Lissabon: die susters se avonture deur Beatrix Roux. Foto’s deur Beatrix Roux
Die susters was al weer op straat en hierdie keer was Portugal die keuse. Laat ek sommer uit die staanspoor bieg: Portugal was nog nooit op my wenslysie nie en ek het dus maar sleepvoet begin navorsing doen. Nodeloos om te sê – ek is uitgeboul.
Ons reisplan sou Lissabon, Porto, Pinhao in die Dourovallei, Aveiros, Obidos en Sintra insluit.
Die idee was dat ek vanaf Split in Kroasië by die susters (vanaf SA) in Lissabon sou aansluit. Alle vlugte is mooi gekoördineer en hulle sou my inwag op die lughawe.
Wel … die hele Europa het daardie aand donderstorms beleef en ek land in München sonder ’n aansluiting voor die volgende oggend.
Dit klink miskien na ’n klein probleem, maar as jou twee susters rigtingbedinges is en glad nie worry waar ons verblyf is nie, is dit nie so klein nie.
Na vele oproepe tussen my en ons landlady in Lissabon stuur sy ’n taximan om hulle te gaan onderskep.
Probleem 1: Hulle sal definitief nie hul name op ’n plakkaat soek nie – wag dan vir my.
Probleem 2: Taximan weet nie hoe hulle lyk nie en vind hy hulle nie, sit hulle tot die volgende oggend by die naaste koffiewinkel. Ek stuur foto’s van die twee aan, maar op die meeste is hul agter reuse roomyse of groot mengeldrankies verdwerg. Ek bid maar die man gebruik sy verbeelding. Ná twee uur vind hulle mekaar tog en neem hy hulle veilig na Historical Apartments Lisbon. Ek is ingeboek by ’n 5-ster buite München en eet sommer alles wat gratis aangebied word om my senuwees te kalmeer.
Lissabon
Die woonstel is lieflik , dis nou as jy vyf verdiepings later daar aangehyg kom met oorgroot tasse. Dit is naby die Largo do Carmo-plein en op die hoek is die fraaiste driehoekgebou met drie tafeltjies vir koffie. Saans is die plein vol restauranttafels en bedags speel eksotiese seuns musiek. Ons is skaars 15 minute se stap van die hoofbesienswaardighede ( in die middestad), maar met bulte en die ouderdom kortasem dit maar kort-kort.
Die eerste aand gaan verken ons die waterfrontrestaurante en maak kennis met cod fish pies – te heerlik. Twee pasteitjies en ’n groot bier is oorgenoeg vir aandete. Ons vind ook per ongeluk een van die hoof restaurantdistrikte in Barrio Alto, maar dis nou propvol en luister net na die musiek wat oral uitborrel. ’n Angolees herken die Afrikaanse aksent en omhels ons skuins voor middernag.
Op dag twee besluit ons om die 25th April-brug en nabygeleë Jesusbeeld te gaan verken. Uber kom tot ons redding – spotgoedkoop. Die brug is lank en lyk soos die een in San Francisco. Die beeld is imposant, maar nie my hoogtepunt van die dag nie.
Op die Rossio-plein is die mooiste sardientjiewinkel genaamd Mundo Fantastico da Sardinha. Dit lyk soos ’n kruis tussen ’n sirkustema en merry-go-round. Hier kan jy ’n blikkie sardientjies met jou geboortejaartal koop en as ons klaar op die mooi stoel ge-pose het, stap ons na die materiaalwinkel. Nie een van ons kan naaldwerk doen nie, maar ons verkyk ons aan die eg Portugese materiaal met teëldrukke en sardientjieblikke.
Middagete reg oorkant die Santa Justa hyser bestaan uit twee liter Sangria en diepgebraaide garnale. Die hyser is uit ’n vervloeë era, gebou sodat die rykes van die heuwels af ondertoe kon kom. Ons kyk maar net van ’n afstand, want vir daardie rye sien niemand kans nie.
Belem
As jy nie Pasteis de Nata in Portugal eet nie, het jy die hele doel van hierdie land gemis. Ons Uber nou oral lekker, ook na Belem, en die bestuurder laai ons voor die beroemde Casa Pasteis de Belem-winkel af. Toue staan straataf, maar sitplek binne is meer bekombaar en ons eet lank en lustig. Daar naby vind ons ook die standbeeld van alle ontdekkers/seevaarders, die Belemtoring op die Tagusrivier, wat histories as die amptelike ingang van Lissabon beskou is. Die Hieronymites Klooster en kerk is ook in die buurt, maar daar’s ook stalletjies en die eerste kurkaankope word gedoen. Enigiets word hier van kurk gemaak – handsakke, skoene, brilhuisies en self poskaarte. Ons kom gou agter dieselfde kurkitem se prys kan wissel – dis tot 200% duurder by party plekke.
Die susters lief winkels en laatnamiddag oortuig ons die Uberman om ons na ’n winkelsentrum te neem. Wat is nou lekkerder as om ’n ander land se waspoeier en blikkieskos te bekyk?
Alfama
Alfama was op my “moetlysie”. Dis die oudste deel van Lissabon. Vol geskiedenis, uitkykpunte, steil straatjies en Fado-musiek. Dit is ’n feesnaweek en so ver ons teen die steiltes afkronkel, is daar stalletjies en musiek. By een stalletjie proe ons ’n Pasteis de Nata shot – smaak maar soos ’n melktertjie.
Ons, of liewer my, missie vir die aand is om Fado-musiek te vind. Een restaurant is reeds vol, maar die eienaar lei ons na sy vriend se plek en as ons deur ’n swart fluweelgordyn loop, sing die musikante al lustig. Miskien moet ek net noem dat Fado nie almal se cup of tea is nie – sulke hartseer volksliedjies van verlore seemanne, liefdes en trane. Dis gewoonlik vroue met groot buuste wat sing, maar dié aand sing daar ook ’n verfynde man wat graag sy kuif agteroor gooi. As hy onverwags agter my sus Rika lostrek, hop sy van die skrik en dit vat my en die kelner om die twee susters te laat bedaar van die lag.
As jy graag al die Portugese eetgoed op een plek wil vind, is die Time Out Mark die regte plek. ’n Sondagbesoek is baie bedrywig, maar al die kosstalletjies en en lekkernye maak dit die moeite werd. Die keuses is amper eindeloos en so ook die soektog na ’n sitplek. Rugbyveldgrootte en oorvol. Ek bestel per abuis ’n twee liter sangria wat R300 kos, maar ons deel met ’n Franse paartjie en na die derde sluk vergeet ek skoon van die glipsie.
Een van die missies is om op die beroemde trem no. 28 te ry. Dit is alewig oorvol, maar gelukkig is ’n ander een (no.24) wat vir meer as 23 jaar in onbruik was weer afgestof en geolie en ons ry te heerlik heen en weer teen nie net steil bulte nie, maar ook steil pryse. As ek ’n hele muur vol grafitti sien, spring ons af by die Compolide stop. Die mooiste kunswerke op die mure laat die monde oophang. Die straatkuns in hierdie stad is van die beste. Jy kan ’n spesiale toer neem om almal te besigtig – glo my, jy sal nie teleurgesteld wees nie.
Almal is altyd gaande oor Holland se blou teëls, maar Lissabon (soos die res van Portugal) verras ons met die heel mooiste teëlwerk. Hierdie teëls het ’n sinkbasis en staan bekend as Azulejo en kom in enigiets van groen en blou tot oranje voor. Geboue is oral van bo tot onder geteël ter beskerming van die pleister.
Die laaste dag in Lissabon word daar uitgewyk na die fabriekswinkelsentrum wat sowat 40 minute ver aan die buitewyke sit. Dit is effens underwhelming, maar as ons die braaisouskoning van Suid-Afrika, Jimmy van Jimmy-souse en sy vrou Linda raakloop, kuier ons lekker in Afrikaans en ruil nommers uit.
Lissabon is lieflik in elke liewe opsig. Die kos is ongelooflik lekker, die sangria buitensporig sterk, die besienswaardighede asemwegslaan-mooi en die sewe heuwels begaanbaar met Uber en ’n trem of twee.