Foto’s en teks: Margaret Gardiner. Verwerk deur Martie Swanepoel.
Ek hardloop in my “sloffies” af in die Croisette! Christopher Lambert was laat en nou is ek ook agter met my eie skedule.
Ek is oppad na die première van ’n film, maar ek het nie tyd gehad om myself reg te ruk nie. Ek het steeds die romp aan wat ek vanoggeng by die perskonferensie gedra het, maar het darem ’n swart T-hemp daarby aangetrek. Die romp het ’n rits aan die agterkant en daarom kan ek nie my bene lekker strek as ek deur die skare hardloop nie! Dit is soos om in koue heuning te probeer loop: Dit is taai en ek vorder nie veel nie.
Ek is nou ’n blok weg van die Palais waar die première gehou word en die sekuriteitsdienste het versperrings om die hoeke geplaas en ek mag dus nie kortpaaie neem nie. Ek word gedwing om deur die skare te probeer hardloop. Baie slim van die veiligheidspersoneel, maar onmoontlik vir iemand wat laat is.
Ek is bekommerd dat die mode-polisie my gaan dwing om my “sloffies” uit te trek. Hulle het vorige jare op hakskoene aangedring. Maar ek is darem voorbereid! Ek het my hakskoene in my sak, maar ek het ook blink sandale vir oomblikke soos dié.
Sekuriteit laat my sowaar deurgaan sonder om eens te frons oor my voete!
Die ateljeeverteenwoordiger ontmoet my buite die teater en ek glip vinnig deur die deur en is betyds op my sitplek wanneer die regisseur van Be Natural die verhoog bestyg om te verduidelik waarom hierdie storie haar gefassineer het. Dit is die verhaal van ’n vrou in die vroeë dae van die filmbedryf. Sy was dalk die eerste persoon wat ’n storie geskep het, eerder as om net beweging te dokumenteer. Sy het daarna regie behartig, geskryf, vervaardig en het haar eie filmmaatskappy bestuur aan die begin van die vorige eeu. Maar haar naam word nie in die annale van die geskiedenis gedokumenteer nie. Dit is ’n fassinerende dokumentêr wat die plek van die vrou in die bedryf reflekteer.
Twee ure later hardloop ek terug na my kamer. Ek stort en trek ’n rok aan. Dit is die rooi een waarin rooi rose my afgeneem het vir die Mei-uitgawe se winterbylae. Die oomblik toe ek die rok aantrek, het ek geweet ek moet dit hê! Jy kan dit in ’n tas gooi want dit kreukel nie, maar dit is perfek om aan te trek as jy nie seker is of jy ’n lang rok of ’n skermerkelkrokkie moet aantrek nie. My hare het nog nie ’n kam gesien sedert ek dit gewas het nie, dus maak ek ’n bolla en teen agtuur sê ek vir myself: Margaret jy moet iets doen, soos om dit te krul of reguit te maak. Maar daar is nie tyd nie. In die hyser trek ek my vingers vinning deur my hare voor ek in die luukse Mercedes-minibus klim wat my na die Hôtel Du Cap, een van die weelderige ou plekkies in Cannes, neem.
Lionsgate bied ’n afskeidspartytjie aan vir Patrick Wachsberger en die legende Jane Birkin gaan sing. Die omgewing is magies en die blou swembad wat oor die oseaan uitkyk is die ene elegansie.
Ek drink sjampanje en gesels oor die filmbedryf voor vriende voorstel ons moet na die patio in die middel gaan staan as Jane begin sing. Haar stem en lirieke raak jou aan: Mens voel bevoorreg.
Ek moet nog ’n mode-gallery saamstel voor ek teruggaan na Cannes en daar is nog ’n partytjie by Nikki Beach. Dit is na middernag en ek beplan om net ’n kort rukkie by die partytjie te bly. Regtig. Dit moes net ’n vinnige “hallo!” wees.
Ek klim eers twee uur later in die bed. Ek sug en raak aan die slaap. Dit was net van agtuur tot twee-uur die nag, maar dit gee jou ’n kykie in my lewe.
Bly ingeskakel vir nog.
Om nog foto’s te sien en om op hoogte te bly, volg gerus vir Margaret op Instagram by @margaret_gardiner en facebook by @margaretgardinerofficial