Deur Tanya de Vente-Bijker
“Mamma, kan jy asseblief kom speel? Asseblief, net ʼn rukkie? Jy werk net heeltyd agter jou rekenaar, jy wil nooit saam met my speel nie.” Ons almal weet hoe dit voel wanneer jy ná ‘n veeleisende dag tuiskom. Jy wil net op bank gaan sit en vir ‘n paar minute doelloos deur Instagram blaai en dalk ʼn glas wyn drink. En dit is juis dan wanneer jou kind vir ‘n bietjie speeltyd kom vra. Die waarheid is dat dit dalk in daardie oomblik die laaste ding is wat jy wil doen, maar in die werklikheid is dit juis wat jy moet doen, meen kenners.
Die belangrikheid van spel
Die konsep van spel word reeds vir eeue in die onderwys en akademie bespreek. Die Duitse onderwyser Friedel Froebel (1782-1852) word gesien as die uitvinder van die speelskool. Hy het die belangrikheid van spel by kinders baie hoog geag en geglo kinders maak deur middel van spel sin van hul wêreld en hul ervarings.
Dr Tiané Viviers, ʼn grondslagfase-dosent by SANTS Private Higher Education Institution, sê sy kan nie die belangrikheid van kinders wat speel en ouers wat met kinders speel genoeg benadruk nie. “Kinders leer deur te speel, en moet leer deur spel. Neem byvoorbeeld jong kinders – hulle leer hul woordeskat aan deur die ouer(s) wat met hulle praat. Die woordeskat is weer belangrik vir later se leer skryf en lees in die skool.”
Haley Rogoff, ‘n arbeidsterapeut van Kaapstad, verduidelik dit is soos om ’n huis te bou. “Jou kind benodig die grondslagvaardighede om later die res van die huis te bou. En al daardie vaardighede word deur spel ontwikkel.” Sy sê as gevolg van ons gejaagde leefstyl maak ouers nie meer tyd om te speel nie. “Belangrike fondamente ontbreek dan in die kind se ontwikkeling, en skielik in graad 1 of 2 begin die wiele afval. En dit is hoekom al hoe meer kinders arbeidsterapie moet kry. Deesdae sal jy baie keer hoor hoe mense sê dit is nou mode om arbeidsterapie te kry, maar dit is omdat kinders nie meer speel nie.”
Volgens dr Viviers kan jy ook leer wat in jou kind se kop aangaan deur saam te speel. “Speel is die vergrootglas na jou kind se denke en ervarings. As ’n mens kyk na dogtertjies wat skool-skool, of pop-pop, speel, kan jy so agterkom hoe dit in hul klaskamers gaan. As jou kind byvoorbeeld die heeltyd vir jou sê sy is die domste moet jy uitvind waar dit vandaan kom.”
Hoekom sukkel ons so om te speel?
Maar hoe het ons ʼn generasie van ouers geword wat nie kan of wil speel nie? Dr Tiané meen die gejaagdheid van die hedendaagse lewe speel ʼn groot rol. “Aan die een kant is daar nog baie ouers wat ná die pandemie van die huis af werk. Dit is baie moeilik om teen vyfuur af te skakel en op te hou werk. Jy sal dalk sommer jou kind nog ʼn uur laat TV kyk sodat jy net nog gou iets kan afhandel.” En selfs vir ouers wat van ʼn kantoor af werk, is jou werk altyd by jou en ons is 24 uur, sewe dae ‘n week bereikbaar, verduidelik sy.
“Daar is soveel vereistes wat aan ons gestel word. Albei ouers werk, die pandemie en inflasie het die begroting gesny en baie mense moes ekstra werk aanpak. Jy is net moeg en nie lus om te speel nie.”
Lita du Plessis, ʼn arbeidsterapeut, sê ouers maak ook al hoe meer op ander bronne, soos buitemuurse aktiwiteite, staat om hul kinders te stimuleer. “Ouers onderskat in die proses die ongelooflike groot bydrae wat gehaltetyd in spel, asook in die algemeen, saam met hul kinders vir kinders en hul ontwikkeling beteken. Daar is níks wat die gesonde tyd saam met Mamma of Pappa kan vervang nie.”
Lita sê sy sien soms ouers wat onseker is hoe hulle saam met hul kinders moet speel. Sy sê ouers se persepsie van hul eie spelerigheid en spelvaardigheid is soms ʼn hindernis in die pad van spel. “Sommige ouers beleef fisieke uitdagings soos rugpyn of hul eie sensoriese voor- en afkeure (soos om nie met modder te wil speel nie).” Lita sê daar was al ouers in haar praktyk wat gevra waarom spel by die huis nodig is nadat die kind dan tog heeldag by die skool gespeel het.
Melanie Campbell, ook ʼn arbeidsterapeut, sê buiten dit wat reeds genoem is, ervaar sy ook dat ouers dikwels meer gefokus is op “akademiese” leer en vordering, en dit belemmer spontane speel wanneer daar net gefokus word op die benoeming van voorwerpe, kleure en vorms. “Daar is ’n persepsie dat ons vir kinders so vroeg moontlik hierdie konsepte moet leer, dat hulle vroeg reeds moet leer lees en skryf hoewel hulle nie noodwendig neurologies en emosioneel gereed daarvoor is nie.” Melanie sê dit is egter baie meer belangrik om ʼn emosioneel gebalanseerde kind groot te maak, en om ’n gesonde band en verhouding met jou kind te vestig – en een van die beste maniere om dit te doen, is deur te speel.
Leer om weer te speel
Ten spyte van die uitdagings van die hedendaagse lewe is daar ’n baie belangrike feit wat ouers moet onthou, maan Haley. “Kwaliteit is belangriker as kwantiteit. Ouers wat heeldag tuis is by hul kinders, maar heeltyd op hul foon is en nie aandag aan hul kind gee nie, help niks. Dit is nie gehaltetyd nie.” Sy sê dit is belangrik dat jy jou foon afsit en jou kinders in die oë kyk wanneer hulle praat. “Gee hulle tyd om hulself uit te druk, veral as hulle daarmee sukkel. Wanneer dit voel dat jy belangrik vir Pappa of Mamma is, voel jy veilig in die wêreld.”
Dr Tiané sê speel is ook ʼn stresontlader vir jou as ouer. “Jy kan die kind in jou weer laat uitkom. En jy hoef nie noodwendig poppe of karretjies te speel nie. Julle kan bal gooi, saam koekies bak, saam die tuin natmaak of saam bordspeletjies speel.”
Ouers dink altyd hulle moet die jongste of die duurste speelgoed op die mark vir hul kinders koop, maar Haley sê een van die beste ervarings vir kinders is om ʼn “piekniek” met modderkoekies te hou. “Kinders moet kan leer hoe dinge voel, ruik en proeKinders wat net op skerms of voor die TV is, verleer die vermoë om dinge te verbeel en in te dink. Om te kan weet hoe slym voel moes jy dit al gevoel het, of die gevoel van skuurpapier onder jou vingers gevoel het.”
Lita raai ouers aan om ʼn speelse instelling te kweek. “Dit mag wees dat ’n ouer se behoefte aan beheer, netheid, orde en ’n tasbare eindproduk vir eers opsy geskuif moet word. Haal diep asem en hou jou kinders eers net dop. Kyk waarvan hulle hou. En kinders deel graag waarvan hulle hou! Vind dan iets wat julle saam kan speel.” Maar sy raai ouers aan om doelgerig met jou tyd as ouer te wees.\ “Moenie onrealistiese en onnodige hoë verwagtinge stel nie. As jy ’n halfuur per dag, of ’n halfuur elke derde dag, of slegs naweke het om tyd saam met jou kinders te bestee, is dit wat jy het. Maak die beste daarvan en wees ten volle teenwoordig.”
Pas by jou kind se tempo aan, sê Melanie. “Ons as volwassenes is dikwels te vinnig in ons proses en interaksie, en dan mis ons waardevolle oomblikke met ons kinders. Gee jou kinders tyd om te prosesseer, laat toe dat hulle die leiding neem. Gee hulle die voordeel van die twyfel en neem aan dat hulle ’n plan het. Observeer jou kinders en probeer insien wat hulle in die speletjie ervaar sodat dit ’n moontlike aanknopingspunt om in hulle spel te deel, kan wees. Raak nuuskierig oor hul bedoelings en denkprosesse.”
Sy sê jy kan ook “w-vrae” in ’n spel gebruik. Dis vrae wat begin met: wie, wat, waar en wanneer. Wie woon byvoorbeeld in hierdie kasteel of waar moet die seerower wegkruip? Wat gaan gebeur as die vulkaan ontplof? Hoekom-vrae is gewoonlik te moeilik vir kinders om te antwoord, veral vir jonger kinders, en dan kan dit die twee-rigtingvloei van die spel belemmer.
Vertrou jou instink, is Lita se laaste wenk. “Vertrou gerus jou eie speelvermoëns. Ouers mag ook foute maak en daaruit leer, en so saam met hul kind in spel ontwikkel. Om saam met ’n kind te speel, beteken nie dat die ouer die kind moet vermaak nie. Dit is ʼn aktiwiteit wat saamgedoen word. Wonderlike dinge gebeur wanneer ouers en kinders saam speel – gedeelde herinneringe, saam groei, waardevolle verhoudings, wedersydse ontspanning, pret en plesier.”
Lees ook: Met liefde & reëls: 18 wenke vir moderne ouers
Idees vir speeltyd
- Loop kruiwa met jou kind in die tuin. Dit is groot pret en die oefening ontwikkel kinders se skouerspiere.
- Speel saam Lego. Vra vir ʼn rooi blokkie uit die krat, want dit oefen die brein om iets tussen ʼn klomp ander goed te vind. Of bou ʼn huis saam; hier leer die kind om te beplan.
- Blaas borrels. Dit is ʼn eenvoudige spel wat hand-oog-koördinasie verbeter en ook kan help om kinders wat oorgestimuleer is te kalmeer.
- Maak van badtyd speeltyd. Gooi badskuim in en laat jou kind die speelgoed soek deur net onder die water te voel.
- Bou saam ʼn fort of ʼn tent en speel ʼn fantasiespel.
- Plant saam plantjies en gooi dit elke dag nat.
- Speel bordspeletjies saam. Daar word jaarliks meer as 1 000 nuwe speletjies vrygestel. Dit is beslis nie net meer Monopoly en Rummikub op die mark nie. Kyk gerus ook na iets soos Boereplaas, Spot it of 5 Second Rule.
- Speel gewone speletjies soos wegkruipertjie of aan-aan en hardloop.
- Maak ʼn ritueel van swaai. Of spring trampolien saam met jou kind.
Lees ook: Hoe om jou dogter groot te maak om sterk en vol selfvertroue te wees