Foto’s en teks: Margaret Gardiner.
Is dit al dag vier? Ek is nie meer seker nie. Ek het tred met die tyd verloor.
Die wekker lui om sesuur. Ek spring uit die bed. Die dagbreek is lieflik en ek wil dit vasvang, maar ek het artikels om te skryf en laat maar die dagbreek en nuwe dag toe om oor my te spoel. Ek dra dit in my hart, maar laat nie toe dat dit my aandag aflei nie.
Om agtuur het ek twee vertonings wat ek wil bywoon. Een is ’n rolprent oor Koerdiese vroue wat as seksslawe gevang is, ontsnap het en aangesluit het by die vegters teen ekstremisme. Dit klink neerdrukkend maar dit is nie. Die regie is deur ’n vrou behartig en saam met die uitbeelding van die harde werklikheid, brutaliteit en oorlog, is daar ook skoonheid en die tyd gaan vinnig verby.
Terwyl ek die teater verlaat, word die oggendson uitgewis deur reën. Ek dra pienk jeans, ’n wit top en my gunsteling-sandale. Ek gaan die Dior-grimeerkunstenaar besoek want ek wil mooi lyk. Ek moet ook ’n onderhoud met Saoedi’s doen en het ’n lang serp by my om om my te drapeer vir die onderhoud. Die weer verander en dit donder en blits om my terwyl die wind waai. My sambreel word omgekeer en my langbroek en top klou nat aan my lyf. So kan ek nie mense ontmoet nie, veral nie die Saoedi-Arabiese Filmkommissie nie. Ek is vasgekeer in die lugversorgde vertrek en besef dat as ek hier bly sal ek siek word. Ek gaan buitentoe en trotseer die stormwinde. Ek voel soos ’n klein dogtertjie in die Kaap van Storms en dink: Margaret, jy is in beheer van hierdie situasie. Ek vra ’n vreemdeling om my af te neem en hardloop kaalvoet na my woonstel. Ek probeer myself warm maak want ek is koud tot in my spiere. Genadiglik raak ek aan die slaap.
Drie uur later word ek ’n bietjie gedisoriënteerd wakker. Ek gaan na ’n private suite waarheen ek genooi is. Daar is eksklusief en dan is daar Su-perrrrr eksklusief – uitgespreek met ’n Franse aksent. Die hotel is afgesper en mense wag in ’n massa om te sien hoe die glansrykes met donkerbrille in duur motors klim en verbyry.
Die sekuriteitsmanne maak vir my plek en ek bereik die ontvangsarea wat afgesper is deur ’n fluweeltou aan weerskante waar die skare besig is om saam te drom. Daar is ’n sentrale area waar mense voor flitsende kameras verbystap, geklee in aandrokke met kralewerk wat die glans vasvang en hul rokke voor die kameras se ligte laat skitter. Alles is wit. Ek stap die trappe uit waar nog ’n stel wagte mens inwag. Ek wys my identiteitskaart en kry toegang tot ’n kamer vol juwele – amper soos in ’n museum. Die juweelstukke het reusagtige edelstene en net mense met handskoene mag daaraan raak. Met my beseerde arm sal ek sekerlik nie van die stukke kan oplig nie! Massiewe smaragde, robyne van ’n diep rooi die grootte van ’n teelepel in diamante geborduur …
Ek kyk rond en besef almal is geklee in eksklusiewe ontwerpersklere waarvan die koste ’n familie se voedselbegroting vir ’n maand of meer kan befonds. Hulle kyk na jou en jy kan sien hoe hulle jou evalueer. Jy kan sien wat deur hulle breine flits: Hmm, elegante, goed gesnyde klere, goeie materiaal, weet nie wie die ontwerper is nie. (Ja, want ek het dit van die rak afgekoop …) Die oë dwaal na jou ore en evalueer die juweliersware: Nie heeltemal die kaliber van rotse in die voorportale nie. Eindelik is daar ’n vloeiende blik na jou voete. Binne drie sekondes het hulle jou geassesseer en gekatalogiseer.
Ek stap deur en sit op die patio met die uitsig oor die Croisette. Ek bestel sjampanje, en kyk na die Middellandse See en die skoonheid van die Carlton Hotel wat in die aandson glinster.
Teen nege-uur gaan ek na Nikki Beach, waar die HFPA ’n eksklusiewe party aanbied ter ere van die Nobelpryswenner Kailash Satyari, wie se werk om kinderslawerny te stop, effektief en onoortreflik is. Hy ontvang ’n halfmiljoen dollar vir sy werk. Cate Blanchett is byderhand en John Travolta, onder andere, is ook in die gehoor.
Ek kyk na my horlosie. Dis middernag, en hierdie Aspoestertjie moet nou terugkeer hotelkamer toe.
Om nog foto’s te sien en om op hoogte te bly, volg gerus vir Margaret op Instagram by @margaret_gardiner en facebook by @margaretgardinerofficial
Lees ook: Margaret se Cannes-dagboek: Dag 1