Teks en foto’s: Margaret Gardiner
Dag 1
Teen die tyd wat ek in Croisette aangekom het, het die son al in die oseaan gesak. My vlug van Los Angeles is in München vertraag en my vlug na die Cannes-filmfees het dus ’n totale 16 uur geduur! Ek was gevolglik laat om my akkreditasie te kry wat my sou toelaat om die flieks te sien waaroor almal in Hollywood praat.
Ek moes hardloop tot by Nikki Beach in een van die eksklusiewe tente waar al die glanspersoonlikhede bymekaarkom. Dit is teen die see en almal staan rond en drink sjampanje terwyl hulle ooreenkomste van miljoene dollars maak.
Van daar af moes ek onder ’n stort gaan spring en my swart nommertjie, ’n string pêrels en ’n paar hofskoentjies (à la Audrey Hepburn) aantrek.
Ek is vandaar vinnig na die Pont DuBoys d’Angers waar ’n vloot swart Mercedes minibusse op en af teen die heuwel gery het om gaste te vervoer na die villa op die hoogste punt in Cannes. Dit het ’n beroemde toring wat ’n uitsig oor die baai het.
Ek het voor die tyd met die organiseerders ’n reëling getref en het ’n lekker plek langs die busbestuurder gehad toe ons met die bussie teen die helling uitklim. Langs die pad was mure wat lyk of dit al eeue daar staan, maar die busbestuurder het my verseker dat die herehuise luuks en modern is, net soos in die geval van Villa Uris.
Ek het uit die bussie geklim en verby sekuriteit geglip. Daar is die amptelike “staan-en-draai”-punt waar die pers gaste afneem wat by die partytjie aankom.
Die villa is omring deur palmbome en dit het ’n uitsig oor Cannes en die baai wat gevul is met die seiljagte van die beroemdes met hul glinsterende liggies.
Sjampanje is op ’n silwer skinkbord aangebied, en DJ Henri, wat spesiaal van Los Angeles ingevlieg is vir die geleentheid, het die lug laat pols met aansteeklike ritme.
Regisseur Renny Harlin was die gasheer van die partytjie en hy het gesels oor sy samewerkingsooreenkoms met China.
Selfs na middernag het gaste steeds aangekom, maar ek moes die partytjie verlaat aangesien ek as moderedakteur van die Golden Globes nog verslag moes doen oor die rooi tapyt-modes. Ek moes ook my verslag vir rooi rose skryf.
Die volgende dag sou die voorskoue en onderhoude met Christopher Lambert en Mad Mikkelsen vir Joe Penna se fliek Arctic begin. Daar sou ook ʼn partytjie by die Hôtel du Cap wees.
Ek het gestort en doodmoeg in die bed geval, net om drie-uur met vlugvoosheid op te staan om hierdie rubriek te skryf en om my modeverslag te doen.
Ek is oor ’n week terug in Suid-Afrika vir die Mej. SA skoonheidskompetisie!
Dag 2
Ek hardloop in my “sloffies” af in die Croisette! Christopher Lambert was laat en nou is ek ook agter met my eie skedule.
Ek is oppad na die première van ’n film, maar ek het nie tyd gehad om myself reg te ruk nie. Ek het steeds die romp aan wat ek vanoggeng by die perskonferensie gedra het, maar het darem ’n swart T-hemp daarby aangetrek. Die romp het ’n rits aan die agterkant en daarom kan ek nie my bene lekker strek as ek deur die skare hardloop nie! Dit is soos om in koue heuning te probeer loop: Dit is taai en ek vorder nie veel nie.
Ek is nou ’n blok weg van die Palais waar die première gehou word en die sekuriteitsdienste het versperrings om die hoeke geplaas en ek mag dus nie kortpaaie neem nie. Ek word gedwing om deur die skare te probeer hardloop. Baie slim van die veiligheidsmanne, maar onmoontlik vir iemand wat laat is.
Ek is bekommerd dat die mode-polisie my gaan dwing om my “sloffies” uit te trek. Hulle het vorige jare op hakskoene aangedring. Maar ek is darem voorbereid! Ek het my hakskoene in my sak, maar ek het ook blink sandale vir oomblikke soos dié.
Sekuriteit laat my sowaar deurgaan sonder om eens te frons oor my voete!
Die ateljeeverteenwoordiger ontmoet my buite die teater en ek glip vinnig deur die deur en is betyds op my sitplek wanneer die regisseur van Be Natural die verhoog bestyg om te verduidelik waarom hierdie storie haar gefassineer het. Dit is die verhaal van ’n vrou in die vroeë dae van die filmbedryf. Sy was dalk die eerste persoon wat ’n storie geskep het, eerder as om net beweging te dokumenteer. Sy het daarna regie behartig, geskryf, vervaardig en het haar eie filmmaatskappy bestuur aan die begin van die vorige eeu. Maar haar naam word nie in die annale van die geskiedenis gedokumenteer nie. Dit is ’n fassinerende dokumentêr wat die plek van die vrou in die bedryf reflekteer.
Twee ure later hardloop ek terug na my kamer. Ek stort en trek ’n rok aan. Dit is die rooi een waarin rooi rose my afgeneem het vir die Mei-uitgawe se winterbylae. Die oomblik toe ek die rok aantrek, het ek geweet ek moet dit hê! Jy kan dit in ’n tas gooi want dit kreukel nie, maar dit is perfek om aan te trek as jy nie seker is of jy ’n lang rok of ’n skermerkelkrokkie moet aantrek nie. My hare het nog nie ’n kam gesien sedert ek dit gewas het nie, dus maak ek ’n bolla en teen agtuur sê ek vir myself: Margaret jy moet iets doen, soos om dit te krul of reguit te maak. Maar daar is nie tyd nie. In die hyser trek ek my vingers vinning deur my hare voor ek in die luukse Mercedes-minibus klim wat my na die Hôtel Du Cap, een van die weelderige ou plekkies in Cannes, neem.
Lionsgate bied ’n afskeidspartytjie aan vir Patrick Wachsberger en die legende Jane Birkin gaan sing. Die omgewing is magies en die blou swembad wat oor die oseaan uitkyk is die ene elegansie.
Ek drink sjampanje en gesels oor die filmbedryf voor vriende voorstel ons moet na die patio in die middel gaan staan as Jane begin sing. Haar stem en lirieke raak jou aan: Mens voel bevoorreg.
Ek moet nog ’n mode-galery saamstel voor ek teruggaan na Cannes en daar is nog ’n partytjie by Nikki Beach. Dit is na middernag en ek beplan om net ’n kort rukkie by die partytjie te bly. Regtig. Dit moes net ’n vinnige “hallo!” wees.
Ek klim eers twee uur later in die bed. Ek sug en raak aan die slaap. Dit was net van agtuur tot twee-uur die nag, maar dit gee jou ’n kykie in my lewe.
Bly ingeskakel vir nog.
Dag 3
Dis halfelf die oggend. Ek is sedert sesuur wakker en het eers na twee gaan slaap. Ek het die fliek Le Livre d’Image (losweg vertaal as “Beeldboek”) gesien. Die regie is behartig deur Jean-Luc Goddard en is ’n ontstellende film wat saamgestel is van beelde wat verlei en verneder. Dit is nie ’n film waarmee jy jou dag wil begin nie.
Ek het ’n mode-galery saamgestel vir goldenglobes.com; ek is die moderedakteur. Dit het my langer as gewoonlik geneem omdat die modes fantasties was en omdat ’n Suid-Afrikaanse musikant, Nakhane Toure, op die rooi tapyt verskyn het.
Ek het ook my daaglikse dagboekinskrywing vir rooi rose gestuur en nou het ek ’n uur oor om te stort, my hare te was, om nog ’n verslag in te dien, en om my plek te vind en my voor te berei op my onderhoud met die regisseur van die dokumentêr wat ek gister gesien het.
Uitputting laat jou snaakse goed doen – soos om jou sak eers netjies te pak, maar dan daarna 20 minute lank na jou sleutels te soek wat reeds in jou sak is! Ek het gemiddeld drie uur slaap ingekry sedert ek hier aangekom het met boonop ’n agt uur tydsverandering en vlugvoosheid. Ek besef ek sal moet begin aanpas.
Terwyl ek my grimering doen, dink ek aan vrae wat ek aan die regisseur kan stel. Ek kyk skielik na myself in die spieël en besef ek het aand-grimering vir ’n oggend-funksie aangesit. Hallo wasbeerogies!
Ek skrop die grimering af en druk my klam hare in ’n bolla terwyl ek debatteer of ek plat skoene of hakskoene moet aantrek. Hakke maak die beenspiere sterker. Ek het al vir drie maande lank ’n besering en kon in hierdie tyd nie oefen nie. Dit voel of my lyf besig is om voor my oë te disintegreer. My arms lyk soos watervalle en ek het ’n truitjie gebring om dit weg te steek, maar dit slaag nie daarin nie. Ek het net drie minute oor en kies plat skoene en trek ’n lang trui aan om die gesmelte–roomys-arms te bedek. Ek is net betyds by die deur uit.
Ek spring blitsig in die bussie waarin ek saam met top prokureurs, bankiers en bedryfsmakelaars al langs die Côte d’Azur ry. Dit lyk baie soos Seepunt, maar sonder die golwe, en dit is volgepak met luukse groot seiljagte en bote.
Ons word begroet met pienk sjampanje terwyl ons praat oor China se uitbreiding na die vermaaklikheidsmark en Amerika se vermaakmaatskappye se behoefte om nuwe inkomste te ontwikkel, aangesien DVD’s en tuisvideo’s deur video-stroomplatforms vervang is.
Ons stap rustig na ’n pragtige restaurant, wat baie lyk soos die uitsig vanaf Bantry Bay, behalwe dat die water blou is. Ek sit tussen ’n bankier, ’n persoon wat strukture finansier vir maatskappye en ’n prokureur wat op een of ander manier betrokke is by die hantering van Harvey Weinstein se krediteure. Die gesprek is intens en twee ure glip verby sonder die hoofgereg in sig. Ek eet gewoonlik baie en val die broodmandjie aan. Ek hoop dat hulle nie agterkom dit is my derde rolletjie nie, en ja, ek is Suid-Afrikaans, dus eet ek broodjies met botter, iets wat ek agterkom die Amerikaanse vroue by my tafel vermy.
Ons raak betrokke by ’n gesprek oor die boek waarvoor ek navorsing doen en een van die vroue vertel my dat sy tydens die borsvoeding van haar kind vergaderings bygewoon het en dat sy net haar rug na die mans gekeer het en haar baba en die bors met ’n lap bedek het. Haar baas het gedreig om haar af te dank, maar sy vriendin het hom afgeraai om dit te doen en het gesê die vrou moet eintlik geprys word. Sy het uiteindelik die maatskappy se finansiële departement bestuur.
Die prokureur het ook aan die gesprek begin deelneem voor die hoofmaal uiteindelik bedien is. Net toe ek my vurk met ’n happie geurige vis optel, tik iemand my op die skouer om aan te kondig dat die motor wat my na my volgende onderhoud moet neem, gearriveer het. Ek het nog niks geëet nie! Maar ek spring in die motor en ons ry van Antibes na Cannes terwyl ek my navorsing oor die regisseur voltooi.
Die uitsig van bo die Marriott Hotel is asemrowend, maar my moeë brein is besig om soos katoenwol te reageer. Ons is buite en die regisseur is nog nie gereed nie. Ek gaan sit op ’n stoel en trek my sonhoed oor my gesig en raak onmiddellik aan die slaap. Ek word wakker gemaak deur ’n klomp vroue wat my omring en my komplimenteer omdat ek so mooi poseer, maar ek poseer nie … Ek dut net ’n bietjie!
Ek raap my goedjies bymekaar en stap na die regisseur met die hoop dat ek nie gekwyl het terwyl ek geslaap het nie …
Die onderhoud is verfrissend en is gelaai met stories van hoe Robert Redford en Jodi Foster ingestem het om deel te wees van Be Natural. Die regisseur het die regie van die dokumentêre gedoen, dit geskryf en verwerk sonder enige vorige ondervinding. Haar leuse blyk te wees: Neem die eerste tree en die res sal volg. My woorde, maar haar benadering en een waarmee ek identifiseer. Met die groetslag bedank sy my vir die insiggewende vrae. Ek stap weg en dink dit het gehelp dat ek ’n bietjie ingedut het!
Dit is vieruur en ek is dood van die honger. Ek het sesuur die oggend ontbyt geëet en die drie broodrolletjies het skaars aan die kante van my maag geraak. Ek stap oor na Nikki Beach en bestel middagete, net om te ontdek dat Cate Blanchett ’n groep van 82 vroue sal lei teen die trappe van die Grand Palais op vir ’n oomblik van stilte. Dit is ’n politieke aksie om die feit te beklemtoon dat slegs 82 vroue-regisseurs in die 71-jarige geskiedenis van die Cannes-filmfees ooit uitgenooi is na die hoofkompetisie, terwyl daar in dieselfde tydperk 1 688 mans vereer is. Dit is relevant aangesien dit ’n impak het op die vermoë van vroue-regisseurs om befondsing vir hul projekte te kry, om aandag op die produk te vestig, en om lokket-trefkrag te kry. Dit is ’n bydraende oorsaak vir die gebrek aan gelykheid, nie net in magsposisies nie, maar ook in betaalgelykheid. Die groep sluit die vermaaklikheidsmagte in Cannes in. Cate Blanchett, Ava DuVernay, Marion Cotillard, Salma Hayek, Lea Seydoux, Leila Bekhti, Sofia Bouterra, Patty Jenkins en Agnès Varda is net ’n paar van die vroue wat deelneem. Laasgenoemde is een van slegs twee regisseurs wat ooit die Palme d’Or ontvang het. Jane Campion, wat nie by die fees is nie, is die ander ontvanger. Terwyl die vroue die rooi tapyt op die trappe bestyg, voel mens dat geskiedenis besig is om voor jou oë te gebeur.
Ek het ’n string partytjies om by te woon, maar ek het ’n dag met groot gesprekke gehad in glansryke plekke met mense wat die wêreld verander. Ek wil reflekteer oor die kwessies wat bespreek word. Môre is die première van Spike Lee se nuutste fliek. Ek hoop om by die Dior-suite in te loer want daar is ’n boetiek met ontwerpersklere wat ek belowe het om te verken. Die sjampanje en die vinnige lewe lok, maar ek sê: Nie vanaand nie.
En soos Scarlet O’Hara in Gone With the Wind gesê het: Môre is nog ’n dag.
Om nog foto’s te sien en om op hoogte te bly, volg gerus vir Margaret op Instagram by @margaret_gardiner en facebook by @margaretgardinerofficial