Peet Bothma, redakteur van Sondag, was voor sy koerantloopbaan in die polisie, en onder meer perssekretaris van die voormalige minister van wet en orde, Adriaan Vlok. Hy vertel hoe Madiba sý kop geswaai het.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }“Johannesburg is in die laat jare negentig as die misdaadhoofstad van die wêreld bestempel. In hierdie tyd het die Chinese Mafia, die Triads, ’n Chinese gesin van Johannesburg aangeval en die grusaamheid het hewige internasionale reaksie ontlok. Mandela, toe nog president, het moeite gedoen om by gemeenskappe betrokke te raak, en dit was nie ’n verrassing toe hy die Chinese gesin besoek nie. Ons joernaliste het in die straat gestaan en hoop op ’n foto en ’n paar woorde van die nuwe wêreld-ikon.”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }’n Uur later het ’n lyfwag kom sê die president wou hulle sien. Peet vertel hoe hulle soos stout skoolkinders in ’n ry teen die tuinmuur gaan staan het.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }“En hier kom die lang man na ons toe aangestap en stel hom as ’Nelson’ aan elkeen voor. Hy het gevra wie elkeen is, en ek antwoord hom in Engels. Toe bekyk hy my en sê in foutlose Afrikaans: ‘Ek lees elke dag Beeld – dis ’n baie goeie koerant. Julle doen goeie werk.’ Toe noem hy ’n paar kollegas se name en vra ek moet vir hulle groete stuur.”
Peet onthou sy verstomming, veral in die lig van sy polisie-agtergrond.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }“As polisieman was die ‘Rooi Gevaar’ baie werklik, en skielik word jy gekonfronteer deur iemand wat jy van kindsbeen af as die Antichris leer ken het. En hy glimlag vir jou, vat jou hand en sê jou naam. Baie keer daarna het Madiba my op nuuskonferensies op my naam genoem en elke keer was ek windgat daaroor. Hy het eiehandig duisende mense in die land se koppe gedraai.”
Annemarie van Niekerk, ’n rooi rose-medewerker wat nou in Nederland woon, het Madiba met die bekendstelling van die rolprent A World Apart ontmoet. Die fliek was op die memoires van Shawn Slovo, dogter van die anti-apartheidsaktiviste Joe Slovo en Ruth First, gegrond.
“Daar was daardie vreemde aand ’n byna euforiese opgewondenheid oor sy vrylating, maar dis getemper deur sy statige rustigheid. Mense praat altyd oor sy rustigheid, en as ek dit nie beleef het nie, sou ek gedink het dis heldeverheerlikende fantasie. Maar dis hoe hy was. Sterk, wys, sereen. Sonder meerderwaardigheid.”
Sy onthou hoe sy hom van ’n afstand dopgehou het, een van die min wittes en waarskynlik die enigste Afrikaanssprekende daar, en te beskroomd om haar te gaan voorstel. Toe kom stel hy hom aan haar voor, en vra haar uit.
“Huiwerig het ek vertel dat ek ’n Afrikaans-dosent aan die Universiteit van Vista in Daveyton was, en voor dit Afrikaans aan die Universiteit van Transkei doseer het. Daardie innemende glimlag het oor sy gesig gebreek, en terwyl hy my hand vasgehou het, het hy met my gepraat oor Afrikaans, die rol wat Afrikaners kan speel om verandering teweeg te bring, en oor sy geliefde Transkei, sy grootwordjare en die woeste Wildekus. Hy was vol belangstelling, wysheid en menslikheid. Hy sal altyd vir my die voorbeeld wees van vergewensgesindheid, wysheid, nugterheid, standvastigheid, vredeliewendheid.”
Sonja Carstens, joernalis, het hom op 23 Februarie 2007 op uitnodiging by sy vrou, Graça, se spoghuis in Maputo ontmoet om ’n einde te maak aan voortslepende gerugte dat hy oorlede is. Sy onthou hom as sjarmant en nederig.
“Ek moes vooraf onderneem om hom geen vrae te vra nie, want hy het toe al jare lank geen onderhoude toegestaan nie. Hy het my en die fotograaf, Antoine de Ras, in Afrikaans verwelkom, en gesê ons kan nou sien hy is gesond en makeer niks.”
Sy onthou dat sy voete geswel was, en dat hy aan die arm van sy wakende veiligheidsbeampte geloop het, maar steeds geskerts het.
“Dit gaan altyd goed met my as mooi, jong dames vir my kom kuier. Nou is ek in die moeilikheid. Die fotograaf word vir my kwaad. Hy is seker jaloers.”
Ek het geantwoord dat hy goed lyk. “Ek kan jou nie hoor nie. Jy praat met my soos ’n dame. Jy moet met my praat soos ’n man, dan sal ek jou kan hoor,” het hy met ’n breë glimlag gesê voor hy albei weer met die hand gegroet en bedank het.
Jenine Coetzer, radiojoernalis en uitvoerende vervaardiger van Engelse nuusdienste by Channel Africa Radio, het hom dikwels op internasionale konferensies in aksie gesien.
“Die meeste Afrikaleiers word deur gewapende reuse omring sodat jy op geen manier naby hulle kan kom nie. Maar Madiba was seker vir sy veiligheidsmense ’n nagmerrie. Hy het keer op keer weggebreek van sy bewakers en reguit na ons geloop om te kom groet met ’n hartlike ‘how are you’ en ’n handdruk, en gewoonlik het hy ook nog jou naam onthou.
“Tot vandag toe troon hy vir my uit as iemand wat nie sy persoonlikheid verloor het toe hy bekend geword het nie. Hy was altyd toeganklik, hartlik en nederig, ’n moderne profeet wat geleer het van vergifnis, aanvaarding, samewerking en brûe bou.”
Jeanne Els, skrywer en inspirasiespreker, het in Junie 1994 in Tuynhuys, Kaapstad, as vryskutjoernalis ’n uur lange onderhoud met Madiba gehad.
“Vir die eerste keer in my lewe het ek twee bandopnemers gebruik om die gesprek op te neem!”
Toe nooi Madiba haar ook vir ’n private ontbyt die volgende dag by sy staatswoning Genadendal. Wat het sy in hulle 120 minute saam ervaar?
“Opregtheid, nederigheid, respek vir sy medemens, ’n vlym-skerp intellek en ingeligtheid, ’n nuuskierigheid om nog meer te weet van sy naaste om nóg beter te kan begryp.
“Sy ligblou oë bly my by. En sy rustige stemtoon, die stem van ’n man wat ná 27 jaar in gevangenskap bevry geraak het. Hy het my geleer van vergifnis. Ek onthou sy woorde: ‘Jy wil die tyd wat vir jou oorbly, gebruik om iets konstruktiefs te doen.’ Hy het ook vertel hy kon nie sê wat sy familie vir hom beteken nie. Van sy gelukkigste oomblikke was wanneer hy by sy kinders en hul kinders was.”
Sy sê hy het haar nie een enkele keer in die rede geval nie.
“Ek onthou sy fyn luistervermoë, sy belangstelling in en opsomming van jou as mens. Hoe hy jóú eerste stel en in die kollig plaas. Hy het my voor ons ontbyt uitgevra oor my man en kinders, en agterna onthou ek het twee en dat hulle seuns is. Toe ons groet, het hy tot vir hulle groete gestuur.”
Amanda Strydom het Madiba in 2001 ontmoet toe hy die KKNK amptelik geopen het.
“Ek was deel van ’n groep sangers wat ná sy toespraak die volkslied moes sing. Aan die einde van sy toespraak – gelewer in foutlose Afrikaans – het hy die Groot Verseboek opgelig en gesê: ‘Afrikaans is vry!’”
Ná die sing van die volkslied het die vlootorkes ‘Mama Tembu’s Wedding’ gespeel en Madiba het sy bekende Madiba-shuffle begin dans. Amanda het spontaan begin saamdans.
“Ek het sy oog gevang, en hardloop toe deur sy lyfwagte tot in sy arms. Al wat ek kon uitkry, was ‘We love you!’, waarop hy in my oor gefluister het ‘I love you too’.”
Ná die fees is Amanda Durbanville toe vir nog optredes. Drie rottweilers het haar aangeval by die gastehuis waar sy gebly het, en nadat Madiba in die Afrikaanse koerante daarvan gelees het, het hy sy persoonlike assistent, Zelda le Grange, gevra om te reël dat hy Amanda besoek. “Ek kon dit nie glo toe Zelda bel en sê Madiba is besorg oor my nie!”
Madiba het Amanda toe by haar nuwe gastehuis besoek. “Hy het koeksisters en pepermenttee bestel. Ons het langs mekaar op ’n bank gesit en gesels, maar ek was so senuweeagtig en oorbluf dat ek nie geweet het wat om te sê nie. Hy was rustig en vriendelik en toe ons besef ons kom albei van die Oos-Kaap af, het ons soos kinders begin babbel. Hy het vertel hoe hy, toe hy nog ’n hofbode was en ’n baie klein salaris verdien het, aan die einde van elke maand eers sy losies betaal het, en dan koeksisters gaan koop het. Dit het vir my gevoel of ek in die teenwoordigheid van ’n heilige was. En ook ’n dierbare oupa. Hy het my laat voel asof ek die enigste en belangrikste mens in die vertrek is.”
’n Paar maande later is Amanda en haar man, Tony, genooi vir ’n private middagete by Madiba en Graça, en wéér ’n paar maande later saam met Joel Stransky en sy vrou.
“Ons het lekker gelag toe Madiba vir Joel sê het dat Joel hom byna ’n hartaanval besorg het met daardie beroemde skop aan die einde van die Wêreldbekerwedstryd in 1995. Madiba het my ook vermaan om nie te veel kaas te eet nie, want dit neem baie lank vir jou hart en spysvertering om dit te verwerk.”
Amanda en Tony is ook genooi na Madiba se 85ste verjaar-dagvieringe saam met uitgelese internasionale gaste, onder meer die Clintons, Oprah Winfrey en koninklikes.
“By Madiba het ek veral van vergifnis geleer. Hy het soveel in sy lewe beleef en oorleef, en kon so maklik arrogant, bitter en magsbehep uit die tronk gestap het, maar hy het nie. Die wêreld het asem opgehou vir ’n bloedbad in Suid-Afrika, maar dit het nie gebeur nie. Hy het almal in ons land met teerheid, liefde en waardigheid behandel. Hy het ons geleer wat grootsheid is, en opreg nederig gebly.
“Wat hy geglo het, het hy gelééf en gedoen. Hy het die swaarkry en die lesse wat die lewe hom geleer het, verwerk en toegepas. Daar is min helde in die geskiedenis van ons planeet wat soveel respek, bewondering en liefde van miljoene mense wêreldwyd afgedwing het soos Madiba.”
Monique Strydom, haar man, Callie, en 19 ander toeriste is 13 jaar gelede vir 127 dae deur Abu Sayyaf-rebelle op die Filippynse eiland Jolo as gyselaars aangehou. Sy onthou haar en Callie se eerste ontmoeting met Madiba vier dae ná hul vrylating.
“Die oggend het met ’n besoek aan president Thabo Mbeki begin. Terug by die hotel, doodmoeg van al die aandag, het die skakelbeampte by die hotel gevra of ons sal omgee om net nog een mens te ontmoet. Ons het nie geweet wie dit was nie, maar het ingestem. Ons is na ’n private onthaalvertrek geneem, en ons monde het oopgeval toe Madiba instap. Die lang man het ’n geweldige teenwoordigheid gehad. Ons het omtrent op aandag gespring, maar hy het ons styf in sy arms toegevou met ’n ‘welcome home, my children’. Ons kort en baie maer lyfies het in sy arms verdwyn, en vir ’n ruk het ons drie net so gestaan. Daar was geen kameras nie, geen voorgee nie – net een Suid-Afrikaner wat bly was vir sy twee landgenote se gespaarde lewe.”
Die Strydoms en Madiba se paaie het ’n paar keer daarna weer gekruis, onder meer toe hy hulle, hul families en die media kort ná hul vrylating vir tee genooi het, en toe die Strydoms as die Johannesburgse Persklub se Nuusmakers van die Jaar aangewys is. Hy het dié aand langs Monique aan tafel gesit, en was een van die eerste mense wat gehoor het sy is swanger. Omtrent ’n jaar ná hul seuntjie Luc se geboorte, het Madiba die Strydoms vir tee genooi om Luc te ontmoet.
“Madiba het ‘Twinkle Little Star’ gesing, en toe met Luc wegkruipertjie gespeel. Ons het roerloos in ons stoele na die twee sit en kyk. Op daardie oomblik was hy net ’n warm, gawe mens wat die geselskap van ’n seuntjie geniet het. Hy het gesê Luc was ’n spesiale seuntjie, want alle wit kindertjies huil as hulle hom sien, maar Luc het gelag.”
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.