Doeltreffende skuldbestuur is die sleutel om beheer oor jou finansiële situasie te neem. Dit is nie altyd maklik nie, maar met dié raad kan jy ‘n paar tree vorentoe gee om skuldvry te word.
Skuld is ʼn onvermydelike deel van die menslike ervaring. Boonop staan ons voor ʼn unieke uitdaging – ʼn verbruikerskultuur wat onmiddellike bevrediging onophoudelik aandryf, sê Carla Oberholzer, skuldadviseur van Debtsafe. Kombineer dit met maklike toegang tot krediet, en jy is in die perfekte storm om beheer oor jou finansies te verloor. Daarom is skuldbestuur ʼn uiters noodsaaklike strategie om jou finansiële situasie onder beheer te hou. Carla verduidelik wat skuldbestuur is, en hoe dit jou kan help.
Wat presies is skuldbestuur?
Wanneer jy jou skuld effektief bestuur, verwys dit na die feit dat jy weet wat in jou finansies aangaan. Jy handhaaf selfdissipline, ondersoek deurlopend wat jy kan verbeter aangaande jou skuldrekeninge en verpligtinge en jy bestuur jou sake só dat selfs ‘n onverwagse verandering of noodsituasie (byvoorbeeld Covid-19-veranderinge) jou nie só omver gooi dat jy nie uit ‘n skuldgat kan kom nie. Kortom, skuldbestuur is ʼn uiters noodsaaklike strategie om jou finansiële situasie onder beheer te hou.
Wat is skuldbestuur nié?
Effektiewe skuldbestuur is nie ‘skuldherwinning’ nie. Skuldherwinning is wanneer n verbruiker byvoorbeeld ‘n kredietkaart gebruik om ander skuld af te betaal en keer op keer dieselfde doen sonder om voor te bly. Dit is ‘n senutergende siklus en is nie volhoubaar nie.
Skuld kan ‘n mens angstig maak. Hoe kan ek my denke rondom skuld vernuwe sodat ek my skuld in die nuwe jaar beter kan aanpak?
Skuld is nie iets nuuts nie en die negatiewe stigma rondom skuld moet afgebreek word. Enigiemand kan in ‘n erge skuldsituasie beland. As jy skuld het, beteken dit nie jy het dit moedswillig aangegaan nie. Dit maak mos nie sin nie – die lewe gebeur. Plus, die meeste van ons het nie die geleentheid gehad om fundamentele opvoeding oor finansies of skuld as kind te bekom nie. Moenie jouself daaroor kasty nie. En, moenie jouself vergelyk met diegene om jou nie – mense se aksies en woorde kan misleidend voorkom. Fokus op jou situasie en probeer negatiewe gedagtes met ‘n positiewe stelling vervang. Byvoorbeeld, jy dink: “Kyk in watse penarie is ek – ek sal nooit hieruit kom nie…”. Vervang dit met: “Ek sien my situasie vir wat dit is, maar ek is proaktief besig om dit te probeer omdraai, stap vir stap”. Maak so :
- Sien jou situasie raak en weet watter prentjie jou skuld reflekteer – matig, erg of nog onder beheer.
- Pas ‘n asemhalingstegniek toe en tree vir ‘n oomblik uit die emosie uit.
- Sien die situasie vir wat dit is, volg die vyf stappe van ‘n skuldbestuursplan en kyk waar jy jou eie situasie kan verbeter of waar jy ernstig moet inklim (al is dit om ‘n professionele kundige op die gebied te kry om jou te help of saam met jou vir ‘n rukkie die pad te stap todat jy weer jou voete vind en self kan aangaan).
Die vyf stappe van ‘n skuldbestuurplan
Stap 1: Hersien jou finansiële situasie
Beantwoord hierdie drie vrae om jou eerste skuldbestuurstap in plek te kry:
- Wat is jou maandelikse inkomstebedrag na aftrekkings?
- Wat wys jou betalingsgeskiedenis op jou bankstate vir jou uit?
- Wat toon jou kredietrekord?
Stap 2: Vergelyk jou huidige inkomstebedrag met jou skuldbedrae
Doen dit só:
- Tel al jou maandelikse skuld op (+)
- Deel (÷) dit deur jou inkomstebedrag voor enige aftrekkings (bruto salarisbedrag)
- Die finale persentasie (%) toon jou skuld-tot-inkomste-verhouding. Enige persentasie bo 40 is ʼn waarskuwingsteken. Hoe hoër jou berekening se persentasie is, hoe nader is jy aan oorverskuldigdheid.
Stap 3: Prioritiseer watter skuld jy vinniger moet afbetaal.
Om skuld te prioritiseer, beteken nie dat jy sekere skuld nie hoef af te betaal nie; jy moet steeds jou maandelikse verpligtinge nakom. Om jou skuld te prioritiseer, beteken dat jy die skadelike (slegte) skuld identifiseer en jou begroting gebruik om maniere te vind om hierdie tipe skuld gouer af te betaal. Skuld wat jou finansiële waarde verhoog, moet in ‘goeie skuld’ gegroepeer word en skuld sonder enige langtermyn-waarde kan op jou lys van ‘slegte skuld’ geplaas word.
Stap 4: Stel ʼn persoonlike begroting op
- Neem jou bedrag geld wat inkom (jou netto inkomste – salaris na aftrekkings, soos BELASTING of WVF), insluitend ander inkomste (maandelikse kommissie of huurinkomste, byvoorbeeld).
- Minus (–) dit met jou geld wat uitgaan (jou uitgawes – skuld-/kredietooreenkomste, dienskontrakte of vaste betalings soos jou lewenskoste of verpligtinge wat gewoonlik nie deur debietorders betaal word nie).
- Plus (+) dan jou maandelikse spaargeld (beleggings, pensioenfonds, uittree-annuïteit en verwante), of ander spaargeld (korttermyn-spaargeld, soos spaargeld verwant aan tersiêre onderrig of ʼn noodfonds).
- Dit is dan gelyk aan (=) die geld wat jy oor het vir die maand.
- Indien die finale bedrag ʼn surplus weerspieël, kan jy die addisionele geld gebruik om jou huidige skuld te delg.
- Maar, as jou bedrag ʼn minus reflekteer, het jy buitensporige skuld wat proaktief aangespreek en uit die weg geruim moet word.
Stap 5: Gebruik jou begroting om jou skuld te bestuur.
Die Nasionale Kredietreguleerder bied ‘n lys onder ‘registrants’ van geregistreerde entiteite of beraders aan: http://www.ncr.org.za/#.
Deur Maretha Botes
Lees ook: Maak geldslim kinders groot