Resep deur Rediscover Dairy
BESTANDDELE
1 koppie lae vet maaskaas (jy kan ook volroom of vetvrye gladde maaskaas gebruik)
4 groot eiers
10 eetl hawermoutmeel (85gms)
4 eetl gemaalde vlasaad of vlasaad meel (flaxseed)
4 eetl gekapte grasuie (opsioneel)
¼ teelp sout
¼ teelp bakpoeier
¼ teelp gemaalde swartpeper
80 gram gerasperde mozzarella of cheddarkaas (opsioneel) – ongeveer 10 g per wafel
METODE
Plaas al die bestanddele behalwe die kaas in ‘n bak en klits tot goed gemeng.
Laat staan vir 5 – 10 minute om effens te verdik en dat die vog deur die hawermoutmeel geabsorbeer word.
Verhit ’n kleefvrye wafelpan tot warm en gereed vir bak. Spuit liggies met kooksproei of gebruik bietjie olie indien nodig. As die wafelpan egter kleefvry is, benodig dit geen olie nie.
Sprinkel ‘n bietjie kaas liggies op die basis van die wafelpan wat jy gebruik en skep dan ongeveer ¼ koppie beslag op die pan. Die hoeveelheid sal wissel na gelang van die grootte van jou wafelmaker. Sprinkel nog ‘n bietjie kaas oor die beslag, maak die wafelpan toe en bak tot goudbruin aan albei kante.
Skep die wafel uit op ‘n opdienbord en bedien met ‘n gebakte eier, roomkaas, avokadopeer en salm.