kategorieë: In die nuusJou lewe

Lucy Pretorius: as ’n veghond jou byt

Lucy (38) is besonder aantreklik, haar gelaatstrekke eweredig. ’n Hele paar koppe draai toe sy ligvoets by die restaurant instap. Net soms wanneer die lig op ’n sekere manier op haar gesig val, sien jy geringe littekens.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Nege jaar gelede was sy in ’n donker gat. Ná haar Amerikaanse veghond (pit bull terrier) haar aangeval het, het sy drie maande lank in haar huis weggekruip. Dit was te pynlik wanneer mense na haar gestaar het. Die nimmereindigende verduidelikings het haar uitgeput. Sy wou nie nuwe mense ontmoet nie en het soos ’n kluisenaar begin leef.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Net soos haar gesig, was haar selfvertroue ook aan flarde. Waar eens ’n neus was, was nou net ’n gapende wond. Dit sou jare duur voordat sy weer naastenby sosiaal aanvaarbaar sou lyk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hoe op aarde gebeur dit dat jou lieflinghond met sy innemende geaardheid skielik ’n verwoede aanvaller word?

“Ons was nog kinderloos toe ons die twee veghonde gekry het. Hulle het tot ’n skaars pit bull-bloedlyn behoort en ons het gereeld met hulle geskou. Ons was vreeslik lief vir die twee en hulle het selfs by ons op die bed geslaap.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Die voorval het op 2 Julie 2007 gebeur. Ek het agtergekom dat die reun, Thuso, wat ons toe al ses jaar gehad het die vorige week ietwat iesegrimmig was. Ek het daardie dag oudergewoonte met die honde gespeel en was op my knieë voor Thuso, wat op sy matjie gesit het, toe ek my man, Dewald, vra om die hondekos in die motorhuis te gaan haal. Die teef, Layla, is agter hom aan.”

Sy bly ’n rukkie stil.

“Toe hulle van die motorhuis af terugkom, leun die reun vorentoe en byt my skielik in die gesig. Ek dink Thuso wou by hulle uitkom en saam met hulle stap. Ek dink ook hy was jaloers op Layla.

En ek was maar net in sy pad …

“Ek dink tot vandag toe dit was nie moedswillig nie. Ek vermoed sy optrede kan aan instink toegeskryf word. Ek dink steeds veghonde is pragtige diere. Enige hond kan, afhangende van sy grootte en kakebeen, skade aanrig wanneer hy byt.”

Wat het deur haar gedagtes geflits toe sy gebyt is?

“Ek het vanweë die adrenalien aanvanklik niks gevoel nie. Ek het ook nie werklik besef wat gebeur het nie. My man was skaars twee meter van my af toe die hond my weer gryp. Hy het eers vir my nek gemik en my toe aan my regterbors gehap. Dit was gelukkig winter en ek het dik klere aangehad sodat daar nie nog beserings was nie. Toe ek skree, draai my man om en gooi Thuso met die sak hondekos om hom van my af weg te kry. As dit nie daarvoor was nie, het die hond my verskeur. Hy sou my doodgemaak het.

“Die volgende oomblik was dit asof niks gebeur het nie. Toe ek orent kom, vra my man my waar my mediese fondskaart is, want ons moet hospitaal toe. Hoewel ek die bloed gesien het, het ek nie gedink dis so erg nie.

“Ek het ’n handdoek gegryp en is motorhuis toe. Toe die motorhuis se lig aangaan, het ek my weerkaatsing in die motorruit gesien en vir die eerste keer besef wat gebeur het.”

Sy was stom van skok toe sy besef haar neus is heeltemal afgebyt. By die naaste hospitaal kon hulle niks vir haar doen nie.

“Ek het my gesig verberg sodat die ander pasiënte nie moes skrik nie. Hulle het my net ’n inspuiting vir die pyn gegee en toe begin rondbel om ’n plastiese chirurg in die hande te kry. Vergeefs.
Uiteindelik was ’n Pakistanse dokter in die stad bereid om haar daardie aand om negeuur te sien. Sy is na die hoësorgafdeling toe geneem maar omdat die operasie tot sewe uur lank sou duur, kon hy haar eers die volgende dag opereer.

“Die volgende oggend bring die dokter sulke dik mediese boeke en verduidelik wat hy gaan doen. Ek het gedink dit gaan sommer blitsig afgehandel word. Toe nie.

“Die dokter wou weet waar my neus is, en het my man gevra om daarna te gaan soek, want hy kan niks met oorgeplante vel vir ’n nuwe neus sonder kraakbeen doen nie.

“Uiteindelik het Dewald toe die neus in die gang gekry. Hy het dit in ’n Tupper-bakkie met ’n bietjie soutwater gesit en dit hospitaal toe gebring. Maar daar was niks van die kraakbeen oor nie.”

Nog ’n skok het op haar gewag. Die dokter het beduie dat haar voorkop oopgesny gaan word en die vel van haar voorkop oor die gat getrek gaan word waar haar neus was. Rekonstruksie sou eers ná ses weke begin nadat nuwe bloedtoevoer vir die vel geskep is.

Die dokter is terug Pakistan toe. Lucy het ’n ander plastiese chirurg gaan spreek. Die onsimpatieke man het haar een kyk gegee en gesê die Pakistanse dokter het ’n gemors van alles gemaak.

“Hy het al my hoop vernietig. Ek het lus gevoel en slinger myself by my motor uit terwyl ek op die snelweg jaag.”

In Desember 2008 het sy by dr. Jacques Viljoen, ’n oor-neus-en-keel-spesialis uitgekom. “Hy het my ge-fix. Dr. Johan van Wyk, ’n plastiese chirurg, het hom bygestaan.”

Dit was ’n uitmergelende proses om weer “aanvaarbaar” te lyk. Kraakbeen is uit haar ore en ’n rib gehaal vir die opbouproses en ook van ’n beenbank verkry. Die rib was ná die proses onsettend pynlik.

Sy lag.

“Daardie oorskietkraakbeen is nog in ’n botteltjie in my yskas. Met elke operasie is die botteltjie in my tas gepak en saam hospitaal toe.”

Sy was 18 keer onder die mes. Soms is sy net vir infeksie behandel.

“My selfbeeld was geknou. Ek het die situasie glad nie goed hanteer nie. Dit het sewe maande geduur voordat ek ’n klein verbetering gesien het, en ses jaar voordat ek vir myself in die spieël kon kyk.”

Lucy is ná drie maande terug werk toe. Sonder ’n gesigskerm. Die gat op haar gesig is toegemaak maar sy het nie ’n neus gehad nie. En as persoonlike assistent moes sy daagliks met die publiek werk.

Haar destydse direkteur het ’n e-pos aan almal in die maatskappy gestuur en hulle vertel wat gebeur het. Almal het van die ramp geweet en almal het daaroor gepraat. Haar kollegas is versoek om haar ruimte te gun.

“Ek het gewonder of ek ooit weer normaal gaan lyk. Almal het neuse. Of dit nou groot of klein is.”

Daar was boonop probleme met die vel wat aanvanklik oorgeplant is omdat dit te kort gesny en te styf was. Dus was daar nie werklik elastisiteit nie. Toe is nog ’n stuk vel tussen haar oë vir die verdere opbouproses gebruik. Ná elke prosedure moes die vel eers genees, die steke uitgehaal word en moes sy tot vier maande lank op die volgende operasie wag.

“Dit was ’n konstante gewag. En intussen moes ek met my lewe voortgaan. Ons het getrek en ek het nuwe bure gekry vir wie ek skaam was. My huwelik was onder druk, ek was depressief, het angsaanvalle gekry en gesukkel om te slaap. Min mans sou dag na dag met my kon saamleef maar my man het dit so goed hanteer.

“Gelukkig het ’n wonderlike sielkun-dige, dr. Hermann Liebenberg, my deur die proses gehelp. Dit was steeds nie maklik nie. Hy kon my die vaardighede en hoop gee maar ek moes besef dit sou tydrowend wees.

“My geloof het my elke dag krag gegee. Die Here het voortdurend met my gepraat en deur Sy Woord bevestig dat Hy my van binne en buite heel sou maak. En Hy het.”

Vier jaar ná die voorval, op haar tiende huweliksherdenking, het Lucy onbepland swanger geraak. Dit het haar onkant betrap. Dit was ’n skok, want sy wou eers volkome herstel.

Tog kan sy haar nie haar lewe sonder haar kind voorstel nie.

“Die ongeluk kon soveel erger gewees het. My vyfjarige seuntjie, Liam, kon die slagoffer gewees het.”

Vandag is sy gelukkig. Baie mense herken haar nie meer nie. Maar nie omdat haar gesig geskend is nie. Kyk jy na foto’s van haar wat voor die ongeluk geneem is, lyk sy nou selfs mooier. Haar neus is smaller, sy het weens stres 10 kg gewig verloor en omdat van haar donker hare byna oornag grys geword het, het sy haar hare ligter gekleur.

Haar raad aan enigiemand wie se gesig geskend is, is om aan te hou hoop en bid. Niemand kan vir jou ’n tydlyn gee nie. Moenie huiwer om ’n tweede mediese mening in te win nie.

En troeteldiere?

Sy het ’n pragtige Siamese kat maar is nie bang vir honde nie. Sy wil vreesloos leef.

“Vrees hou jou terug van groot dinge in die lewe.”

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Kry katte en honde ook Alzheimersiekte?

Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…

6 hours Gelede

Hoe om die kleredragreëls op uitnodigings te verstaan

Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…

6 hours Gelede

Is jou kleinding se sintuie oor- of ondersensitief?

Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…

6 hours Gelede

Waatlemoen-pizza met gebraaide feta

Die nuwe (en gesonder!) pizza - in slaai-vorm!

6 hours Gelede

Bessiejellies

Genoeg vir 6 Bestanddele   625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…

6 hours Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Len Muller oor sy passie vir musiek en sy gesin

Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…

7 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.