Elke ouer wil ’n liefdevolle pa of ma wees en ’n goeie verhouding met hul kinders hê. Ouers wil ook graag verantwoordelike, onafhanklike, suksesvolle en gelukkige kinders grootmaak. Die ironie is dat ons die een ding so begeer maar presies die teenoorgestelde doen.
Oorbetrokke ouers maak dikwels kinders groot wat onderpresteer en onderfunksioneer. As ouers vir kinders dinge doen wat hulle op hul eie behoort te kan baasraak, leer die kind nooit daardie vaardighede aan nie en dit hou hulle afhanklik. Die gevolg is dat kinders later op skool sukkel, want dan moet hulle self dink, beplan en doen. Niemand wys gou of sê wat om nou te doen nie.
Lees ook: Hoe stimuleer jy jou voorskoolse kind?
Daar is by die oorfunksionerende ouer dikwels ’n onderliggende angstigheid dat sy kind nie suksesvol gaan wees nie, of gaan sukkel en swaarkry, en daarom oorkompenseer hulle om hulself te kalmeer. Ouers gee graag vir hul kinders wat hulle nooit as kinders kon kry nie, of hulle beskerm die kinders teen die swaar en seerkry wat hulle as kind ervaar het.
Ouers gee graag vir hul kinders wat hulle nooit as kinders kon kry nie, of hulle beskerm die kinders teen die swaar en seerkry wat hulle as kind ervaar het
Ouers doen dikwels dinge vir kinders, want dan is dit gouer klaar, beter of netjieser: trek hulle aan, maak veters vas, kam hare, pak hul tasse. Die kinders leer nie om dit self te kan doen nie.
Hoe en in watter mate ouers kinders moet help, is ’n individuele saak wat van die kind se persoonlikheid, ontwikkelingsvlak en vaardighede afhang. Kinders met probleme het weer meer en ander soorte hulp nodig.
Daar is wel ’n riglyn dat ouers nie vir hul kinders mag doen wat hulle reeds vir hulself kan doen nie. ’n Skoolgaande kind behoort sy tas te kan pak, sy take te beplan en sy eie navorsing te kan doen. Die ouer kan dalk saam dink oor ’n idee, help om moeilike dele te vertaal, of benodigdhede gaan koop. Die beplanning, oorskryf, plak en die res kan en moet die kind doen. Dis sý taak. As die ouer die taak doen, het die kind min geleer van idees uitdink, beplanning, identifisering van belangrike aspekte, tydsbestuur en meer. Goeie punte beteken min vir ’n kind se ontwikkeling of vertroue in sy eie vermoëns as sy ouer(s) grootliks die projek voltooi het, of hom sit en leer het. Hy weet hy sou dit nie gekry het as hy dit alleen moes doen nie.
Lees ook: Skoolhuiswerk – wat ouers kan doen
Later verstaan ouers nie hoe dit moontlik kan wees dat kinders wat so goed presteer, nie in hulself kan glo nie. Ouers se beheer en prestasie-gedrewenheid breek kinders se moed en inisiatief en later wil hulle niks doen nie. Sulke kinders het nie kleintyd geleer hoe om met klein bietjies werk hulself te reguleer en die selfvertroue te ontwikkel wat hulle in staat stel om iets aan te pak nie.
Help jy regtig?
In ’n gegewe situasie moet die ouer saam met sy kind bepaal wie se probleem of verantwoordelikheid die taak voorhande is. As dit die kind se verantwoordelikheid of probleem is, is dit binne sy speelveld en moet hy dit van kleins af leer hanteer, oplos en die gevolge dra. As die ouer help, of sy probleme vir hom probeer oplos, oortree die ouer die grens van die kind se speelveld. Ouers doen dit uit ’n onderliggende vrees dat hul kind sonder hul hulp nie goed genoeg gaan wees nie. Daardeur kry kinders die boodskap dat die ouers nie werklik in hulle glo nie en dat hulle nie goed genoeg is nie. Sommige ouers ooridentifiseer met hul kinders en dan is daar nie emosionele grense van wie my kind en wie ek is nie. Die kind se prestasies of voorkoms raak my prestasie en identiteit as ouer. As my kind nie uitstekend doen nie, doen ek as ouer nie goed nie.
Sommige ouers ooridentifiseer met hul kinders en dan is daar nie emosionele grense van wie my kind en wie ek is nie
So voed die een probleem die ander. Die immer teenwoordige, oorfunksionerende en oorverantwoordelike ouer speel in die kind se speelveld en beheer en mikrobestuur sy kind se program, sosiale interaksies en selfs gemoedstoestand. Die kind moet net heeltyd oukei, gemaklik en gelukkig wees. Dit moedig die kind aan om onaktief aan die ontvangkant te bly en op die ouer staat te maak om vir hom te dink, te doen en probleme op te los. Vir sulke kinders word die skool, waar hulle skielik alleen moet kan werk en dink wat om in moeilike situasies te doen, of hoe om take en ander kinders te hanteer, ’n bedreigende en frustrerende ervaring.
Lees ook: Ouerskap in die 21ste eeu
Ander kinders, die onbillike eise van die kurrikulum of onbevoegde onderwysers kry dan dikwels die skuld, terwyl die meeste ander kinders in dieselfde omstandighede gedy. Soms hou ouers die negatiewe, oorafhanklike spiraal in stand omdat hulle glo hulle kan die kind nie net los nie en dat die kind dit net nie sonder die ouer se hulp sal maak nie.
Lees ook: Die voor- en nadele van tuisskoling
Sulke ouers besef, helaas, eers heelwat later dat hul kind veeleisend en klouerig bly en glad nie kan doen wat ander kinders met gemak doen nie. Hulle begin dié soort verantwoordelikheid van die kind verwag terwyl die kind nie daaraan gewoond is nie en dikwels nie die vaardighede, waagmoed of selfvertroue ontwikkel het om dit te kan doen nie. Die kind voel magteloos, moedeloos, gefrustreerd, angstig en selfs depressief. Hy is dikwels boonop nog kwaad en hy voel verwerp deur die ouer wat nie meer wil doen wat sy nog altyd vir hom gedoen het nie.
Wat sesjariges moet kan doen
• Eie versorging: aan- en uittrek; skoene aan die regte voete aantrek en ’n veter bind
• Sonder hulp bad en tande borsel
• Op hul eie eet
• Eie skooltas pak: boeke, kosblik, sportklere
• Troeteldiere kos gee
• Eie kamer netjies hou en wasgoed in die wasgoedmandjie gooi
• Speelgoed opruim en bêre
• Help met huistake, soos die vullisdrom leegmaak
• Eie water of koeldrank ingooi
• Alleen by bekendes soos maats of grootouers gaan kuier
• Op sy eie iets by die snoepie koop
• ’n Bal vang en tou spring
• Aan hul eie en ander se behoeftes begin dink.
Wat 13-jariges moet kan doen
• Tydsbestuur voor skool: ’n wekker stel, opstaan, betyds gereed wees vir skool.
• Vir hulself ontbyt maak of vat.
• Hul eie kosblik pak.
• Sy huiswerk en take op sy eie doen.
• Hul eie boeke oortrek.
• ’n Basiese hoeveelheid sakgeld bestuur.
• Sy eie reëlings met sy maats tref vir sport, take of speelgeleenthede.
• By die onderwysers of afrigters gaan seker maak wat die sport- en ander reëlings is.
• Sy eie planne maak om sy boeke of klere wat hy tuis vergeet het, by die skool te kry en die gevolge daarvan dra.
• ’n Dagboek hou van hul eie program en hul ouers inlig wanneer hulle waar moet wees en wat hulle nodig het.
• Hulp vra met dinge wat hulle nie op hul eie kan doen nie, soos benodigdhede vir take, vervoer na aktiwiteite, of betalings.
Om kinders verantwoordelikheid en onafhanklikheid te leer begin nie op 13 nie, maar op een en twee jaar. Op twee moet ’n kind al leer om sy blokkies weg te pak en sy bordjie by die wasbak te sit. Op drie en vier leer sy hoe om haarself aan te trek, te bad en tande te borsel, kamer opruim en meer. Nog later pak sy haar eie tas as sy by ’n maatjie gaan oorslaap. Ma kan aanvanklik loer of alles in is, maar sy kies en beplan eers self. Tieners bied weerstand wanneer ouers hulle tot nou toe met alles gehelp het, of alles vir hulle gedoen het, en op ’n dag word die reëls skielik verander.
Om kinders verantwoordelikheid en onafhanklikheid te leer begin nie op 13 nie, maar op een en twee jaar
Verander jou oorfunksionerende ouerskapstyl
• Hou op om oorbetrokkenheid as ’n deug te sien, al spruit dit uit die beste bedoelings en liefde.
• Erken dat jy te veel gee en doen, veral uit vrees dat jou kind nie goed sal doen nie.
• Begin net en verwag gaandeweg al meer verantwoordelikheid en onafhanklikheid.
• Berei haar daarop voor dat jy sekere dinge nie meer gaan doen nie, wat haar verantwoordelikhede is en wat die gevolge van haar optrede gaan wees.
• Hou dan op om haar te red, vir haar te dink of te preek, oplossings voor te stel, take te doen, te help met dinge wat sy kán doen, briefies van verskoning te skryf vir nalatigheid, gevegte vir haar te veg, vergete dinge aan te ry … maar wees daar vir emosionele ondersteuning. Sy moet weet jy glo sy kan dit doen. En jy sal haar ondersteun met die goed wat sy nie kan doen nie.
• Verwag weerstand en emosionele ongemak, onsekerheid, selfs angstigheid, druk, woede en verwyte, maar bly kalm, empaties en toon begrip vir sy gesukkel, onsekerheid en frustrasies.
Lees ook: Hoekom babas moet kruip
• Gee erkenning vir elke poging, samewerking, onafhanklikheid en stukkie verantwoordelikheid.
• Stel konsekwente grense – reeds op een jaar. Wanneer iets nie toelaatbaar is nie, mag dit nie soms toegelaat word nie.
• Sodra hulle iets op hul eie kan doen, is dit hul verantwoordelikheid.
• Leer hulle om beloning te kan uitstel; hul emosies en frustrasie te hanteer en te reguleer.
• Wys jou liefde met die dinge wat hulle nie vir hulself kan doen of gee nie: ’n drukkie; ’n briefie van waardering op haar kopkussing; om werklik met hulle, of jou maat, te gesels oor wat in elkeen van julle se onderskeie dae gebeur het en nie net oor reëlings nie; met die kinders te speel; saam te gaan oefen of koffie drink; hul maats tuis in jul huis te laat voel; klein verrassinkies, soos goedjies wat vir hulle spesiaal is.
Baie ouers glo ongelukkig dat hulle nie nabye emosionele bande met jou kind kan hê én ferm grense kan stel nie. Liefde beteken nie om alles te gee en te doen wat kinders vra nie, maar om op die regte tyd te gee en te doen wat kinders nodig het om selfstandige en verantwoordelike volwassenes te word. Dis nie wat jy vir jou kinders gegee of gedoen het nie, maar wat jy hulle geleer het om vir hulself te kan doen, wat hulle gelukkige en sukses-volle mense gaan maak.
Liefde beteken nie om alles te gee en te doen wat kinders vra nie, maar om op die regte tyd te gee en te doen wat kinders nodig het om selfstandige en verantwoordelike volwassenes te word
Jy doen te veel vir jou kind as:
• Jy dadelik beheer neem en planne maak sodra jou kind ’n probleem het.
• Jy vir hom dinge doen wat hy self kan doen en die meeste van sy maatjies ook al kan doen.
• Jou kind sukkel om op sy eie te werk en voortdurend iemand se hulp, aanmoediging of toesig nodig het.
• Jy oormoeg is en uitgebrand voel omdat jy die verantwoordelikheid moet dra vir elke enkele taak wat die res van die gesin moet doen.
• Jy hom red en eerder help as om toe te sien dat hy elders in die moeilikheid kom.
• Jou kind op jou staatmaak om sy probleme op te los.
• Jou kind dikwels dadelik spesiale en onverdeelde aandag eis, of ’n kabaal opskop.
• Jou kind jou kwalik neem of beskuldig wanneer dinge in sy lewe verkeerd loop: Ma het my nie onthou nie; Ma het vir my die verkeerde boeke of klere ingepak.
• Jy voel misbruik en ongewaardeerd. Jy doen soveel en daar is min dankbaarheid of erkenning daarvoor, maar gou-gou kritiek as dinge nie na sy smaak verloop nie.
• Jou kind veeleisend en baasspelerig is. Hy dring aan op dinge wat hy wil hê, of wat jy vir hom moet doen sonder om enigsins sy dankbaarheid te betoon.
• Jy glo as jy nie help nie, sal jou kind nie die mas opkom nie.
Ouers wat so oorbetrokke en “gehoorsaam” is dat hulle alles gee wat hul kinders wil hê en alles doen wat hulle vra, ervaar dat hul kinders al hoe ongehoorsamer, veeleisender en onverantwoordeliker word namate hulle grootword.
Lees ook: Jy kan jou kinders aan die lees kry