Teks en foto’s: Margaret Gardiner. Verwerk deur Martie Swanepoel.
Teen die tyd wat ek in Croisette aangekom het, het die son al oor die oseaan gesak. My vlug van Los Angeles is in München vertraag en my vlug na die Cannes-filmfees het dus ’n totale 16 uur geduur! Ek was gevolglik laat om my akkreditasie te kry wat my sou toelaat om die flieks te sien waaroor almal in Hollywood praat.
Ek moes hardloop tot by Nikki Beach in een van die eksklusiewe tente waar al die glanspersoonlikhede bymekaarkom. Dit is teen die see en almal staan rond en drink sjampanje terwyl hulle ooreenkomste van miljoene dollars maak.
Van daar af moes ek onder ’n stort gaan spring en my swart nommertjie, ’n string pêrels en ’n paar hofskoentjies (à la Audrey Hepburn) aantrek.
Ek is vandaar vinnig na die Pont DuBoys d’Angers waar ’n vloot swart Mercedes minibusse op en af teen die heuwel gery het om gaste te vervoer na die villa op die hoogste punt in Cannes. Dit het ’n beroemde toring wat ’n uitsig oor die baai het.
Ek het voor die tyd met die organiseerders ’n reëling getref en het ’n lekker plek langs die busbestuurder gehad toe ons met die bussie teen die helling uitklim. Langs die pad was mure wat lyk of dit al eeue daar staan, maar die busbestuurder het my verseker dat die herehuise luuks en modern is, net soos in die geval van Villa Uris.
Ek het uit die bussie geklim en verby sekuriteit geglip. Daar is die amptelike “staan-en-draai”-punt waar die pers gaste afneem wat by die partytjie aankom.
Die villa is omring deur palmbome en dit het ’n uitsig oor Cannes en die baai wat gevul is met die seiljagte van die beroemdes met hul glinsterende liggies.
Sjampanje is op ’n silwer skinkbord aangebied, en DJ Henri, wat spesiaal van Los Angeles ingevlieg is vir die geleentheid, het die lug laat pols met aansteeklike ritme.
Regisseur Renny Harlin was die gasheer van die partytjie en hy het gesels oor sy samewerkingsooreenkoms met China.
Selfs na middernag het gaste steeds aangekom, maar ek moes die partytjie verlaat aangesien ek as moderedakteur van die Golden Globes nog verslag moes doen oor die rooi tapyt-modes. Ek moes ook my verslag vir rooi rose skryf.
Die volgende dag sou die voorskoue en onderhoude met Christopher Lambert en Mad Mikkelsen vir Joe Penna se fliek Arctic begin. Daar sou ook ʼn partytjie by die Hôtel du Cap wees.
Ek het gestort en doodmoeg in die bed geval, net om drie-uur met vlugvoosheid op te staan om hierdie rubriek te skryf en om my modeverslag te doen.
Ek is oor ’n week terug in Suid-Afrika vir die Mej. SA skoonheidskompetisie!
Lees die res van Margaret se Cannes-dagboek:
Om nog foto’s te sien en om op hoogte te bly, volg gerus vir Margaret op Instagram by @margaret_gardiner en facebook by @margaretgardinerofficial