sal aanhou probeer om positief te leef en om die ironie te deel wat deel van die lewe is. Dankie vir julle ondersteuning.
Margaret
Soms wil jy net weghardloop …
As mense die nuus oordra dat jy kanker het, gebruik hulle nooit die woord “kanker” nie. Hulle praat in stadige, rustige stemme. Hulle bel jou en stuur nie ’n e-pos nie. Ek het deur die jare geleer dat dit nie ’n goeie ding is as ’n dokter jou herhaaldelik probeer kontak nie.
’n Paar weke gelede het ons gesin my seun se tuiskoms en die begin van sy nuwe loopbaan gevier. Ons selfone was afgeskakel en ons het onsself geniet. Later het my man gesê: “Ek het ’n boodskap gekry dat jou dokter jou in die hande probeer kry.”
Ek het ’n paar dae tevore ’n biopsie gehad maar het met die vreugde van die weersiens daarvan vergeet. Ek het dadelik my foon aangeskakel. Vyf boodskappe. Ek het gewéét. Ek het eintlik al geweet toe ek dokter toe is om die puisie langs my neus te behandel. Die puisie het die afgelope twee jaar al erger geword. Ek kry nie puisies nie. Selfs toe ek jonk was, het ek min puisies gehad. Ek onthou hoe ’n verslaggewer wat ’n onderhoud met my gevoer het toe ek 17 was, opgemerk het dat ek een puisie het. Dit is dus op rekord.
Ek gaan nie vir gesigbehandelings nie, my vel was nog altyd perfek. Maar twee jaar gelede het ek op ’n dag besluit dis nou tyd vir ’n behandeling. Die vrou het ’n puisie op my neus uitgedruk net toe ek aan die slaap raak. Dit was vrek seer en ek het haar gevra om te stop. Toe ek by die huis kom, was die plek gekneus en stukkend. Dit het my finaal oortuig dat ek nie gesigbehandelings nodig het nie.
Die plek het genees, maar ’n maand later was dit weer seer en die puisie het groter gelyk. Wat gaan ek doen? Dokter toe gaan en sê “Ek het ’n puisie”? Dit het ydel geklink. Baie mense het baie erger goed in hul lewe. Ek het die plek met grimering toegesmeer en met my lewe aangegaan.
Die seerplek het die afgelope ses maande begin bloei wanneer ek stort en ek het gedink dit het met reiniging te doen. In Augustus het dit ’n roof geword wat gebloei en toe afgeval het. Maar mense het die plek begin raaksien en kommentaar gelewer daarop – hulle het gedink ek het ’n neusring laat inskiet. Uiteindelik het ’n alarm in kop afgegaan. Ek is na ’n dermatoloog toe wat die puisie kon behandel. Sy het ’n biopsie voorgestel, maar ek het haar gevra om net die dekselse puisie te behandel. Sy het vasgeskop en gesê ons moet liefs eers weet wat dit is voor ons dit behandel, want as dit ’n baselselkarsinoom is … Ek het ’n naar gevoel op my maag gekry. Ek het toe vir seker gewéét. As ek baie kwaad of bang is, huil ek. Ek het gevoel my oë skiet vol trane, maar ek het geweier dat hulle rol. Ons het ’n afspraak vir die volgende week gemaak, want ek moes die Golden Globes bywoon. Dié van julle wat my bydrae daaroor gelees het, weet hoe dol dit daardie aand gegaan het. Ek het toe al geweet, maar wou my aand geniet.
Die dermatoloog het die biopsie die Maandag gedoen. En Dinsdagaand het sy my probeer bel. Ek het teruggebel. Geen antwoord nie. Ek het twee uur lank probeer. My man was radeloos van kommer. Ek was vreesbevange, maar ’n klein stemmetjie het my probeer oortuig dat sy my gebel het om te sê alles is oukei.
Sy het later ’n boodskap gestuur dat sy in ’n vergadering is en later die aand sal bel, as ek wil, of ek kan haar die volgende oggend bel. Uhm. Nóú, asseblief. Dadelik. Enige tyd. Ek sal wakker wees. Ek sal nie nou maklik kan slaap nie.
Om 10h30 bel sy. Ja. Kanker. Op my neus. Ek het die nuus vir my gesin vertel. My man wou iets kry om mee te gaan oorlog voer. Ja, ek ook, maar niemand het dit aan my gedoen nie. Daar was nie ’n manier dat hy ’n fort kon bou om my te beskerm nie. Hy wou met die inligting veg en stoei, en aan die uitdrukking op sy gesig kon ek sien sy hart breek vir my. My seun het my met sy volle ses voet ses duim omhels.
Ek het vir my susters boodskappe gestuur. Hulle het geweet wat ek vermoed. Ek het dit laat in Julie vir hulle vertel toe ek Mej. Filippyne beoordeel het. Ek het gaan slaap. My liggaam het net afgeskakel. ’n Manier om die trauma te verwerk.
Toe ek vieruur wakker word, was my susters reeds op pad werk toe … duisende kilometers van my af. Sandy het saam met ’n dokter gewerk wat in dié goed gespesialiseer het. Bev is met ’n dokter getroud, en hulle het met topmense gaan praat. Hulle het my lief. Die nuus? Doen dadelik iets daaraan. En dit sal ’n klein letsel op die wang laat. Dit is waar hulle die vel neem om op jou neus te sit. Jou gesigstruktuur kan verander. Jou neusgate kan insak …
Wat ek wel weet, was dat hulle met die biopsie nie die basis kon bereik nie, want dit was te diep. Die jaar en ’n half waarin ek gedink het dis te ydel om ’n puisie te laat behandel, het dit verwoed gegroei.
My Suid-Afrikaanse wortels het ingeskop. “Ek kan leef met ’n klein letsel. Ek leef met ’n groot letsel waar hulle die gewas in my borskas verwyder het. Maar hierdie een is in die middel van my gesig, en soos die dokter gesê het, ek het ’n baie klein neus.
Wat hulle ook al doen … wel, jy kan dit vir jouself uitwerk. Ek moes my op die ergste voorberei. Hoop op die beste. Nou weet julle hoekom die letsel op my bors my gedagtes met die Golden Globes-gala-aand oorheers het.
Dit was nog nie agtuur nie. Te vroeg om die dokter te bel. Ek maak my e-pos oop. Daar is ’n uitnodiging uit Suid-Afrika vir ’n groot en eervolle toekenning. Ek sal die geleentheid einde September moet bywoon. ’n Openbare geleentheid. Baie pers. Ek het gelag. Almal wat my blog lees, weet as daar twee goed gelyk in my lewe gebeur, probeer ek altyd om albei te doen. Ek probeer altyd om dit met humor te hanteer deur stories daaroor te vertel. Maar hierdie een? Dit was ironies.
Dit is ’n groot eerbewys, en ek wil dit graag ontvang. In ag genome wat ek deurgemaak het as die eerste Suid-Afrikaanse wenner van die Mej. Heelal-kompetisie. Dit was ’n veelrassige kompetisie en daar was kritiek teenoor die Mej. SA-wedstryd omdat net een ras kon deelneem. Daar was internasionale woelinge gedurende my jaar omdat ek ’n Suid-Afrikaner is, met etikette wat nie regverdig was teenoor my nie. Ek het nie doelbewus die slegs blanke Mej. SA verkies bo die veelrassige Mej. Republiek van Suid-Afrika nie. Dit alles is deel van die stof van wat verby is, en is nooit verstaan nie. Baie mense van kleur het my verteenwoordiging van my hele land misken, en hulle het aannames oor my gemaak. Met my onlangse insluiting in die Mej. SA-reünie as voormalige Mej. Heelal was die boodskap duidelik dat hoewel ek my land verteenwoordig het, ek nie ’n Mej. SA in my land was nie, ek was net een buite die grense van my land. Dit is hoekom die toekenning vir my saak maak. Ek het die hele land verteenwoordig. Asof iemand verstaan hoe dit voel om 18 jaar oud te wees en sonder voorbereiding op die balanseertou te loop – tydens die internasionale, sosiale en politieke gebeure van die tyd. Ek wil die toekenning ontvang vir al die mense wat my onvoorwaardelik ondersteun het in die omstandighede. Vir hulle wil ek graag sê: “Ja, ek sal dit bywoon.”
Maar hoe ontvang jy ’n toekenning wat aan jou skoonheid verbind is as jy ’n geskende gesig het – dis nou as die slegste scenario gebeur?
Ek het vir myself gelag by die gedagte aan die foto’s van my op die Internet, en die idee van iemand wat pas opgesny is en ’n toekenning as voormalige skoonheidskoningin op ’n verhoog ontvang. Ek het geen idee gehad hoe sleg ek gaan lyk, en of ek sal kan reis nie. ’n Klein stukkie van my het gebreek. Ek moet erken, ek het ook ’n bietjie gehuil. Dit is nie goed as jy ’n biopsie op jou neusgat het wat net ’n halwe sentimeter wyd is nie. Dit is nie maklik om jou neus te blaas nie. Ek het gelag en myself die bietjie selfbejammering vergewe. Soos hulle by die Golden Globes sê, “dit was ’n eer om in ag geneem te word.” Ek het myself toegelaat om die idee te geniet en my gedagtes het na die beste scenario gegaan, en hoe ek dit in my skedule sal kan inpas. Wat ek sal sê, die glimlag. Die idee …
Ek het my kalender oopgemaak en lysies gemaak van alles wat ek moes bywoon; glansgeleenthede wat ek moes kanselleer. Selfs in die beste scenario word voorspel dat dit ses tot agt maande neem voor die letsels sal verdwyn, en ek het geen idee gehad hoe die letsels sal lyk nie. Alles het nog voorgelê. Daar was te veel onbekende faktore. Ek moes besluit. Ek het die e-pos gestuur. Ek sal nie die geleentheid aan die einde van September kan bywoon nie. Party mense sal sê ek is ’n lafaard of ydel, maar op daardie presiese oomblik het ek nie die moed gehad om die wêreld met ’n geskende gesig in die oë te kyk nie.
Ek sit dit, en die ander dinge wat gaan verander, uit my kop. Ek het die foon opgetel en die verpleegster gebel wat die operasieskedule opstel. Ek het gesprekke begin met die stringe dokters wat ek nog moes spreek om my delikate neus ná die operasie reg te maak. Ai, as ek met ’n groot neus gebore was, sou dit blykbaar makliker gewees het. Ek lag maar net. Wees versigtig vir wat jy wens, want jy weet nooit wat jou omstandighede gaan oplewer nie.
Bly ingeskakel.
As jy meer oor Margaret se lewe wil leer, lees gerus haar blog vir rooi rose.
Hou ook vir Margaret dop op sosiale media. Volg haar op facebook en Instagram.