Water is ’n onderwaardeerde wonderwerk. Dink net: water kan ’n skip laat dryf én deur jou vingers glip. Dit kook aartappels sag, en eiers hard. Daar is ’n oseaan vol water, en tog is skaarste ’n probleem.
Vandat klimaatverandering en ernstige waterbeperking ons in die gesig staar, besef ’n mens hoe kosbaar hierdie bron werklik is.
Afgesien daarvan dat waterbesparing die groen keuse is, spreek enige vorm van watervermorsing vandag van kortsigtigheid, oningeligtheid en ongesofistikeerdheid. Om water te bespaar, is die enigste vooruitdenkende opsie. Gelukkig is daar talle opsies.
As jy enige van die volgende doen, bring jy reeds jou kant:
Jy tap badwater 15 cm diep | Jy gebruik 180 liter water |
Jy tap badwater 10 cm diep | Jy gebruik 60 liter water |
Jy stort 7 minute lank, krane heeltemal oop | Jy gebruik 105 liter water |
Jy stort 4 minute lank, krane toe terwyl jy inseep | Jy gebruik 24 liter water |
Jy gebruik die volspoel-toiletknoppie | Jy gebruik 15 liter water |
Jy gebruik die halfspoel-toiletknoppie | Jy gebruik 9 liter water |
Jy gebruik ’n gewone skottelgoedwasser | Jy gebruik 40 liter water |
Jy gebruik ’n waterwys-skottelgoedwasser | Jy gebruik 12-20 liter water |
Jy was self op en gebruik minder water, sonder spoel | Jy gebruik 20 liter water |
Jy tap die ketel vol as jy net vir jouself tee/koffie maak | Jy vermors 1,75 liter water |
Jy tap 1-2 koppies water in die ketel | Jy vermors 0,25 liter water |
Jy gooi ekstra kookwater in ’n warmfles | Jy vermors 0 liter water |
Nog maniere om water te bespaar
- Jou krane het aeriators of kleppe om vloei te beheer.
- Daar is geen druppende krane in jou huis nie.
- Jy draai die kraan toe terwyl jy jou tande borsel.
- Jy skeer en was nie jou hare met ’n lopende kraan nie. Jy spoel net af in lopende water.
- Jy het ’n waterspaar-toilet of ’n halfliter bottel water in die tenk om minder water te gebruik.
- Jy gaan jou toilet gereeld na om te verseker dat dit nie water lek nie. (Hoe? Sit ’n bietjie kleursel in die tenk, en kyk of dit na onder toe uitloop. Maak die seël reg as dit water lek.)
- Jy spoel jou slaai en groente in ’n bak af en gooi die water in jou tuin of op jou potplante.
- Jy het ’n voorlaaier-wasmasjien omdat dit minder water gebruik as ’n dubbelbalie of toplaaier. Of jy gebruik ’n waterspaar-siklus of ’n masjien met ’n ladingsensor wat die watergebruik outomaties aanpas by die hoeveelheid water in die masjien.
- Jy het ’n watertenk vir reënwater.
- Jy het waterwys plante.
Volpunte vir hierdie twee
- Jy plaas bakkies onder jou geutaflooppype en vang douwater van jou dak af, vir potplante.
- Jy dra jou badwater tuin toe. Of jy staan in ’n skottel as jy stort, om die water vir jou tuin op te vang.
Lees ook: Plant slim, bespaar water