Foto’s en teks: Margaret Gardiner
Dit is ongelooflik hoe die liggaam kan aanpas: Verlede week was ek in Boston en Los Angeles, hierdie week is ek in Cannes, volgende week is ek in Los Angeles en Suid-Afrika. Drie dae na ’n vlug ervaar mens die ergste vliegvoosheid. Jy begin eers teen die vierde dag aanpas. My liggaam dink nou vier uur slaap per nag is genoeg. Ek en my lyf het gewoond geraak aan dié tempo. Twee flieks in die oggend. Dan skryf ek my artikels.
Ek is op pad na die onderhoud met Spike Lee, regisseur van BlacKkKlansman. Ek het ’n ernstige onderhoud beplan oor die rasseverhoudinge en Trump, maar Spike gesels voort oor die eerste keer wat hy saam met die seun van Denzel Washington, John Davis Washington, in Malcolm X gewerk het. Die onderhoud gaan ook oor Spike se klerekeuses. Ek besluit dus om dit te redigeer en op my youtube-kanaal te plaas.
Die onderhoud is buitekant en dit is baie koud. Ons is reg langs die teater waar die première van Solo: A Star Wars Story, gehou gaan word. Ek is dus geklee in ʼn swart uitrustinkie, pêrels en plat skoene. Slegte keuse. Die wind het ’n hap soos die Kaapse Suidooster en ek is bly ek het warm klere in my sak.
Teen die einde van die onderhoud is ek toegedraai in ‘n kombers, met ’n parka en ’n serp. Baie beter.
Met die 5-minute waarskuwing, wikkel ek my uit my kokon. Teen die tyd dat die onderhoud verby is, lyk my hare soos slierte en my neus is rooi.
My plan om rustig by die hotel te wag vir die première is daarmee heen.
Die gaasrokkie wat ek vir die aand beplan het, word eenkant toe gegooi. Ek is terug by my keuse van ’n trui, aandpak en pashmina.
Ek moet die kilometer terug na my woonstel hardloop, aantrek, en vinnig terughardloop na die Grand Théatre waar die première plaasvind. Twee kilometer in twee verskillende uitrustings! Dan verwag hulle ek moet glansryk lyk as ek daar aankom… Ek gee oor en is bly ek is gemaklik en warm.
Solo: A Star Wars Story, se voorskou was ’n gesogte uitnodiging. Die skare is opgewonde en die filmspan het ’n goeie keuse gemaak deur jonger weergawes te kies van die karakters wat ons in Star Wars flieks leer ken het.
Na die fliek stap ek vinnig die kilometer langs die waterfront na die Star Wars partytjie.
Die sekuriteit is soos niks wat ek voorheen in Cannes gesien het nie. Die Croisette is gesluit en daar is omtrent vyftien mense agtermekaar gepak by elke versperring.
Rye kronkel langs die sypaadjie en ons moet deur metaalverklikkers gaan – soortgelyk aan die waardeur mens gaan as jy op ’n vliegtuig klim.
Intussen beweeg die sterre deur die massas skreeuende mense. Kyk na my instagram om Emilia Clark van Game of Thrones te sien arriveer. Ek probeer om buite te bly om hul aankoms vir jou, die rooi rose-leser, af te neem, maar ek het ook ’n bus wat op my wag om my na die Gotti-partytjie te neem. Gerugte vertel dat 50 Cent daar gaan optree. Ek is verdeeld. Ek wil albei doen!
Ek het al ’n paar keer onderhoude met die sterre gedoen, maar ek het nog nooit 50 Cent sien optree nie.
Ek het ’n jong Suid-Afrikaner uit Kaapstad as my gas genooi: Ayanda Duma. Sy werk tans aan ’n draaiboek wat baie snaaks klink. Ek het haar ontmoet eers nadat ek my kaartjie by Star Wars gekry het en ek kon haar nie daarheen nooi nie.
Ek beweeg deur die versperrings en druk by die ry in (in die naam van verslaggewing, natuurlik). Ek neem ’n paar foto’s en gaan soek haar buite die Carlton. Maar daar is geen Ayanda nie. Ek kry die voertuig wat ons na Antibes en die partytjie moet neem. Geen Ayanda. Ek laat haar weet waar ek is. Sy laat weet waar sy is. Maar ons kan mekaar nie vind nie.
My vriende arriveer en die bestuurder sê dit is ongelukkig tyd om te gaan. Ons wag nog ’n paar minute. Ek weier om sonder haar te vertrek. Ek klim uit die motor om sein te kry om haar WhatsApp-boodskappe te probeer ontvang. Ek verduidelike tree vir tree hoe om my te vind. Op dieselfde oomblik wat ek na die hotel kyk, kyk sy by die venster uit. Sy is binne en ek buite! Ek wuif en wanneer sy by my aankom omhels ons mekaar soos familie. Ons hardloop na die kar en dit zoem weg en binne ’n halfuur kom ons by die Hôtel Du Cap aan. Dis een van die bekendste hotels in die wêreld: Luuks en eksklusief.
Ek het sedert 11 uur nie geëet nie so toe het ek gou ’n broodjie met tamatie, blaarslaai en jambon (gerookte ham) gehad. Ek kan nie wag om te eet nie. Maar nee, dis te laat en die meeste mense het klaar tyd gehad om te eet. Hulle bedien petit-fours. Ek is ’n groot Suid-Afrikaanse meisie: Ek het kos nodig. Die kelnerinne besef ek gee ’n maklike ‘’ja’’ vir vrae. Wil mevrou nog ’n sjokolade bonbon neem? Mais, oui. Certainement!
Ayanda en ek kyk hoe John Travolta die skenking ontvang wat die HFPA hom gegee het vir sy liefdadigheidsorganisasie en hy word vereer met die Cinema Icon-toekenning.
Dan verskyn 50 Cent. Die patio is oop onder die aandlug want dit het 30 minute vroeër gereën. Die skare druk vorentoe en Ayanda staan vas. Ons is weer voor! Hy voer al sy klassieke treffers in ’n 30 minuut-lange konsert op. Ja, ek is ‘n feminis. Ja, sekere subgenres van rap is bekend vir slegte taal en misoginie. Maar 50 Cent is een van die ikone. Hy is ook ’n vervaardiger en akteur en hy het gegroei sedert hy ’n straatkunstenaar was wat geskiet was. Ek is 58 jaar oud en dans op die Franse Riviera. Kan dinge meer perfek wees?
Ja, dit kan.
John Travolta verskyn op die verhoog en dans saam.
Ek het dit ook op Instagram geplaas. Let wel, as jy kyk, wees bedag op sy gekruide taal. Maar jy sal John sien dans! Dit is die moeite werd.
Dit is twee-uur die oggend en ek is gereed om bed toe te gaan. Ek neem ’n foto van Ayanda op die rooi tapyt en ons ry langs die donker oseaan terug na Cannes,
Nog ’n gewone aand in Cannes …
Om nog foto’s te sien en om op hoogte te bly, volg gerus vir Margaret op Instagram by @margaret_gardiner en facebook by @margaretgardinerofficial
Lees ook: Margaret se Cannes-dagboek: Dag 1
Margaret se Cannes-dagboek: Dag 2
Margaret se Cannes-dagboek: Dag 3