Maak 250 g botter in ’n voedselverwerker of met ’n houtlepel sag.
Skeur ’n groot hand vol pietersielie, grasuie, basiliekruid, kruisement, dille, marjolein, roosmaryn, tiemie, salie en dragon ruweg met jou hande, of kap dit fyn as jy dit so verkies (of maak jou eie kombinasies volgens wat verkrygbaar is).
Meng die kruie, uitgedrukte sap van ’n halwe suurlemoen, ’n klein uitjie, fyn gekap, ’n knoffelhuisie, fyn gekap, sout en gemaalde swartpeper na smaak, deur die sagte botter.
Verdeel die botter tussen 2 velle bakpapier en rol in rolletjies.
Gebruik saam met geroosterde groente, geskroeide beesfilet, of smeer sommer op ’n stukkie vars brood.
Droog jou eie kruie
Bind van jou gunstelingkruie, of kruie wat jy baie gebruik, in bossies saam en hang dit in jou kombuis op. Die kruiegeur sal jou kombuis vul en jy kan die gedroogde kruie in jou kos gebruik.
Kruie soos kerrieblare kan vir ’n paar sekondes in die mikrogolfoond gedroog word.
Kruie-olies
Gee meer geur aan jou alledaagse geregte met kruie-olies. Maak jou eie, of skaf vir jou ’n botteltjie aan.
Maak jou eie geurige olies
Verhit 250 ml (1 k) olyfolie effens - nie te warm nie. Voeg ’n hand vol kruie van jou keuse by, giet in ’n botteltjie en laat afkoel voor gebruik.