Hierdie mineraal sit die wip in jou stap omdat dit jou insuliensensitiwiteit verbeter. Vir dié wat nie weet nie: insulien is die hormoon wat jou selle in staat stel om glukose op te neem. Selle mét energie beteken jý is propvol energie. Dit is juis die probleem waarmee diabete, prediabete en mense met glukose-intoleransie sit – en waarom hulle kenmerkend moeg is.
Ondersoeke wys magnesiumaanvullers verbeter insulienwerking uitstekend. Dieselfde ondersoeke wys magnesium verlaag ook bloeddruk en cholesterol matig maar beslis. Die ondersoeke is juis met aanvullers gedoen. Maar jy kan meer magnesium inkry deur slim te eet.
5 planne vir 5 porsies magnesium per dag
- Eet ’n piesang as jou hapding by die werk.
- Werk met elke hoofmaal een van die volgende in: swartboontjies, sousboontjies, lensies of rys.
- Eet ’n heelgraantoebroodjie vir middagete.
- Eet hawermout vir ontbyt.
- Snipper spinasie in jou stowevleis en groentes. Dit kook weg – jou huismense sal nie eens weet hulle kry hul porsie spinasie nie.
Nota: Moenie sommer jou medikasie deur magnesium vervang nie. Jy kan meestal albei saam gebruik en dan jou medikasie verminder, mits die magnesiumaanvulling werklik jou bloedglukose, bloeddruk en so aan verbeter.
Lees ook: Kosse ryk aan yster