Foto’s en teks: Margaret Gardiner
Dis dag vyf en ek begin sing-sing akklimatiseer. Ek het vier ure se slaap ingekry en was vanoggend nà ’n vinnige fliek terug in my kamer om te werk. Nou gaan ek weer uit om ’n private geskenkkamer te besoek. Hulle het wonderlike produkte: Lipstiffie wat by jou natuurlike lipkleur aanpas, ’n visgraat-halssnoer en iets waarvan ek regtig hou: Dis ’n lens wat as ’n halssnoer gedra word. Wanneer jy dit nodig het, kan jy net die lens lig en dan is dit soos ’n bril. Subtiel en effektief.
Dit reën steeds gedurende die middag, maar nie met die storms en intensiteit van gister nie. Ek draf spat-spat na Plage 45 vir middagete saam met Ben Foster, wie se rol in Leave No Trace saamgeval het met sy ontdekking dat hy pa gaan word. In die film beeld hy ’n man uit wat sy dogter buite die samelewing se norme grootmaak. Hy sê hy het die geleentheid gebruik om vaderskap te verken, en dat sy dogter, nou een jaar oud, sy lewensuitkyk verander het.
Hoewel die reën alles deurdrenk, is die uitsig uit die restaurant oor die oseaan en wit strande asemrowend saam met ’n middagete van eksklusiewe wilde groente, opgedien saam met perfek geroosterde beesvleis en kapokaartappels wat glad en romerig is en hemels proe.
Dit reën nog wanneer ek na die Carlton Hotel se Penthouse gaan om ’n onderhoud met die beroemde John Travolta te doen. Hierdie man skitter en is die liefde vanself. Sy seun loer deur die groot venstermure vir ons en hy vestig die pers se aandag daarop. Benjamin het blonde hare soos sy ma, maar die liggaamsbou van sy pa. Hy verdwyn dadelik as hy agterkom dat die aandag op hom gevestig is.
John lyk wonderlik in ’n blou en wit kombinasie en dit lyk of hy pas uit ʼn fotosessie vir GQ gestap het. Hy poseer geduldig vir foto’s teen die agtergrond van Cannes, en elke vrou hier raak weer ’n bietjie verlief op hom. Hy het charisma sonder om te probeer. Kelly Preston het vertel dit het haar aanvanklik gepla dat vroue hulle letterlik voor John neergooi, maar hy het aan haar verduidelik dit is deel van sy werk. Nou geniet sy dit om te sien hoe mal vroue oor hom is. Die son verskyn kortliks deur die reënwolke net vir John en saam met hom sprankel Croisette.
Ek keer terug na die woonstel om vinnig ander klere aan te trek vir Spike Lee se verwagte BlacKkKlansman-première. Met my aankoms by die rooi tapyt sien ek hoe Alessandra Ambrosio arriveer. Daarna is daar vir my gevra om vir foto’s te poseer. Vir praktiese redes het ek in ’n aandpak en ’n warm trui aangetrek aangesien dit nog reën. Ek glimlag vrolik want ek kan nie glo dat iemand my in my huidige kleredrag kan herken nie en ek wonder hoe die foto’s glansryk sal kan lyk want ek dra plat skoene en het ’n kombers en sambreel in my ontwerper-sak sodat ek myself in die teater gemaklik kan maak.
Spike kry ʼn tien minuut-lange staande ovasie vir sy rolprent. Ek is verbaas oor die hoeveelheid humor waarmee die internasionale gehoor gereageer, aangesien baie van die grappies verwys na Trump se standpunt oor ras en politiek.
Ek beweeg deur die sterre om my gesig ’n paar minute by die partytjie na die première te wys. Ja, regtig. Maar warm kos, sjampanje en stukkies geselskap verraai ek staan langs Suid-Afrika se eie Ayanda Duma, wie se werk pas as loodsing vir ’n televisiereeks opgeneem is. Ons gesels 20 minute voordat ons besef dat ons beide Suid-Afrikaners is en dat ’n voormalige Mej. SA voorgestel het ons probeer mekaar vind. Na middernag keer ek terug na my woonstel. Dit is wonderlik om Suid-Afrikaners in die chaos van Cannes te vind.
Om nog foto’s te sien en om op hoogte te bly, volg gerus vir Margaret op Instagram by @margaret_gardiner en facebook by @margaretgardinerofficial
Lees ook: Margaret se Cannes-dagboek: Dag 1
Margaret se Cannes-dagboek: Dag 2