Lucy met die mooi stem
Die vrou wat die kreatiwiteitskursus aanbied, skryf so vyf woorde op die bord. Ons moet vannag ’n storie gaan skryf na aanleiding van een van die vyf woorde. Ek kies weeluise: ek kén van weeluise. Kleintyd in die Bosveld was weeluise sinoniem met gopse.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Ek dink dit was Nellie wat eerste gesê het: “Is daai Lucy wat die weeluise hier aangedra het.”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Ek was nogal jammer vir die nuwe meisie, Lucy. Sy was groot, met growwe rooi hare en skurwe elmboë. Sy het van die stasie af gestap met haar tas onder haar arm vasgeklem – die handvatsel was afgebreek en die tas was met ’n stuk tou toegebind. Maar as dit sý was wat die weeluise hier aangedra het, was haar lot verseël.
En Dolfie van oom Dikdolf van die onderdorp het die laaste spyker ingeslaan: “Pra’ julle nou van Lúcy of van Lúisie?”
Luisie was nie dom nie, en sy kon ’n diskus gooi dat hy wéét. Sy het hard gewerk, stil haar gang gegaan, ná die vakansie van die huis af gekom met ’n pot stinkroom vir haar hakskene en elmboë … en daar was weer weeluise in ons kamers.
Ek het ’n kitaar gehad – ’n luukse vir ons koshuis-plaasjapies. My ma het seker maar drome gehad dat ek ons familie Kersfees om die Kersboom sou kon begelei, maar my vingers het maar stram gebly. So in die derde kwartaal kom sit Luisie langs my teen die stam van ’n droë doringboom.
“Anna, sal jy vir my leer speel?” het dit gekom dat ons so half maats geword het. Sy het die kitaar baie gouer as ek baasgeraak, het ’n mooi altstem gehad, was lief om sulke sleperige country-liedjies te sing. Gertjie was ons bure se seun, nie so fluks by die boeke nie, maar ’n aanwins op die sportveld. En metterjare het hy Gert geword. Die meisies het pouses die seuns geweeg – hy was een van die min wat nie te lig bevind is nie. In standerd nege het ons ’n operette opgevoer: ’n Soen val uit die hemel. Die meisies was vrééslik opgewonde, die seuns glad nie. Die sangjuffrou het iedereen getoets: Gert het die hoofrol gekry. Ons meisies het almal ons bes probeer, maar Luisie was eintlik al een wat tot agter in die saal kon sing.
Nellie se mond was natuurlik goed dik: “Ek glo dit nie, ek glo dit net soos in glád nie. Waar het jy nou al ooit ’n Rooi Reus as Romantiese Heldin gesien? Die hele konsert gaan ’n flop wees – ek gaan beslis nie deelneem nie.”
En Dolf van oom Dikdolf: “Jy beter oppas, ou Gert. Jy ka’ ontsmet soos jy wil, da’s altyd wee’ luise!” En hy val op sy rug soos hy lag vir sy eie simpele grappie.
Die konsert was ’n sukses, ’n reusesukses. Luisie het die hele kwartaal lank haar arms en bene ingevryf met haar ouma se bokvetmengsel. Die juffrouens het haar harde hare gevleg met strikke in en base en rouge oor haar sproete gesmeer en vir haar ’n lang skirt gemaak wat styf om haar middel gepas het. Gert was toe al groot, net so lank soos sy. En hy was heeltyd vriendelik met haar, het grappies gemaak, het selfs op die laaste aand vir haar tjoklits gegee wat sy ma gekoop het. En op die laaste aand het die mense opgestaan toe hulle geklap het en Gert en Luisie moes weer hul laaste liedjie sing.
Die volgende jaar was die laaste skof: ons moes hard leer. Ons was net sestien in die klas, agt meisies en agt seuns. Die matriekafskeid sou plaasvind net ná ons ons laaste vak geskryf het, maar dis heeljaar deur druk beplan en bespreek. Nellie het haar Jannie de Villiers-rok en haar bust bodice en haar step-in by Brideto- Be in die stad gaan koop.
“Ek hoor ou Gogga gaan vir Luisie ’n rok koop,” skinner Truida.
“Máák, more likely,” snip Nellie. “’n Mens kan nie sulke outsize aandrokke koop nie. Miskien kan hulle sommer ’n fril aan haar konsertrok werk.”
“Saam met wie gaan jy, Nel?” probeer ek die gesprek verander.
“Dolf het my gevra, maar ek het nog nie ja gesê nie. Ek dink eintlik ek en Gert sal ’n beter couple maak.”
Die volgende middag kom sit Luisie langs my waar ek langbeen in die son sit en tan. Sy druk ’n paar akkoorde op die kitaar, begin een van die konsertliedjies so halfpad neurie en vra dan skielik: “Anna, weet jy of Gert al iemand vir die matriekafskeid gevra het?”
Die matriekafskeid was ’n droom. Gert het my op die plaas kom haal met sy pa se kar, en vir my ’n blom gebring. Die skoolsaal was omgetower in ’n woud en ná die ete het ons deur die dorp geloop met ons mooi klere aan en by al die onderwysers se huise gaan serenade. Nellie het saam met Dolf met die puisies en die klam hande gegaan, en teen die end van dieaand het hulle ge-fight, want hy wou aan haar tieties vat.
Luisie het ’n mooi rok aangehad en een van die juffrouens het betaal dat tannie Ellen ook haar hare in ’n French roll met ’n blom in draai. Maar Luisie het nie ’n maat vir die matriekafskeid gehad nie en het ook nie later saam met ons gaan serenade nie.
Want sien, elke keer as sy ná ’n vakansie van die huis af gekom het, was daar weer weeluise in ons koshuis.
Die volgende dag lees ek my storie vir die groep voor.
“Jaaa, dis ’n goeie vertelling,” twyfel die vrou wat die kursus aanbied, “maar dis nog nie ’n storie nie. Iets moet gebeur – wat word van Lucy?”
Gelukkig weet ek, want jare later het ek Lucy weer raakgeloop. Of dan, sy het ons raakgeloop. Ek en Nellie het af en toe gaan tee drink in die stad. My kinders sê Nellie is my welsynsgeval: Die lewe het haar nie presies behandel soos sy beplan het nie. Dan gaan haal ek haar in die munisipale huisie waar sy vir die lewe wegkruip, en ons drink tee en gesels oor diegoeie ou dae, en ek luister na haar kinders se jongste skandes en skades.
Die vrou wat by die deur van die koffiekroeg inkom, is lank en regop, nie wat jy mooi sal noem nie, maar goed versorg en smaakvol geklee.
Sy gaan staan langs ons tafeltjie, kyk my reguit in die gesig en sê met haar diep stem: “Is dit nie Anna Potgieter nie?”
Toe ek die stem hoor, weet ek: “Lucy Putter! Ek glo dit nie! Is dit regtig jy?” “Luisie Putter?” vra Nellie verstom, lyk of sy ’n spook gesien het.
“Kom sit,” herstel ek vinnig en wys na die oop plek aan ons tafel. “Drink saam tee, ons het al bestel.”
“Dit sal heerlik wees, dankie. Ek is honger, kom ek skiet julle vir middagete dan kan ons lekkerder gesels.” Sy loer na haar horlosie. “Het julle tyd?”
Nellie sit steeds soos Lot-se-vrou, ek voel jammer vir haar.
“Dit sal heerlik wees, dankie,” besluit ek vir ons albei. “Maar jy lyk góéd, Lucy, begin vertel wat jy alles met die lewe gedoen het.”
“Ag, nie veel nie. Ek wou sangeres mos word, maar toe … Onthou julle vir Dolf Roux?” “Dolfie van die onderdorp?” kry Nellie haar tong vir die eerste keer terug.
Lucy glimlag. “Ná matriek was ons eintlik al wat op die dorp oorgebly het, toe het ons maar maats geword. Dolf het begin bou, hy was mos altyd ’n praktiese mens, onthou julle? Toe ’n groot chemiese fabriek sy aanleg op ons dorpie vestig, was daar ’n geweldige oplewing in die boubedryf. Dolf het ingespring, dag en nag gewerk, ek het vir hom sy administrasie behartig en so het ons ons opgebou – letterlik,” lag sy. “Is julle toe getroud?” skaap Nellie.
“So tussenin, ja,” vertel Lucy verder, “vier seuns ook gehad. Hulle behartig nou die besigheid, Dolf en ek gaan aan die Kaapse suidkus aftree. Maar genoeg van my. Vertel vir my jul stories.”
Ek vertel van my wel en wee deur die jare, Nellie versin vir haar ’n gelukkiger lewe, ons hoor dat Gert ’n predikant op ’n naburige dorp is, Nellie vertel dat Truida ’n paar jaar gelede tragies verongeluk het. Voor ons tot siens sê, ruil ons telefoonnommers uit en belowe om van nou af kontak met mekaar te behou.
Die aand sê ek vir my man: “Ek het vandag ’n ou skoolmaat van my raakgeloop. Ons het gedink sy sal vir ewig in die gopse bly, maar sy het sowaar bo uitgekom. Wys jou wat gedoen kan word as ’n mens net wil.”
Ek save my storie, oorweeg dit om die titel te verander na Drie gryskoppe eet saam, besluit daarteen en tap vir my ’n warm skuimbad in. Terwyl ek my oorgee aan die luukse, wonder ek tog wat van Luisie geword het. Maar eintlik weet ek: Die regte lewe is anders. ’n Soen val net nie uit die hemel nie, en die lewe verg veel meer as net ’n mooi stem of harde werk om jou op te hef bo jou weeluis-lot.
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.