Maak die perfekte pizza. Deur Vickie de Beer
• Maak ’n papierdun, krakerige pizzakors. Kry ons basiese pizzadeeg-resep hier.
• Keer die deeg op ’n meelbestrooide werkvlak uit. Verdeel die deeg in 6 balletjies en rol tot die verlangde dikte uit (ek verkies dit so dun moontlik).
• Verhit intussen ’n bakplaat in die oond tot baie warm (by 200 ˚C). Haal die warm bakplaat uit, tel die deeg daarop en halfbak dit tot die onderkant begin gaar word. So verseker jy dat die kors nie pap word nadat jy die tamatiesous opgesit het nie. Haal uit die oond, pak jou vulsels op en bak verder tot die kaas gesmelt en goudkleurig is.
#rooirosewenk
Dit is baie lekker om pizzabasisse in die vrieskas te hê vir vinnige middagetes of daardie aande wanneer jy nie kans sien vir kos maak nie. Bak die basis tot gaar, maar nie te bros en hard nie. Laat afkoel en pak in lagies met bakpapier tussenin. Draai goed toe in kleefplastiek. Vries vir tot 2 maande. Hou ’n blikkie gekapte tamaties met knoffel in die kas en siedaar! jy het ’n pizzasous in ’n kits. Ek rasper gewoonlik gelyke hoeveelhede mozzarella en cheddar en hou dit ook in die yskas om oor ’n pizza te strooi.
5 liplekker pizza-resepte