Wanneer skade of skande bekendes tref, is dit voorbladnuus. Dit het gospel-sanger en musiek-vervaardiger Louis Brittz en sy vrou, Hettie, Christenskrywer en geestelike leier uit eie reg, eerstehands ervaar.
Die nag van 10 Februarie 2010 was die gesin binne die goed bewaakte mure van ’n veiligheidsoord in Midrand die slagoffers van ’n gewapende roof. Louis is ontvoer en herhaaldelik met die dood gedreig. Hettie is deur die loop van die nag deur een van die aanvallers verkrag. Hul drie jong kinders het dwarsdeur die gebeure geslaap.
Wat die Brittze van die meeste Suid-Afrikaners met soortgelyke ervarings onderskei, is hul verstommende vinnige en volkome herstel. In sy boek, Wat wenners weet, skryf Louis:
“Dit was ’n verskriklike, traumatiese gebeurtenis, maar deur die Here se genade kon ons sonder littekens aan ons siel of gees daaruit stap. Ons was byna onmiddellik weer heel.”
Die dag ná die voorval het Louis en Hettie in die pers getuig dat hulle die aanvallers vergewe het. Louis sou voortgaan met sy voorgenome bedieningstoer na Australië en Nieu-Seeland en Hettie sou daardie naweek die Midmar-myl swem soos sy beplan het. ’n Dagbladverslaggewer het Hettie as “ongelooflik sprankelend” beskryf en op die foto by die berig glimlag sy en Louis vir mekaar.
Die reaksie van Christene sowel as mense met ander oortuigings het gewissel van woede tot ongeloof – nie net oor dit wat die Brittze deurgemaak het nie, maar ook oor hul onverwags positiewe benadering. ’n Stortvloed briewe het die koerante getref. Hiervan het Louis en Hettie eers met sy terugkeer drie weke later kennis geneem.
“Die mense se reaksie was vir ons ’n groter skok as die trauma van daardie nag,” sê Louis. “Binne ure ná die roof het mense wêreldwyd ’n gebedsketting gevorm en vir ons herstel gebid. Ons kon nie glo dat die verhoring van hierdie gebede soveel argwaan kon ontlok nie. Dit was asof talle mense net nie kon begryp hoe die Here bý jou kan wees nie.”
Die gebeure en die Brittze se rustige hantering daarvan het kennelik diepgesetelde oortuigings oor God en gelowig wees geskud. Enersyds het dit vrae gesneller soos: Hoekom het God dit nie gekeer nie? Hoe kan “gewone” gelowiges gerus slaap as bekendes wat alles vir die koninkryk gee, nie veilig is nie? Het Louis en Hettie op een of ander manier die aanval oor hulself gebring?
Andersyds was mense onkant betrap omdat Louis en Hettie nie emosioneel ineengestort of haatuitsprake teen die aanvallers gemaak het nie. Hier was iets anders: genesing, vergifnis en die afwesigheid van vrees. Hulle is van ontkenning van die gebeure, die voorhou van ’n front, geestelike hoogmoed en selfs ’n sensasionele bemarkingsveldtog vir Louis se CD’s verdink.
Lees jy Vreesloos vry (Green Hope, 2011) wat Hettie oor hul ervaring geskryf het, word dit duidelik dat sy die gebeure tydens die roof volkome realisties ervaar het. Sy was deurentyd daarvan bewus dat haar kinders ’n teiken was, dat die rowers wat later met Louis weggery het, hom kon vermoor, en dat die verkragting haar MIV-positief kon laat.
Terselfdertyd was Hettie ook op ’n ander, onsigbare werklikheid ingestem. Tydens die nagmerriegebeure het sy God se stem gehoor en sy oorvloedige liefde ervaar, nie net vir haarself nie maar ook vir die man wat haar verkrag het. Dit het álles wat daardie nag gebeur het, in ’n ander lig gestel, ook die nagevolge wat die ervaring sou hê.
“Ek en Louis het nie geweet wat met ons gebeur het, is moontlik nie,” het sy agterna gesê. “Wat doen jy met ’n wonderwerk? En hoe gemaak as mense ’n stryd het met die pad wat die Here vir jou gekies het?”
Louis se boek
Wat wenners weet is Louis se antwoord op die rooftog en die polemiek wat die gesin se reaksie ontketen het. Die tydsverloop tussen die verskyning van sy en Hettie se boeke dui op een van die verskille tussen hulle, terg hy: “Hettie praat terwyl sy dink. Ek dink eers klaar voordat ek praat.”
Louis verduidelik dat hulle geestelike littekens vrygespring het omdat hulle lank reeds sekere lewensriglyne gevolg het. “Toe dinge om ons stiller raak, moes ons vir God vra: ‘Here, hoekom is ons heel?’ Gaandeweg het dit vir ons duidelik geword dat God jare lank al besig was om ons te leer om volgens sekere beginsels te leef. Hierdie beginsels, tesame met God se krag en teenwoordigheid, was meer as die skok en die trauma van die ervaring. Daarom het dit ons nie seergemaak of ons vreugde by ons gesteel nie.”
Wat wenners weet gee dertig van hierdie beginsels op ’n bondige, helder wyse weer. Louis verwys na die traumatiese gebeure, maar konsentreer op die beginsels.
“Ek wou ’n holistiese boek skryf en nie net op een stukkie oorwinning fokus nie. As een speek in ’n wiel reguit is, help dit mos niks! Ek het dit spesiaal geskryf vir mense wat nie bladsye en bladsye wil lees nie. As jy voel jy sukkel om op ’n sekere lewens-gebied in oorwinning te leef, moet jy na daardie onderwerp kan blaai, drie of vier bladsye daaroor lees, en klaar.”
Louis se belofte dat hierdie beginsels lig sou werp op die Brittze se sonderlinge verwerking van die trauma hou water. Lees jy Wat wenners weet, besef jy die kwelvrae hierbo – soos oor God se “toelating” van die oënskynlik slegte en oor ons eie “skuld” wanneer so iets met ons gebeur – hou verband met ons kernsienings van God en hoe ons in God se raadsplan pas. Die kwessie van beheer staan sentraal.
Wenners, skryf Louis, is “abdikeerders” wat God op die troon van hul lewe geplaas het. Hulle weet Hy is die middelpunt van hul wêreld en nie andersom nie. As hulle pyn ervaar, beteken dit nie Hy het hulle nie lief nie. Inteendeel: sy liefde is die een ding waarop hulle kan reken. Swaarkry beteken wel sy plan met hulle is groter as hul eie, al verstaan hulle dit nie.
Wenners is ook “allesverloorders.” Hulle het God gevra om hulle los te woel van die kettings wat hulle aan dinge soos besit-tings, status en selfs geliefdes bind. Niks en niemand is vir hulle belangriker as Christus en sy koninkryk nie, en hulle weet dat hulle dít nooit kan verloor nie.
Verder besef wenners dat ons as mense geen idee het wat vir ons goed en sleg is nie. Ons kan dink dat die dinge wat ons gelukkig maak, ryk maak en gesond hou goeie dinge is, terwyl armoede, siekte en die dood van naasbestaandes noodwendig sleg is en “nie van die Here af kom nie”. Maar in God se strategie vir ons lewe mag “goed” en “sleg” heel anders lyk.
Mense vir wie dit normaal is om volgens hierdie beginsels te leef, sien trauma anders. Omdat hulle hul lewe aan God toever-trou het en omdat Hy in beheer is, glo hulle dat alles gebeur soos dit moet. Hulle hoef nie hul koppe te breek oor wat “goed” en wat “sleg” is nie – dis God se afdeling.
Soos Louis dit stel: “As jy eers in onvoorwaardelike oorgawe voor God staan, as jy jou lewe vir Hom gegee het, is die res verskriklik maklik.”
Oorgawe in hierdie verband beteken nie dat jy jou verant-woordelikhede ontduik nie: Louis beklemtoon dat jý in beheer van jou wil, emosies en gedagtes bly.
Vergifnis
Omdat die “oortreders” en “slagoffers” God se genade ewe nodig het, is vergifnis ’n vanselfsprekende beginsel. Om te vergewe is nie maklik nie. “Jy moet van jou eie seer af wegdraai en al jou regte op vergelding prysgee. Bitter min mense kry dit reg. Vergifnis is die aktiefste daad van liefde wat ’n slagoffer teenoor sy vyande kan bewys … Vergifnis en genade is Jesus se hartklop en Hy wil hê dat wenners sy hartklop sal verstaan asof dit hul eie is. Dis sy liefde wat die wêreld heelmaak, nie ons s’n nie. En Jesus se liefde is so radikaal dat daar niks is wat dit nie kan vergewe nie. As wenners onvergeeflike dade en woorde vergewe, hang stukkende, harde mense se monde oop. Dis onverstaanbaar en onmiskenbaar Goddelik – jy kan dit nie namaak of vervals nie.”
Gesels jy met Louis en Hettie, besef jy die waarheid van hierdie woorde. Hulle is mense wat in voeling is met hul swakhede, maar terselfdertyd so ná aan God leef dat Hy hulle deur trauma kon dra en deur hulle kon vergewe. Die nuwe bedieningsmoontlikhede wat daardie angswekkende nag in Februarie 2010 moontlik gemaak het, gee ander ook toegang tot die beginsels wat hulle heelgemaak het. Vir my is die wonderlikste omtrent hul boodskap dat dit moontlik is om vry van vrees te leef. Dit behels wel die stap van ’n pad – een wat allermins voorspelbaar of beheer-
baar is – maar die wegwysers is daar, in helder Afrikaans.