Gaan mense deesdae minder kerk toe? Hou die tradisionele Afrikaanse kerke tred met verandering? Mariëtte Snyman het ondersoek ingestel
Sondae is malls malende mensemassas. Dit laat jou wonder hoe vol die kerkbanke is. Vra jy rond, hoor jy van aanddienste wat afgeskaf word, gemeentes wat moet saamsmelt om te oorleef en kerkgeboue wat verkoop word. Maar daar is ook gemeentes wat aanhou groei, mega-gemeentes met kolossale kerkgeboue en ’n toename in huisgemeentes, Internetbediening en informele bediening, onder meer by werkplekke. Hoe lyk die ware prentjie? Dié artikel fokus op die vier Afrikaanse hoofstroomkerke: die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk), Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en die Apostoliese Geloofsending van Suid- Afrika (AGS).
Gemeenstestruktuur
Gemeentes wat beduidend van grootte verander, se bedieningswyse verander ook. Alice Mann (The in-between church: Navigating size transitions in congregations. New York: Alban Institute, 1989) onderskei tussen vier gemeentegroottes. Die predikantsrol, en dié van lidmate,verander telkens:
1 Familiegrootte (tot 200 aktiewe lidmate)
In dié klein gemeentes is verhoudings heg en neem lidmate dikwels groot verantwoordelikheid vir verskillende aspekte van die bediening. Die werklike leierskap lê by patriarge of matriarge en die predikant vervul die rol van ’n kapelaan.
2 Pastorgrootte (200 tot 800 aktiewe lidmate)
In dié herder-kuddemodel staan die predikant sentraal. Lidmate verwag dat hul geestelike behoeftes vervul sal word deur ’n persoonlike verhouding met die predikant. Hy of sy is meestal voorsitter van die kommissies en dryf die aksies van die gemeente.
3 Programgrootte (800-1 500 aktiewe lidmate) Programme neem die plek in van persoonlike verhoudings met die predikant as die primêre bron van geestelike sorg. Predikante beplan en organiseer programme of aksies saam met lidmaatleiers en rus lidmate toe om dienswerk te doen. ’n Missiestelling is belangrik.
4 Korporatiewe grootte (1 500+ aktiewe lidmate)
Dit word van die programgroottegemeente onderskei deur kompleksiteit en diversiteit. Die kwaliteit van eredienste is hoog, daar is breë lidmaatbetrokkenheid en patriarge en matriarge keer terug as sterk leiers in die kerkraad of -bestuur. ’n Leierleraar dien as die simbool van eenheid.
Vol kerke? Dit kyk na beskikbare statistiek en tendense op die kerktoneel. Die NG Kerk se lidmaattal van om en by die 1,3 miljoen het die afgelope dekade min of meer konstant gebly.
“Baie mense het geëmigreer, maar ons getalle is deur lidmate uit ander kerkverbande aangevul,” sê Kobus Schoeman, professor in praktiese teologie aan die Universiteit van die Vrystaat en navorser vir Kerkspieël, die amptelike sensusopname van die NG Kerk.
In die Hervormde en Gereformeerde kerke lyk dit minder rooskleurig. Die Hervormde Kerk, met 136 045 lidmate, het die laaste dekade ’n gemiddelde daling van 3 600 lidmate per jaar beleef. In die Gereformeerde Kerke, wat vandeesmaand hul 150-jarige bestaan vier en 100 829 lidmate het, was die jaarlikse daling 1 tot 1,5%. Die AGS, daarenteen, het sowat 1,5 miljoen lidmate en groei die afgelope tien jaar jaarliks met vyf tot tien persent.
“Dis net ’n skatting,” sê pastoor Peter de Witt, spesiale adviseur en konsultant vir die kerk. “Ons kry nooit al die sensusvorms terug nie. Ons landwye Judeaprojek, waar ons tente staanmaak in voorheen agtergeblewe gebiede, toon veral groei.”
Al vier kerke het individuele gemeentes wat moeilik die mas opkom. “Twintig persent van die NG-gemeentes kyk na samewerking of samesmelting met buurgemeentes,” sê prof. Schoeman. “In sommige gevalle dink hulle bloot proaktief.” “In die AGS is samesmelting ’n klein faktor. Dit kom meestal in wit geledere voor,” sê pastoor De Witt. “In die agtergeblewe gebiede bestaan gemeentes met 50 lidmate met gemak.”
In die Gereformeerde Kerke is daar 25 wit en 60 swart vakante predikantsposte, wat sommige gemeentes dwing om saam te smelt of ’n predikant te deel, sê ds. Leo van Schaik, skakeldeputaat van die GKSA. Nog ’n neiging is dat van die kerke al “ouer” word. In 1981 het een derde van die NG Kerk uit dooplidmate bestaan, en teen 2006 was dit net ’n kwart. Terselfdertyd was ’n kwart van die lidmate ouer as sestig. In die Hervormde Kerk is die getal sterftes reeds meer as die geboortes, sê dr. Wim Dreyer, sekretaris vir die Apostolaat. “Daarby doen minder as 75% van die kinders wat in die NHKA gedoop word, uiteindelik belydenis van geloof in die NHKA. Dit meen dat die kerk geen groei sal beleef deur die natuurlike aanwas en die normale proses van doop, kategese en belydenis nie.”
Dit dan wat betref lidmaatgetalle, maar hoeveel lidmate sit Sondae in die kerk?
Die NG kerk doen elke jaar in Februarie ’n opname van oggend-erediensbywoning in alle gemeentes, sê prof. Schoeman. Bywoning word uitgedruk as ’n persentasie van gemeentes se lidmaattal.
“Sedert 1991 het die bywoning met net een persentasiepunt geval – van 34% na 33%. Sedert 2006 neem ons ook kinder- en gesinsdienste in ag, wat 5% van die 33% bywoning uitmaak.” “Erediensbywoning verskil dramaties van gemeente tot gemeente,” sê dr. Dreyer. “Daar kan selfs net 5% van die lidmate in die kerk wees. Waar gemeentes en predikante optimaal funksioneer, styg die erediensbywoning tot 50% per Sondag. Dit lyk vir ons of sowat 10% van die lidmate nooit ’n erediens bywoon nie.” Die GKSA en AGS het nie amptelike bywoningsyfers nie. Kerkwees strek natuurlik veel wyer as om Sondae in ’n erediens saam te kom. Daar is talle ander vorme van geloofsgemeenskap en – ervaring.
’n Behoefte aan hervorming
“Die druk waaronder die tradisionele kerke is, is ’n wêreldwye verskynsel,” beklemtoon dr. Dreyer, wat werk aan ’n doktorsgraad oor dié onderwerp. “Dis die gevolg van radikale veranderinge in die samelewing waarmee die kerk nie altyd in pas kon bly nie. Navorsers wat kerkwees in ’n postmoderne, stedelike opset ondersoek, is dit eens oor die wesenlike probleem: die kerk het verander van ’n beweging na ’n instelling wat in vaste strukture en denksisteme gestol het, en daarom sy aanpasbaarheid en dinamika verloor het. Ons het ’n dramatiese ‘kerkhervorming’ nodig, soortgelyk en selfs omvattender as in die 16e eeu met Calvyn en Luther. Die harte en denke van mense moet verander sodat die kerk weer word wat dit veronderstel is om te wees: die liggaam van Christus wat diensbaar raak en met vreugde die evangelie op die onwaarskynlikste plekke verkondig. “Die vroeë kerk het uit huisgemeentes bestaan wat dikwels in die geheim moes saamkom. Daar was geen kerkgeboue of formele kerkstrukture nie; die kerk was vloeibaar en aanpasbaar. Gewone mense het die evangelie versprei, en die Christendom het in die eerste twee tot drie eeue van twaalf dissipels tot sowat 20 miljoen Christene gegroei. Eers in 313, toe keiser Konstantyn die Christelike kerk amptelike erkenning gegee het, het die Christendom trekke van ’n instelling begin toon.”
Deur die eeue het die kerk sterk magstrukture ontwikkel. Die ampte, veral dié van predikant, en gesagstrukture soos sinodes het sentraal kom staan. Maar intussen het ons bestaanwyse ingrypend verander. “Mense het hul vertroue in groot instellings, soos staatsinstellings, verloor. Ons funksioneer sterker in ’n kleiner omgewing, op ’n persoonlike vlak. Gemeentes wat dit regkry om hul lidmate te bemagtig om in hul onmiddellike of werkomgewing ’n verskil te maak deur byvoorbeeld ’n Bybelstudiegroep te lei, is dié wat groei.” Die ideaal, sê dr. Dreyer, is dat die kerk gemeentelede toerus om verantwoordelikheid vir kerkwees te aanvaar, en hulle toelaat en vertrou om hul geloof organies uit te leef. Dit vra ’n nuwe siening oor mag en beheer en impliseer ingrypende veranderinge in die predikantsrol. “Die 500 jaar oue reformatoriese tradisie beskou die predikant as ‘die een wat weet’. Teoreties het lidmate wel ’n getuienisstaat, wat beteken hulle mag ook die evangelie uitdra, maar tradisioneel neem die kerkstrukture dié taak uit lidmate se hande. “Ons moet onthou dat ’n groot deel van die kerk vroeër ongeletterd was. Vyftig jaar terug was die gemiddelde opleidingsvlak in die Afrikaanse susterskerke gr. 9. Vandag is dit matriek en hoër. Groter getalle het naskoolse opleiding. Sommige lidmate sit al dekades na preke en luister en is byna so kundig soos die predikant, maar word nie doeltreffend benut nie.
Dis tyd dat die kerk sy eie kategeseprogram en prediking begin vertrou. “Sodra ons dit regkry om ons magsposisies te laat vaar en ons magstrukture deur ander strukture te vervang, kom daar nuwe energie. In baie gemeentes steur meelewende lidmate hulle buitendien nie meer aan sinodale besluite nie. Veral die jonger geslag trek hul skouers op en maak wat hulle wil.” ’n Informeler manier van kerkwees is al geruime tyd besig om hand oor hand toe te neem, wys dr. Dreyer uit. “In Suid-Afrika is daar letterlik duisende huiskerke. Na raming het die Zionist Christian Church sowat 11 miljoen lidmate. Hulle het nie kerkgeboue, formele teologiese opleiding of geordende predikante nie. Behalwe die jaarlikse groot saamtrek naby Polokwane, kom hulle onder bome of in motorhuise byeen. Gewone lidmate word bemagtig om die evangelie uit te dra. ’n Tuinman word op Sondae predikant.” Hoe gemaak om die voorgestelde paradigmaskuif prakties toe te pas? “Dit gaan lank vat om dié groot skip te swaai. Predikante moet heropgelei word om die veranderinge te hanteer. In die Hervormde Kerk het ons nou ’n week lange fasiliterende leierskapskursus vir predikante. Die terugvoer is uitstekend, en die betrokke gemeentes groei.”
Gestuurde gemeentes
Dr. Dreyer se visie van die kerk wat lidmate vir dissipelskap toerus, is reeds op talle plekke sigbaar. Een so ’n gemeente is Lux Mundi in Garsfontein, Pretoria, deel van die NG Kerkfamilie. “Lux Mundi beteken ‘lig vir die wêreld’ en ons is ernstig oor die uitleef daarvan,” sê dr. Elsje Büchner, die leraar verantwoordelik vir inkombediening. “Hier word mense aangemoedig om Christus se hande en voete in die wêreld te wees. Lidmate begin die naam al as ’n werkwoord gebruik. “Ons vraag aan lidmate is: Wat gaan jy dóén in die Koninkryk? Ons stel dit duidelik dat ons nie ’n kerk is waarheen mense kom net om iets te kry of vermaak te word nie.” Dit beteken nie dat lidmate wat reeds ’n vol lewe het met take en verantwoordelikhede oorlaai word nie. “Ons gebruik graag die metafoor van ’n atletiekbaan. Party mense is marathonatlete wat week na week betrokke is, terwyl ander net 100 m-atlete is of die koeldrankstalletjie beman. Die geheim is om deel te neem! Elkeen hoef net een ding te doen.” Lux Mundi posisioneer hulle as ’n gemeenskapskerk. “Ons meet sukses aan uitreik, die geld wat ons weggee en die ure diens wat ons lewer, eerder as aan geld, getalle en geboue. Ons groei wel, en ons is dankbaar daarvoor. Ons doen moeite om sigbaar te wees in die gemeenskap en het ’n gemeenskapsentrum. Eredienste word in Afrikaans, Sepedi en Zoeloe gehou – én in amptelike tiener-Afrikaans! Daar is informele dienste, ’n formeler diens by ’n nabygeleë aftree-oord en ’n verskeidenheid kinderdienste.” Sekere kwessies staan by Lux Mundi voorop: l “Ons belê sterk in kinder- en jeugbediening. Mense wil weet hul kinders kry goeie geloofsonderrig. As die kinders gelukkig is, is die ouers ook tevrede. l ”Om individuele huisbesoek te doen by die 4 800 lidmate op ons boeke, is vir ses predikante ’n onbegonne taak. Maar ons kom by al die nuwe lidmate uit. Ons senior lidmate word ook besoek. Hulle wil gerus wees dat ’n bekende hulle gaan begrawe.” l ’n Kerndoelstelling is “om mense wat ‘weggeraak’ het, by die Here terug te kry. Ons wil nie net gelowiges tussen kerke of gemeentes rondskuif nie.
Ons hart lê by mense wat wil terugkom. Dis ’n moeilike proses en ons het nog baie om te leer. Een manier is om spesiale aandag te gee aan doopouers. Doop, kinders wat begin met Sondagskool, belydenisaflegging en begrafnisse is sleutelpunte waar mense die kerk weer raaksien. Ons het ’n volwasse belydenisafleggingskursus wat prakties na dissipelskap kyk: hoe lees ek die Bybel, hoe bid ek, hoe pas ek my geloof in my werk en lewe toe, en so meer. Dis allermins ’n administratiewe oefening. “Ons ‘Stap net oor’-kursus rus mense toe om langtermynvriendskappe op te bou met bure of ander mense, wat ’n geleentheid kan word om oor die Here te praat.” *Pastorale versorging staan voorop. “So-veel mense is stukkend van binne. Ons het twee pastorale leraars, maar lidmate gaan na die persoon met wie hulle die gemaklikste voel.” Blaai jy deur Lux Mundi se jaarlikse prospektus val die magdom projekte jou op. “Van ons grootste projekte gaan sonder predikantbetrokkenheid voort. Sodra mense sien hulle kán, kry dit momentum. Ons is nie ’n domineeskerk nie. Ons het ’n uitgebreide en doeltreffende steunstelsel. Ons stel eerder ’n maatskaplike of administratiewe werker aan as nog ’n predikant – dis goedkoper.” Mense wil dolgraag sinvol betrokke wees in die gemeenskap, sê dr. Büchner. “As ons ’n oggendtee hou met borskanker as tema, is die belangstelling skraps. Begin ons ’n projek om vroue met borskanker te ondersteun deur hulle byvoorbeeld met gesigsbehandelings te bederf, is daar ’n golf van entoesiasme.” Bowenal soek mense verhoudings en geestelike diepte. “Bybelgetrouheid is vir Suid-Afrikaners nog belangrik. Hulle is ingelig. Maar ons maak voorsiening vir verskillende style van aanbidding. “Gemeentes wat groei, verstaan hul roeping as lig vir die wêreld. Hul grootte is van minder belang. Ons glo dat die Koninkryk van God moet kom. Daarom probeer ons nie om mense te ‘verkerklik’ nie, maar sien ons eerder hoe ons lidmate ’n verskil in die wêreld maak.”
Aan die verander
Nuwe tendense op die godsdienstoneel sluit die volgende in:
- ”Mense shop vir ’n kerk waar hulle met die aanbiddingstyl gemaklik voel, al moet hulle ver ry. In 2006 het 20% van die NG Kerk se lidmate reeds buite hul geografiese grense kerk toe gegaan,” sê prof. Schoeman.
- Hy noem ook dat mense toenemend net een erediens op ’n Sondag bywoon.
- Die bronne waar mense geestelike voeding kry, brei gedurig uit en sluit die Internet, TV, radio, daaglikse SMS’e en Bybelskole in. Amerikaanse studies wys dat al meer mense een week ’n konvensionele gemeente besoek, die week daarop ’n huiskerk en tussendeur by ’n aanlyngeloofsgemeenskap betrokke is of ’n bedieningsgeleentheid (live ministry event) bywoon.
- Die evangelie word toenemend tydens byeenkomste in koffiewinkels, by werkplekke, biker-saamtrekke en so meer verkondig.
- Organiese geloofsgemeenskappe soos onafhanklike huiskerke neem toe.
- Amerikaanse navorsing wys dat individue toenemend hul eie stel geloofsoortuigings ontwikkel, pleks daarvan om die bestaande oortuigings van ’n kerk of gemeente in geheel as hul eie te aanvaar.