Ligloop vir geskenke wat jou geld kos deur Anet Schoeman
Ligloop vir geskenke wat jou geld kos
Jou kind mag dink jy is die beste ma in die wêreld as jy vir haar ’n peperduur sportmotor vir haar 21ste verjaarsdag gee.
“Dis wonderlik solank dit binne die raamwerk van jou inkomste en kredietstatus pas”, sê David Thompson.
As SARS egter snuf in die neus kry dat jy probeer belasting ontduik of as jy krediteurs of vir SARS geld skuld, gaan jy ondersoek word.
Donasies verskil van geskenke; jy kan jaarliks donsasie tot en met die waarde van R100 000 maak wat belastingvry is. Meer as dié bedrag en jy betaal 20% donasiebelasting.
Lees ook: 5 dinge wat jy moet weet voordat jy ’n nuwe kar koop
As jy ’n huis present kry
En is iemand gaaf genoeg is om vir jou ’n huis present te gee, moet jy seker maak dat hy wel die 20% donasiebelasting op die bedrag betaal het, anders gaan SARS jou daarvoor laat betaal as dit nie binne ses maande vereffen is nie.
Dit is toelaatbaar om ’n woonstel vir ’n studentekind geskenk te gee sodat hy/sy ’n eie blyplek het. Dit moet net binne die raamwerk val van wat redelik is vir die situasie en jou rykdom. ’n Uitspattige blyplek wat meer geskik vir ’n koning as ’n kind is, gaan waarskuwingsligte laat flikker.
“Mense moet versigtig wees en seker maak dat geskenke gepas is vir die geleentheid. Donasies word gewoonlik gesien as skenkings vir ’n goeie doel of deel van die beplanning van ’n boedel en om begunstigdes te vestig vir die toekoms. Jy kan bv. ’n skenkingsfonds (endowment policy) vir jou kind uitneem en die paaimente as ’n “donasie” sien solank dit nie meer as R100 000 per jaar is nie.
Liefdadigheid
Donasies vir liefdadigheid is belastingvry tot op ’n punt en solank dit ’n goedgekeurde seksie 18A-organisasie (public benefit organisation) is. As jy ’n donasie aan so ’n instansie maak, moet jy ’n seksie 18A-sertifikaat aanvra wat saam met jou belastingopgaaf ingedien moet word.
Dis ’n goeie idee om met ’n professionele finansiële beplanner te gesels as jy nie seker is wat die impak van ’n donasie of gesenk op jou eie finansies gaan wees nie.
Inligting verskaf deur Sanlam.