Die Lika wat my vir koffie ontmoet, is ooglopend gemaklik in haar eie vel, onopgesmuk in ’n kortbroek, haar lang, lang bene slank en bruingebrand. Sy laat ’n mens so ’n bietjie aan haar karakter Maryke in Vrou soek Boer dink. Maar blykbaar is daar min ooreenkomste tussen hulle.
Waar Maryke, ’n stadsmeisie en suksesvolle beleggingsbankier, kwalik water kon kook toe sy op die platteland aanland, is Lika blykbaar uitgeknip vir die plaaslewe. Sy borrel behoorlik as sy van die afgelope jaar op haar skoonma se plaas net buite Plettenbergbaai vertel.
“Ek is mal oor die plaaslewe. Ek en Clyde wou nie vir Hugo hier in Johannesburg grootmaak nie. Hier het ons net ’n ou posseëltuintjie gehad. Op die plaas het hy al die ruimte wat sy hart begeer. Hy is nou twee, baie woelig en dol daarop om buite te speel. Hy kan homself ure lank vermaak.”
Sy wys foto’s van klein Hugo, duidelik in sy element, op die plaas aan’t speel. Ander foto’s wys die betowerende landskap – die grasgroen heuwels en skoon, oop lug lyk idillies.
“Ek en Clyde se ma, ’n entrepreneur in die kosbedryf wat onder meer haar eie kase maak, is ewe mal oor kos maak.” As Lika vertel van haar eie groentetuin, die beskuit wat sy bak en dat sy selfs begin brei het (met wol wat Clyde se oupa gespin en gekleur het), klink sy pure boervrou. Wanneer sy so geesdriftig oor die plaaslewe praat, wonder jy onwillekeurig of sy dan nie haar lewe as aktrise mis nie.
“Natuurlik mis ek die bedryf! Ek mis teater, en ons mis ons vriende in die bedryf. Die lewe op die platteland is wonderlik, maar dis nie volmaak nie.
“Dis moeilik om ‘uit sirkulasie’ te wees, want die hart van die bedryf is maar in Kaapstad en Johannesburg. Maar dis iets wat ons altyd tussen projekte sal wil doen.”
Nie dat sy en Clyde, ook ’n akteur, nie op die plaas met hul dramatalent gewoeker het nie.
“Ons het ’n rolprentprojek, Ikasi, in Plettenbergbaai se plakkerskamp begin. Clyde se swaer werk daar aan ’n teater-projek. Ons het ’n nie-winsgewende organisasie, Ikasi Media, gestig en wil help om die gemeenskap se vaardighede te ontwikkel. Daar is ’n toenemende vraag na plaaslike werk in die Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiebedryf, veral noudat digitale televisie op hande is. Gehore wil hul eie stories sien, en ons wil vir hulle gee wat húlle wil sien, eerder as wat óns dink hulle wil sien.”
Lika het ook die afgelope jaar ’n kortprent vir die Silwerskermfees gemaak.
“Vashou-ding het gegaan oor ’n vrou wat haar baba verloor en toe op die munisipale ashoop op ’n weggooibaba afkom, maar voordat sy die moed het om die baba te gaan optel, kom ’n boemelaar verby wat die baba vat en sy besluit om hom te volg. Jana Strydom het die hoofrol gespeel en het op die fees die toekenning as beste aktrise gekry.”
Die verhaal speel hom in ’n plakkerskamp af en Lika het mense van die Plettenbergbaai-plakkerskamp in die prent gebruik.
“Mncedisi Mncedani, wat die rol van die boemelaar speel, is ook by ons projek betrokke. Hy het die rol uitstekend vertolk en het nou selfs ’n agent in Kaapstad – hy lê oudisies vir ander produksies ook af en probeer om ’n bydrae tot die bedryf te maak. Ek is trots op wat hy bereik, want dis juis wat ons met die Ikasi-projek probeer doen. Daar is so baie talentvolle mense en ons wou aan hulle ’n kans bied om blootstelling te kry.”
Lika het Vashou-ding se draaiboek geskryf en was ook die regisseur en vervaardiger.
“Ek wou hê die gehoor moes wegstap met ’n gevoel van vreugde. Ek wil hê hulle moet voel dat ons in Suid-Afrika kultuurverskille te bowe kan kom en dat dit moontlik is om mekaar te verstaan.”
Maar sy het ’n kosbare les geleer. “Ek is ’n bietjie van ’n beheervraat, en moes leer dat rolprent maak ’n spanpoging is. Jy het ander mense se insette en idees nodig. Jy kan nie alles alleen doen nie.”
Die fliek is goed by die fees ontvang, hoewel sy dit as ’n naelbyt-ervaring beskryf.
“Die hele gehoor het uit mense in die bedryf bestaan – byna almal goeie vriende van my ouers; mense voor wie ek grootgeword het. Daar is min ruimte om foute te maak as jy rolprente maak, want jou leerskool geskied in die openbare oog.”
Tog sal sy hierdie loopbaan vir niks verruil nie. Dis immers in haar bloed: haar oupa en ouma was die legendariese akteurspaar Gert en Dulcie van den Bergh (laasgenoemde word waarskynlik die beste as Ant Stienie in die destydse TV-reeks Agter elke man onthou). Haar ma, is die veteraanaktrise Jana Cilliers en haar pa, Regardt van den Bergh, ook ’n rolprentmaker, is ewe bekend in die bedryf.
Lika en Clyde glo jy moet met al jou talente woeker en jou eie geleenthede skep, veral in ’n land waar die kunste maar swaarkry.
“Clyde is besig met ’n draaiboek vir ’n nuwe fliek, ek skryf ook aan iets en doen ’n bietjie regie vir my pa. Ons sien dit alles as stepping stones op ons loopbaanpad.”
Die drie Bernings woon sedert November in Somerset-Wes. Lika speel ’n hoofrol in Byl, ’n speurreeks wat op die werk van baasspeurder Piet Byleveld gegrond is en in Stellenbosch verfilm word. Sy geniet dit baie en nie net omdat haar pa, Regardt, die regisseur is nie.
“Ek speel die rol van ’n forensiese sielkundige en profile, kaptein Lena Maree. Sy is ’n jong sielkundige wat maar onlangs by die polisie aangesluit het en nog baie moet leer. Sy stem nie altyd met Byl se sienings saam nie. Hy is meer intuïtief, terwyl sy hammer op die feite en statistieke. Sy daag ook dikwels sy gesag uit.”
Die rol is vir haar ’n uitdaging.
“Dis heel anders as die rolle wat ek tot dusver gespeel het. Dis heerlik om ’n slag ’n nie-romantiese rol te speel. Lena is ’n tough cookie, ’n bietjie van ’n geitjie, en sy wys nie haar emosies nie – gewoonlik kry ek die softie-rolle.”
Sy het ook heelwat navorsing vir haar rol gedoen. “Ek het onder meer die bekende Micki Pistorius, wat lank ’n profiel samesteller vir die polisie was en verskeie reeksmoorde help oplos het, se boeke Catch me a Killer en Profiling Serial Killers gelees. Dit het my gehelp om Lena met oortuiging te kon speel.”
Byl word later vanjaar op kykNET uitgesaai. En wat wag dan op Lika?
“As ek klaar is met Byl, gaan ons terug plaas toe.”
Ons maak later vanjaar nog ’n sokkerfliek, ook met die mense van die plakkerskamp op Plet. Ons gaan ook skole en sokkerklubs daarby betrek. In Julie hou ons ’n rolprentfees daar – dis iets wat hopelik ’n jaarlikse instelling sal word.”
Beteken dit hulle gaan vir altyd op die plaas bly?
“Ons sal altyd ’n sagte plekkie hê vir die gemeenskap en ons projek daar, maar jy kan nie op die platteland gaan wegkruip sonder om jou hulpbronne aan te vul nie. Daarom beplan ons om volgende jaar terug te kom Kaapstad toe – dis die hart van die bedryf, en ons het klaar weer ’n klomp geleenthede hier geïdentifiseer. Ons kan hier só baie leer, en dan kan ons ons kennis en hulpbronne weer in ons projek terugploeg. Ons gaan steeds ons huisie daar hê, so ons sal gereeld teruggaan. Maar dis dalk in die stadium van ons loopbane nie ideaal om so ver weg te woon van waar al die dinge gebeur nie.”