Roomys word met vla as basis gemaak. Volg dié maklike stappe om dit reg te doen! So maak jy vla (crème anglaise): STAP 1 Prut 500 ml melk en 2 vanieljepeule saam in ’n kastrol oor lae hitte. Trek van die hitte af en laat vir 30 min. staan. STAP 2 Klop 4 eiergele en 125 g strooisuiker saam tot lig, dik en romerig – wanneer jy die klitser oplig, moet jy ’n agt met die mengsel kan vorm. STAP 3 DOEN DIT REG: Warm by koud en koud by warm. Keer dat die eiers skif deur net 125 ml (½ k) van die warm melk in ’n dun straal by die eiermengsel te gooi. Gooi die eier-en-melkmengsel terug by die res van die warm melk en roer deurentyd. Die melk moenie te warm wees nie, anders sal die eiers skif. STAP 4 Gooi die eier-en-melk-mengsel in ’n skoon kastrol (dis belangrik!) en verhit oor lae hitte. Roer vir 8-10 min. of tot die mengsel verdik. STAP 5 Toets of die vla gaar is: Doop ’n houtlepel in die vla. Die vla moet die agterkant van die lepel bedek en wanneer jy met jou vinger ’n ferm streep daardeur trek, moet die streep daar bly.Maak jou eie roomys
Instructions