Instructions
1 Dreineer 2 x 410 g-blikke veselperskes, of skil 4 mango’s en sit in ’n voedselverwerker. Voeg 30 ml (2 e) heuning, sap van 1 lemmetjie, hand vol kruisementblare, 250 ml (1 k) Bulgaarse jogurt en 750 ml (3 k) ysblokkies by en verwerk tot glad.
2 Skink in 8 klein Indiese glasies en garneer met fyn ys, lemmetjiewiggies en kruisementblare.
Mango's: Koningskos
Die koning van vrugte, so word die mango genoem. En nie verniet nie. Soet, sappig en heerlik met ’n eiesoortige en kenmerkende geur.
Die skil van dié koninklike, tropiese vrug is aanvanklik groen en word geel-oranje en bloedrooi namate dit ryper word. Mango’s kan groen geëet word en word dan veral in blatjang of piekels gebruik. Probeer gerus groen mango met sojasous - dis ’n heerlike peuselhappie.
Die stroopsoet, ryp mango kan natuurlik net so geëet word en is ook ’n treffer in hoenderkerrie of ’n Oosterse roerbraai.
Gedroogde mango’s is net so smaaklik - meng dit sommer deur jou ontbytmuesli. Mango’s is ’n heerlike lafenis op warm dae. Versap dit, of maak roomys of sorbet daarmee.
Veselperske is boonop goed vir jou, want dis ryk aan aminosure, vitamien C en E, kalsium, betakaroteen, yster en vesel. Dit verminder jou kans op kanker, hou jou oë gesond, help met spysvertering en hou jou brein skerp.