Louis Meintjes (25) het vanjaar algeheel 8ste plek behaal in die Le Tour de France-padfietswedren. Hy was net 8:02 minute agter die algehele wenner, Chris Froome. Hy is ook tweede geplaas in die kategorie vir fietsryers onder 26 in dié wedren. Hy het verlede jaar dieselfde plekke behaal, wat ’n uitsonderlike prestasie vir ’n jong jaer op hierdie vlak van mededinging is. Hy was ook een van vier Suid-Afrikaners wat vanjaar aan die wedren deelgeneem het en word deur kommentators en sy mededingers gereken as iemand om dop te hou.
Hy het tydens die Vuelta a España tyd ingeruim om met rooi rose te gesels.
Vertel ons meer van jouself. Waar kom jy vandaan en wat het jy gedoen voordat jy professioneel begin fietsry het?
Ek kom van Rustenburg af. Ek was by die Bergsig Akademie op skool. Na skool het ek my eerste jaar se studies voltooi in Besigheidsekonomie deur UNISA totdat ek professioneel begin fietsry het. Met my fietsry-skedule en met die hoeveelheid wat ek reis was dit ’n bietjie moeilik om ook my studies te balanseer.
Hoe en hoekom het jy begin fietsry?
As kind het ek altyd ’n fiets gehad – óf ’n BMX óf ’n bergfiets. Soos ek groter geword het, het ek deel geword van ’n plaaslike klub wat gereeld oefenritte meegemaak het. Ek het nogal swaargekry tydens hierdie ritte want ek was op ’n bergfiets en almal anders was op padfietse. Ek het dit steeds baie geniet en dit het my gemotiveer om beter te raak en ek het uiteindelik besluit om ’n padfiets aan te skaf sodat ek kon byhou by die ander ouens.
Ry jy nou nog bergfiets?
Ek het ’n bergfiets by die huis in Rustenburg sodat ek ’n bietjie my oefening kan meng tydens ’n afseisoen, maar ek ry slegs professioneel padfiets.
Waar bly jy op die oomblik? En waar oefen jy en jou spanmaats?
Wanneer ek in Europa is, woon ek in Andorra. Tydens ’n afseisoen, wanneer ek in Suid-Afrika is, woon ek in Rustenburg. Met fietsry oefen jy nie eintlik saam met jou spanmaats nie behalwe as julle naby aan mekaar bly. Die enigste keer wanneer julle saamry, is by georganiseerde spanbyeenkomstes en wedrenne. Andersins oefen jy sonder hulle.
Wat doen jy wanneer jy nie op jou fiets is nie?
Ons reis konstant, so daar is nie baie tyd vir enigiets anders nie. Wanneer jy reis en gedurende wedrenne is jy gereeld op jou foon om kontak te hou met jou mense tuis. Wanneer ek terugkom by die huis in Andorra is daar gewoonlik baie adminstratiewe sake en take om na om te sien want dit hoop op omdat ek so gereeld weggaan.
Beskryf ’n gewone dag in die lewe van Louis Meintjes.
Ek word wakker, eet ontbyt, oefen, eet middagete en spandeer dan die res van die middag om inkopies te doen of om allerhande ander take klaar te kry. Ek is baie geïnteresseerd in voedsaamheid, so ek eksperimenteer altyd met kos en ek kyk wat beter vir my werk. Ek sal gewoonlik iets soos hawermout en eiers vir ontbyt eet. Middagete hang af van hoe hard my oefensessie was: as dit moeilik was dan sal ek dalk pasta met vleis en groente eet en vir aandete is dit gewoonlik vleis en groente.
Wat is jou toekomsplanne?
Ek het sopas ’n kontrak geteken met DimensionData vir Qhubeka vir 2018. Dit sal wonderlik wees om terug in ’n Suid-Afrikaanse span te wees en ons mikpunt is om baie goed te vaar in volgende jaar se Le Tour de France.
Is daar iemand spesiaal in jou lewe?
Nie op hierdie stadium nie, nee.
Wat is jou gunsteling-wedren?
Dit is die Le Tour de France. Dis een van die eerste wedrenne waarna ek as kind gekyk het en dis groter as enige ander resies. Dis die één wedren waarvoor al die beste fietsryers in die wêreld mik. Almal wat by die beginstreep aanmeld lyk op hul beste en is topfiks – wat die kompetisie baie rof maak. Om ’n goeie uitslag op die Tour te kry is baie meer spesiaal as enige ander wedrenne op die kalender.
Jy is bekend as ’n klimmer, en ook vir tydtoetse. Watter tegniek of vaardighede moet jy hê daarvoor en hoe verskil die vaardighede?
Ek moet nog aan alles werk want dis nie asof ek elke naweek ’n resies wen nie. Die ouens wat die multi-dagwedrenne wen se tegniek is goed afgerond en het sterk punte in alle areas. Die roetes van die wedrenne verander heeltyd so jy kan nie net in een area spesialiseer nie. As jy byvoorbeeld te veel tyd spandeer op tydtoetse (time trials), en die Tour het dalk volgende jaar nie soveel daarvan as hierdie jaar nie, dan kan jy jouself benadeel. So, ek dink dis belangrik om gebalansseerd te wees en om aan alles te werk.
Wat was jou gunsteling-oomblik tydens die 2017 Tour?
Om klaar te maak. Om in Parys uit te kom is só moeilik en daar is só baie goed wat jy moet vermy om dit tot by die eindstreep te maak dat dit ’n baie groot prestasie is as jy dit wel regkry. Daar is soveel belegging en toewyding van almal se kant af dat dit werklik wonderlik is as jy ’n goeie resultaat namens almal kan lewer.
Wat was die moeilikste deel vanjaar?
Ek ervaar eintlik die weke wat na die resies toe lei as die moeilikste deel. Dis die punt waar jy soveel werk gedoen het en nou sit jy net rond en hoop dat jy genoeg voorberei het vir die resies. Om te wag is die moeilikste want jou gedagtes maal oor die vrees vir die onbekende. Jy wonder hoe jy sal vergelyk met die res, so daar is baie gedagtes wat deur jou kop maal.
Jy kan seker nie bekostig om ’n slegte dag te hê tydens ’n multi-dagwedren soos die Tour nie. Hoe volhou ’n mens jou stamina en konsentrasie oor so ’n lang tyd?
Jy het nie ’n keuse nie; jy moet net. Die spanne leen baie goeie ondersteuning aan die fietsryers en die bemanning sorg vir alles in die agtergrond sodat jy net op jou werk kan fokus. Dis ook goed om die wedren in kleiner blokke op te breek. Eerstens fokus ek op die dag wat voorlê en daarna begin ek aan die volgende dag dink. Die resies het gewoonlik twee rusdae gedurende die drie weke so my fokus is gewoonlik net om tot by die volgende rusdag uit te kom. Die wedren duur drie weke lank en as jy net daarop fokus om dit tot die einde van die drie weke te maak, gaan dit ’n baie lang resies word.
Fietsry word gereeld gesien as ’n “solo”-sport: dis net jy en jou fiets. Nietemin vorm fietsryers deel van ’n span in die groot wedrenne. Hoe belangrik is spanwerk in hierdie konteks?
Fietsry is baie anders as meeste ander sportsoorte want alhoewel daar net een ou is wat oor die wenstreep ry om te wen, sal die oorwinning nie moontlik wees sonder die ondersteuning van ’n span nie. Gewoonlik het die span een doelwit voor oë en al nege fietsryers is toegewy aan hierdie doelwit. As jy nie hierdie sportsoort verstaan nie is dit moeilik om al die legkaartstukkies te sien wat in plek moet val soos die wedren vorder, maar aan die einde as jy iemand sien wen, het al sy spanmaats hulle spelplan uitgevoer oor die afgelope paar ure om te verseker dat dit kon gebeur.