Laas week het ek in verstomming sit en kyk hoe my meisiekind voor ‘n groot klavier in ‘n groot saal ‘n klassieke eksamenuitvoering gee. Waar sy die moed gekry het, weet ek nou nog nie. Natuurlik behels die voorbereiding ure van eensame afsondering wat oor baie jare strek, maar jy kan jou oefen oefen en nog steeds kleinkoppie trek wanneer dit by die aanbiedslag kom.
Ek wonder of moed ‘n vroueding is. Ek dink nie moed is vreesloosheid nie. Moed beteken dat jy iets deurvoer wat jou bang maak – al is dit net om jou aanvoeling te vertrou of jou mening in ‘n plofbare omgewing te lug.
Dan is daar ontsagwekkende dapperheid soos vroue wat kinders met spesiale behoeftes grootmaak, uit gewelddadige verhoudings stap, of marathons aanpak. ‘n Vrou wat ‘n vinnige rondte om die rugbyveld draf, vul my al klaar met bewondering.
Miskien lê moed nie net in die kring van fisieke of emosionele oorlewing nie; dalk is dit ook daardie treetjie wat jou lewe sjampanjevonkel gee. Soos om sosiaal te gaan dans as jy gevaar loop om ‘n man in die proses te pootjie. Of ‘n spirituele kursus by te woon as die gesinskedule of familieoortuigings dit ongemaklik maak. Of om ‘n nuwe verhouding ‘n kans te gee.
Vir my is vroue op talle vlakke dapper. En nou dat ek daaraan dink – dalk verg dit mánnemoed om met ons dapper spesie saam te leef!