kategorieë: Bekendes

Louise Hay: die doyenne van selfhelp

Deesdae is die denkrigting dat daar ’n verband bestaan tussen jou gedagtes en die gebeure wat in jou lewe ontvou, glad nie nuut nie, maar in die jare sewentig het Louise Hay baanbrekerswerk op dié gebied gedoen.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Sy sê onomwonde: “Ek is een met die Mag wat my geskep het. En hierdie Mag gee ook aan my die mag om my eie omstandighede te skep. Dis vir my wonderlik dat ek die mag van my denke op enige manier kan gebruik.” Sy weier om haar “mag” af te staan deur mense of omstandighede te blameer vir wat in haar lewe gebeur. “As ons vrede en harmonie en balans in ons denke skep, sal ons dit ook in ons lewe ervaar.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“As ons vrede en harmonie en balans in ons denke skep, sal ons dit ook in ons lewe ervaar”

Louise se bekendste boek, You can Heal your Life, is in 37 tale vertaal en meer as 35 miljoen eksemplare daarvan is wêreldwyd verkoop. Maar die grondslag vir haar roem is in 1976 gelê met die verskyning van haar heel eerste boekie, Heal your Body, wat bekend gestaan het as die “klein blou boekie”. Daarin het sy die aandag gevestig op moontlike emosionele en psigologiese oorsake van siektes en skete. Haar boodskap was duidelik: deur lief te wees vir jouself en deur bewustelik positiewe gedagtes te dink, kan jy jou van siektetoestande genees. In die boek gee sy ’n uitgebreide lys van siektes, moontlike gedagtepatrone wat daartoe lei en aanbevelings vir nuwe, genesende denkpatrone.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Baie sogenaamde selfhelpkundiges verkondig deesdae die teorieë oor positiewe denke sonder dat hulle dit enigsins getoets het, maar Louise Hay se lewe was so gebroke dat sy die prosesse van heling op haar eie moes uitwerk. Wat vir haar gewerk het, deel sy met die wêreld deur haar boeke, CD’s en rolprente. Vandag is sy een van die vroue wat wêreldwyd die meeste boeke verkoop het.

Louise het in die depressie in armoede grootgeword. Sy was skaars vyf toe ’n buurman haar verkrag het – die begin van ’n patroon van onsedelike aanrandings wat deur haar gewelddadige stiefpa voortgesit is. Asof dit nie genoeg is nie, was buitengewoon harde, fisieke werk ewe veel deel van haar kleintyd.

Haar selfbeeld was, tipies van mishandelde kinders, baie laag en min dinge het vir haar reg verloop. Sy vertel van ’n partytjie by die skool waar daar koek in oorvloed was. Baie kinders het twee of selfs drie porsies gekry en toe sy, heel laaste in die ry, by die tafels kom, was die koek op. Sy sê: “Vandag kan ek duidelik sien hoe die konsep: ‘Ek is niks werd nie en ek verdien niks nie’, veroorsaak het dat ek laaste in die ry was en nie koek gekry het nie. Dit was my patroon, die weerspieëling van my opvattings.”

Tien jaar later, op 15, kon Louise die seksuele aanranding nie meer verduur nie. Sy het van die huis af weggeloop en teen ’n skamele vergoeding as kelnerin gaan werk. Uitgehonger vir liefde en aanvaarding het sy los seksuele verhoudings met mans aangeknoop. Die gevolg van dié roekelose gedrag was dat sy op 16 ’n babadogtertjie gehad en vir aanneemouers gegee het.

Sy sê: “In hierdie omstandighede kon ek nie die vreugde van moederskap ervaar nie. Ek het net gesit met die verlies en die skuld en die skande.” Sy het nooit weer ’n kind gehad nie.

In 1950 is sy New York toe waar sy modelwerk gedoen het. Sy het haar naam verander na Louise en haar man, Andrew Hay, ontmoet. Sy beskryf hom as ’n wonderlike man saam met wie sy ’n glansryke lewe gehad het. Hulle het die wêreld vol gereis, saam met koninklikes gekuier en selfs in die Amerikaanse Withuis geëet. Tog het haar selfbeeld laag gebly en toe haar man ná 14 jaar aankondig dat hy wil skei om met ’n ander vrou te trou, het haar wêreld in duie gestort. Uit die emosionele rommelhoop sou haar innerlike helingswerk begin.

In retrospeksie kon Louise insien hoe haar denkpatroon die negatiewe in haar lewe ingelok het. Oor die brutale mans wat haar mishandel en dikwels geslaan het, sê sy dis haar patroon van waardeloosheid wat hulle aangetrek het. Dit kon die res van haar lewe so verloop het, maar deur die innerlike werk aan haar denke en gevoelens het sy daardie soort mans ontgroei. “Ek kan nie goedpraat wat sulke mans doen nie, maar as dit nie ‘my patroon’ was nie, sou hulle nie tot my aangetrokke gewees het nie. Deesdae weet ’n man wat vroue mishandel nie eens dat ek bestaan nie. Ons patrone trek mekaar nie meer aan nie.”

Die dag toe sy by die Church of Religious Science (CRS) ingestap het, het Louise se lewe eers regtig verander. Die CRS is ’n “kerk” wat die transformerende krag van ’n mens se gedagtes verkondig het. “Ek het gehoor iemand daar sê: ‘As jy bereid is om jou gedagtes te verander, kan jy jou lewe verander.’ My mond het oopgeval. Régtig? het ek gewonder en ek, wat nooit eens ’n student was nie, het daar en dan begin lees en nogmaals lees.”

‘As jy bereid is om jou gedagtes te verander, kan jy jou lewe verander’

Haar leesstof was die metafisiese geskrifte van skrywers van die vroeg twintigste eeu, soos Florence Scovel Shinn wat daarvan oortuig was dat positiewe denke jou materiële voorspoed kan beïnvloed, asook Ernest Holmes wat mense geleer het dat positiewe denke jou liggaam kan genees. Sy het kursus ná kursus by die kerk voltooi en drie jaar later as ’n gelisensieerde CRS-praktisyn gekwalifiseer. Sy kon met haar lewenswerk as berader begin. Sy sou dit uitbou deur verdere studie aan die internasionale Maharishi-universiteit in Fairfield, Iowa. Hier is geen rook, drank of dwelms toegelaat nie en studente moes vier keer per dag mediteer.

Benewens haar voltydse beradingswerk is Louise mettertyd ook gevra om te reis, lesings aan te bied en klein klasse te onderrig. In dié tyd is die “klein blou boekie” met sy sielkundige oorsake vir fisieke ongesteldhede gepubliseer. Alles het net vir haar begin reg loop toe servikale kanker in die jare sewentig by haar gediagnoseer is. Dit was ’n reuse-skok. Sy beskryf hoe paniekbevange sy aanvanklik was, maar danksy haar oortuiging dat genesing in jou denke begin, kon sy die skok en paniek te bowe kom. Sy het immers haar blou boekie geskryf en het geglo dat kanker voortvloei uit ’n diep wrokkigheid en gegriefdheid wat oor ’n lang tyd volgehou word totdat dit letterlik die liggaam begin wegvreet. “Ongeneeslik” beteken vir haar dat ’n siekte nie met uiterlike middele genees kan word nie en dat jy in jou innerlike na die kuur moet gaan soek. Sy sou moes leer om haarself lief te hê en deur vergiffenis haar wrokkige gevoelens oor haar mishandeling en verkragtings oorkom.

Sy het teen mediese ingryping besluit. Met ’n streng roetine van die herhaling van positiewe gedagtes, sielkundige terapie, gesonde voeding, refleksologie en ander natuurlike middele het sy haar sielkundig en fisiologies gereinig en die kanker oorwin. Sy beskryf dié proses in haar boek, You can Heal your Life.

Haar sukses met dié soort heling ten spyt, sou Louise Hay waarskynlik onbekend gebly het as dit nie vir die HIV/vigs-pandemie was nie. In 1980 het sy Los Angeles toe verhuis waar sy ’n beradingspraktyk gevestig het. Onder haar kliënte was gay mans wat haar gevra het om ’n ondersteuningsgroep vir gay mans met vigs te begin. Die eerste aand was daar net ’n klein groepie mans. Sy het bely dat sy nie ’n benul gehad het van wat om met hulle te doen nie, maar ’n selfbejammeringsbyeenkoms sou dit nié wees nie. Die aand is omgesels, positiewe gedagtes is herhaal en hulle het selfs gesing. Die volgende dag het een haar gebel en gesê: “Ek het gisternag die eerste keer in drie weke geslaap.”

Dit was die begin van haar sogenaamde Hayride-groep wat in ’n kort tydjie gegroei het tot meer as 800 mans wat een maal per week bymekaargekom het. Dit was die beginjare van vigs en daar was weinig ondersteuning vir dié mense. Louise vertel dat van die mans se ma’s soms saamgekom het en dat hulle elke keer ’n staande toejuiging van die mans gekry het. “Die pa’s het byna nooit gekom nie. Hulle kon nie hul seuns vergewe nie.” Louise het selfs by van die mans se begrafnisse voorgegaan. “Wie anders sou dit doen?” vra sy. “Tradisionele godsdiensgroepe wou nie aan hulle raak nie.”

Omdat haar groep so suksesvol was, is sy genooi om as gas op die Oprah Winfrey-program te verskyn. Dit het haar boek You can Heal your Life op die trefferlyste geplaas en daarna was Louise Hay se sukses ’n gegewe.

In 1984 is haar uitgewery, Hay House, in haar woonkamer begin. Dit was aanvanklik ’n klein onderneming wat nie goed bestuur is nie; die finansies was veral ’n gemors. In ’n artikel oor Louise in die New York Times skryf die joernalis Mark Oppenheimer dat die uitgewery waarskynlik gou tot niet sou gegaan het as Reid Tracy nie in 1988 as boekhouer by hulle aangesluit het nie. In 1998 het hy president van die firma geword. Reid het ook geld in die maatskappy belê en tans is hy en Louise  die enigste aandeelhouers.

Reid het visie gehad en besef dat, afgesien van boeke, ook dagstukkalenders, CD’s, motiveringskaarte en dergelike produkte  groot verkopers sou wees. Vandag is Hay House ’n vooruitstrewende onderneming wat miljoene boeke, video’s, CD’s en ander produkte wêreldwyd verkoop. Bekende skrywers in die selfhelpbedryf, soos Wayne Dyer, Deepak Chopra en Doreen Virtue se boeke word deur Hay House uitgegee.

Louise se filosofie word ook deur Hay House Radio uitgedra. Dis ’n webgebaseerde radiostasie wat in 2005 begin is en dertig uur per week programme deur bekende Hay House-outeurs aanbied. Die selfontwikkelingsveld is blykbaar onversadigbaar.

Van ’n mishandelde, stukkende mens het Louise gegroei tot die doyenne van selfontwikkeling. Selfs nadat sy haarself genees het, moes sy nog brokstukke van haar verhouding met haar ma en haar suster optel. Sy het baie jare nadat sy van haar ouerhuis af weggevlug het, eers gehoor dat haar stiefpa sy mishandeling en aanrandings na haar sussie toe verplaas het. Haar ma is in 1985 oorlede, maar hulle het mekaar voor haar dood reeds vrygemaak van blaam en ongelukkigheid. Die herstel van ’n goeie verhouding met haar suster is ’n voortdurende proses, met Louise wat die veilige atmosfeer skep waarbinne hulle verskillende helingspaaie kan beproef.

Louise Hay is op 83 ’n skatryk vrou, maar sy leef blykbaar betreklik eenvoudig in haar huis in San Diego, Kalifornië. Sy is klein, blond en broos, maar met ’n op-en-wakker lewenshouding.

Mark Oppenheimer beskryf haar as “the hip older aunt rather than the sensible grandmother.” Haar opvatting oor die noodsaaklikheid van liefde en respek vir jouself strek ook uit na die omgewing. Sy probeer “groen” leef en haar organiese groentetuin is haar trots. Daarby ry sy in ’n klein Smart-motortjie wat lig op brandstof is. Op 75 het sy met joga begin en ’n jaar later met danslesse. Dit alles hou haar soepel en fiks. Sy volg ’n eenvoudige dieet met volop vars vrugte en groente en bring haar dae deur met tuinmaak, skilder en kook.

“She is the hip older aunt rather than the sensible grandmother” – Mark Oppenheimer

Louise se blywende erflating is haar filosofie oor positiewe denke. Enkele hoofpunte daarvan is:

• Elkeen is verantwoordelik vir wat in sy lewe gebeur.

• Die gedagtes wat ons dink en die woorde wat ons uitspreek, skep ons omstandighede.

• Ons kies wat ons wil dink, en ’n gedagte kan verander word.

• Gegriefdheid, ’n kritiese houding, skuld, woede en vrees is die skadelikste emosies.

• Ons moet die verlede laat gaan en om dit te doen, moet ons bereid wees om te vergewe.

• Alle siekte spruit uit ’n houding van onvergewensgesindheid.

• Die waarheid is dat ons almal een of ander tyd dink ons is nie goed genoeg nie.

• Ons moet bereid wees om te leer om onsself lief te hê.

Dié erflating is vervat in meer as 25 boeke, talle video’s en CD’s, haar adviesrubrieke in meer as vyftig publikasies, haar toesprake, haar berading. Sy weet haar jare word min en glo dat om te sterf ook nie ’n negatiewe ervaring hoef te wees nie. “Hoekom is ons so bang om te sterf? Ons was nie bang om gebore te word nie. As ons leer om vreugdevol te leef, sal ons ook vreugdevol sterf.”

Louis Hay is op 30 Augustus in die ouderdom van 90 oorlede.

Bronne
Louise L. Hay: You can Heal your Life; Mark Oppenheimer: The Queen of the New Age in New York Times 4 Mei 2008; http://www.butler-bowdon.com/youcanheal; http://www.womensconference.org/louise-hay; http://en.wikipedia.org/wiki/Louise_Hay

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Ontmoet Almero, die man agter ‘Een keer om die son’ se treffende klankbaan

Toe Ivan Botha en Donnalee Roberts iemand gesoek het om die musiek vir Een keer…

3 hours Gelede

Kollig op ‘n kleindorp: Napier

Hierdie skilderagtige dorpie, geleë tussen Caledon en Bredasdorp, is ongeveer twee en 'n half uur…

5 hours Gelede

Stel die verbruiker se ervaring eerste! MSI se reis van 20 jaar om ’n ryk van skootrekenaars te bou

’n Nalatenskap wat daarop gebou is om hul verbruikers te verstaan  Oor die afgelope 20…

20 hours Gelede

Het jy wat dit vat vir ‘Die brug’ se tweede seisoen?

Iewers op ’n eiland met ’n toring staan nog ’n skatkis wat R1 miljoen kontant…

1 day Gelede

Smelt-in-die-mond-koekies

Maak 30 koekies • 500 ml (2 k) koekmeel • 80 ml (1⁄3 k) kakao…

1 day Gelede

Geurige tamatie-en-wors-gebak

Geurige tamatie-en-wors-gebak. Resep deur Vickie de Beer   Lees ook: Geurige worsies met sampioene en…

1 day Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.