Om ’n goeie verhouding met tieners te hê, was nog nooit maklik nie, maar in hierdie tye wat so sonder grense is, waar alles maar toelaatbaar is, en met al die inligting, blootstelling aan en beskikbaarheid van drank, dwelms, pornografie, noem dit, maak dit moeiliker. Tog het die basis van goeie verhoudings en geluk deur die eeue dieselfde gebly: liefde, respek, vertroue en ’n fyn balans tussen vryheid en grense. Ouers kan seker maak dat hulle met ’n goeie en sterk band saam met hul kind die pad deur hul tienerjare met veiligheid en geluk loop.
Dinge wat help:
1. Kommunikeer jou liefde gereeld in woorde en dade. Maar nie wanneer jy hulle straf nie. Liefdesbetuigings moet soos liefde voel. Hoe kinders oor hulself voel, word al vroeg beïnvloed deur hul ervaring van hoe hul ouers oor hulle voel. Sê jy is lief vir hulle. Skryf dit in ’n briefie, of stuur ’n SMS. Wys jou liefde fisiek, almal het lyflike kontak en drukkies nodig. Dit sê meer as woorde.
2. Wees positief en gee komplimente. Vertel hulle daagliks hoe trots jy is op wat hulle reg doen. Maak baie meer positiewe opmerkings as negatiewe aanmerkings. Al lyk hulle hoe, soek iets in hul voorkoms wat vir jou mooi is. Moenie hul voorkoms kritiseer nie.
3. Kom uit by hul emosies en kommunikeer begrip. “Ek kan verstaan dat dit jou ongelukkig maak en dat jy dit graag anders wil hê.” Moenie dadelik al jou besware opper nie. “Ek kan verstaan dat ’n motorfiets vir ’n jong ou ’n baie gerieflike ryding kan wees en dat die gevoel van onafhanklikheid en wind deur jou hare heerlik moet wees.” En gee wat hulle wil hê dan in ’n wens (nie werklik nie). “Ek wens ek kon vir jou die motorfiets koop – dat dit nie vir jou gevaar sou inhou nie.” “Ek wens ek het die geld gehad om vir jou ’n splinternuwe fiets/kitaar/ motor te koop.” Dit sê jy verstaan sy behoefte, jy verstaan sy menswees. Dit beteken nie jy laat hom toe om wat ook al te doen wat gevaarlik kan wees nie.
4. Luister eers en gesels oor gewone goed. Vertel van jou dag – sonder om te kla. Vra uit (nie vis nie). As sy iets sê waarmee jy nie saamstem nie, wag eers met jou mening. Vra waarom sy so dink. Kom uit by haar motivering en motiewe. Gee haar woorde en argumente vir haar terug om seker te maak jy verstaan. “Verstaan ek jou nou reg, jy dink … ” en dan herhaal jy wat sy sê. Dit voorkom meer as sewentig persent van alle gevegte of mis-verstande. Dan eers sê jy: “Ék sien dit anders.” Dan gaan sy waarskynlik vra hoe jy dit sien. En nou is jou mening gevra, en het jy nie gekritiseer nie.
5. Doen moeite met hul vriende. Ken hul name, nooi hulle na jul huis toe, stel belang (nie net in wie hul ouers is nie). Vra jou kind watter eienskappe van die vriend vir hom aantreklik of oulik is voor jy kritiseer of jou afkeuring te kenne gee. Vra of daar goed aan die vriend is wat dalk soms pla. Dan sal jy weet of jy bekommerd moet wees, en of jou kind met realistiese oë na die vriendskap kyk.
6. Laat hulle kies: Jy kan nie meer hul denke, gevoelens of keuses bepaal of beheer nie. Laat hulle self kies watter klere hulle dra, aan watter sportsoort of aktiwiteite hulle deelneem, wanneer hulle studeer. Stel wye, maar vaste grense. Iets soos: Dis belangrik om gesond te wees en oefening te kry – dis ononderhandelbaar. Maar die tiener kies die aard van die oefening. In ’n goeie verhouding het ’n mens die meeste invloed.
7. Stel hul belange soms bo jou eie. Hulle moet weet hulle is vir jou baie belangrik. Stel soms jou program of voorkeur tweede vir iets wat vir hulle belangrik is. Dan is jy in ’n goeie posisie om dit ook van hulle te verwag.
8. Bederf hulle soms onverwags met koffie, of skep ’n alleentydjie vir julle twee. Mense deel nie maklik in ’n groep privaat dinge nie. Innige verhoudings ontwikkel nie in groepsverband nie. Daardie gevoel van nabyheid gaan oor baie meer as om ’n huis te deel; dit gaan oor emosies, die deel van ideale, om beskikbaar te wees, ingestel te wees – sonder om te versmoor.
9. Gee aandag en stel belang. As sy praat, los ’n slag waarmee jy besig is en kyk vir haar as sy praat. Vra uit en dra daarmee oor dat sy belangriker is as wat jy nou doen. Dit wys omgee en respek én dat jy haar waardevol ag. Gee op ’n ander keer weer aandag wanneer sy nie vra nie. Roep haar en sê jy mis haar en het behoefte om ’n bietjie met haar te gesels. Stel in haar aktiwiteite belang, vra uit en woon die dinge by waaraan sy deelneem.
10. Koop een kledingstuk met ’n bekende handelsnaam.
11. Fokus op nou. Los die ou koeie. Moenie vorige insidente of ander mense by jou gesprek of ’n argument betrek nie. Handel ’n probleem af, vergewe, vra verskoning as dit nodig is, en haal dit nooit weer op nie. Sulke kinders voel hulle het ’n kans en kan regmaak, anders voel hulle dit help nie eens om te probeer nie, want al die vorige oortredings word steeds teen hulle gehou. Kies fyn wanneer om te praat. Moenie aanhou en aanhou wanneer hulle nie wil praat nie. Die kans is goed dat dit net op konflik uitloop.
12. Doen dinge waarvan hy hou: luister saam na sy musiek; vra dat hy iets moet speel waarvan hy baie hou, ook iets waarvan hy dink jy sal hou; praat oor die mense wat hy bewonder; kyk saam na sy TV-programme; gaan vang vis. Ouers verwag dikwels hul kinders moet meer tuis wees, maar dan is daar weinig interaksie of saamdoendinge – elkeen gaan aan met sy eie goed. Vir tieners maak dit nie sin nie.
13. Respekteer hul privaatheid. Los hul selfone, tasse en kaste uit tensy daar werklik rede tot kommer is, soos skielike en baie vreemde gedrag.
14. Maak hul kamers hul eie. Maak jou oë toe vir hoe deurmekaar dit is. Hy moet net die gevolge daarvan dra – jy soek nie sy goed vir hom nie.
15. Wees eerlik en oop oor jou emosies sonder om jou probleme hulle s’n te maak. Sê jy het ’n slegte dag gehad en is moeg, geïrriteerd of bekommerd, en dalk moet julle later hieroor praat. Jy hoef nie al die besonderhede te deel nie. Hulle tel jou irritasie op en dink jy is geïrriteerd met hulle. Tieners kan verbasende begrip hê as hulle net weet waaroor dit gaan. Maar dis vir hulle sleg as hulle jou bui aanvoel en voel hulle moet dit nou ontgeld. Ouers kan nie verwag kinders moet oor hul emosies praat as ouers nooit bereid is om dit te doen nie.
16. Humor ontlont baie moeilike situasies. Hou dinge lig en lag dikwels saam. Probeer die komiese in baie situasies sien.
17. Sê eers “ja” en stel dan die voorwaarde. “Ja, jy kan enige tyd gaan as jou huiswerk klaar is.” Dit klink baie billiker as: “Nee, nie voor jou huiswerk nie klaar is nie.” Probeer dikwels “ja” sê, dan aanvaar hulle die “nee” makliker wanneer dit nodig is en voel hulle nie jy sê nooit “ja” nie. Gee redes as jy weier. Praat saam oor billike reëls, maar nie as julle kwaad is nie.
18. Spog met hulle (net nie voor hul maats nie). Vertel vanaand vir pa, ouma of sussie. “Ek was vandag so trots op Gert. Hy het ’n ouer vrou eerste laat loop / sy sussie so mooi gehelp met … “ Ons is so dikwels geneig om te fokus op alles wat hulle verkeerd doen: “Hy het vandag al weer … ”
19. Vertrou hulle en gee hulle vryheid en die geleentheid om verantwoordelik te wees – natuurlik altyd binne veilige grense. Laat hulle hul eie probleme oplos, hul eie take doen, verantwoordelikheid vir hul programme en skoolwerk neem. Moenie hulle oorbeskerm, of hul gewete of dagboek wees nie. As hulle iets vergeet, moet hulle die les leer. Laat hulle foute maak. Hou jou raad waar moontlik vir jouself, want ongevraagde advies word as kritiek beleef.
20. Stel ’n voorbeeld wat hulle kan navolg. Leef en doen die dinge wat jy wil hê hulle moet doen: Luister as hulle praat. Sê asseblief en dankie, eerder as om net opdragte te gee. Wees rustig as hulle ontsteld is. Leef prakties en emosioneel die waardes wat jy van hulle verwag. Dade spreek baie harder as woorde.
Anys Rossouw is ’n sielkundige in Menlopark Pretoria.
Lees ook: Wat om te doen as jou kind in ’n slegte verhouding is