Soos vir Mieke. Hierdie eens vrolike ekstrovert het op elf skielik nie maats nie. Sy voel “almal is teen haar”, huil maklik, haar skouertjies hang; van ontluik in ’n lewenslustige tiener is daar nie sprake nie. “Ek was so ontsteld toe ek verlede jaar ná die wintervakansie haar kamer regpak en op die boks vol toegevoude folio’s afkom wat sy geskryf het. Op net elf skryf sy oor en oor: Ek haat myself; niemand hou van my nie; my maats is aaklig met my, maar dis al soort maats wat ek werd is; ek is lelik; ek is stupid; hulle het weer vir my weggehardloop. Jy suck, jy SUCK. Dié een was in ’n ander kind se handskrif, met ’n dosyn ander handtekeninge daarby. Daar was nog ’n briefie: Jy kan nie pouse met ons speel nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }“Ek kon sien dit gaan nie goed nie, maar soveel pyn het ek nie verwag nie,” vertel Emma. Sy het die boks toegemaak en na oplossings begin soek. Daar is, maar dis ’n moeiliker, langer pad as wat jy sou wou hoop.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }
“Selfmoord” en “tien jaar oud” is twee konsepte wat jy nie bymekaar bring nie, maar kinderpsigiater Juan Schrönen sê die selfmoordkoers onder kinders van 10 tot 14 het die afgelope dekade verdubbel.
“Selfmoord onder sulke jong kinders ís skaars, maar ons gee te min aandag aan hierdie groeiende probleem. Ouers aanvaar dat hul tienerkind depressief kan wees. Hoërskole let op na depressie; daar is voorlig ligtingonderwysers, jeugwerkers en skole verwys kinders dikwels vir hulp as die ouers dit nie raaksien nie. “Maar as ek vir mense sê ek moes al ’n negejarige met ’n antidepressant behandel vir ernstige depressie, dink hulle ek wil geld uit antidepressante maak.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Die werklikheid is dat laerskoolkinders diep depressief kan word – en so ernstig dat dit nie net hul persoonlike ontwikkeling nie maar ook hul brein permanent skaad.”
Ontken ons die probleem onder laerskoolkinders? Los ons jong kinders – die broosste van almal – om maar alleen met hul siekte te worstel? Dit lyk so. Rentia, ’n laerskoolonderwyseres, sê sy het elke jaar in haar graadsesklas minstens een kind wat sy doodseker is depressief is.
“Meestal sal die ma my kontak en sê die kind is ‘ongelukkig’ en raad vra. Maar daar is werklik min wat ek in die klassituasie kan doen. “Ek betrek die kind waar ek kan, maar gewoonlik is die depressiewe kind nie in staat om uit te reik en van sy kant af takies te doen, soos om die klas se potplante water te gee nie.
Hul klaswerk is swak en ek kan min sterretjies uitdeel en prys. Omdat sy konsentrasie swak is, werk klasdeelname nie; hy gaan vir seker verkeerd antwoord en nog meer na ’n mislukking voel. Ek kan nie oral dophou en die kind beskerm nie. My klasse is groot – meer as veertig leerders – met ander kinders wat ook aandag eis, soos die hiperaktiewes en die stadiges. “Dis ’n moeilike ouderdom. Ek kan kinders nie dwing om maats te wees nie; hulle wil hul maats kies. Ek kan hulle nie dwing om nice met mekaar te wees nie. Dis skrikwekkend om te sien hoe kras hulle mekaar kan afkraak. Party kan dit verwerk, maar ander knak.
“Ander kinders reageer nie goed op depressie nie en stoot hierdie outjies verder uit. Ék kan nie veel doen nie, en as die ma nie die vermoë het nie … Ja, dan is die kind aan homself oorgelaat.”
Emma vertel hoe magteloos en onbeholpe sy voor hierdie situasie is.
“Ek vra raad, maar mense verstaan nie, of help nie. Ek loop my oral vas in ’n houding van dat dit maar normale groeipyne is, of dat ander kinders wat hope maats het ook maar soms met hul maats ’n uitval het. Party impliseer selfs dat Mieke dit oor haarself gebring het. Een het vir my gesê gawe kinders het maats, nare kinders nie. Vir my lyk dit eerder asof die nare, katterige kinders maats het en die sagter kinders makliker uitgestoot word.
“By die skool loop ek my in ’n muur vas. Hulle sê maar net hulle ‘dra elke kind se belange op die hart’ en ‘die kind gee nie moeilikheid nie, so alles is in orde en ek moet my nie bekommer nie’. My indruk is dat hulle dink dit gaan oorwaai. En ja, dit is seker wat in ’n ander sin gaan gebeur: oor ses maande ‘waai’ Mieke uit die laerskool. So word die probleem wat hulle betref, opgelos.”
Emma verwyt haarself dat dinge so ver gegaan het. “Dit het skielik gebeur. Sy het haar kringetjie maats gehad. Verlede jaar is sy van haar beste maatjie geskei. Daar was van haar ander maats in haar klas, maar sy kon net nie op dreef kom nie. Ons het nuwe maats oorgenooi en ek het aangemoedig dat sy kyk wie ook alleen is en uitreik. Ek het gehoop dit gaan in die tweede kwartaal beter. Maar skielik is dit die derde kwartaal en my kind het binne drie maande – dit voel soos ’n oogwink – in hierdie hartseer, hartseer kind verander. Ek moes dit seker vroeër raakgesien het, voor dit te ver gegaan het.”
Conrad Minnaar, ’n polisie-onderhandelaar wat daarin spesialiseer om selfmoordgevalle uit die poging te probeer praat, sê dis die een ding wat hom keer op keer opval: ouers wat sê hulle het dit nie verwag nie; die kind was dan tot ’n paar weke gelede so tevrede/ sosiaal/besig.
Gesels met jou kind oor ditjies en datjies net wanneer jy kan. Luister na sy antwoorde, vra uit, sonder om in te vra. As jy nie raad gee nie en nie berispe nie, praat kinders makliker. Luister veral na sy stemtoon, kyk na sy lyftaal en neem in hoe hy dit sê. Dit verklap hoe dit emosioneel met hom gaan. As jou kind een van die stilletjies is – van nature skaam en teruggetrokke – wees ekstra oplettend oor sy lyftaal.” Juan sê die enigste betroubare aanduiding is dat die kind nie meer homself is nie. “Dit sal jou help om te onderskei of jou kind net vandag ’n bietjie ‘af’ voel en of die kind al eintlik in sy lewenshouding geskuif het. Enige kind is soms huilerig of stuurs, maar jou kind met ’n probleem is weke lank oorwegend of dikwels so. So is kinders wat maklik uitgereik het, nou dikwels of merendeels angstig.
Die voorheen lewenslustige kind put nou selde genot uit enigiets. Die kind kan ook baie meer of baie minder slaap, of baie meer of baie minder eet. Nog ’n goeie leidraad is dat die kind al swakker vaar op skool en sukkel om te konsentreer.” Dis bitter moeilik om jou vinger daarop te lê, glo Emma. “Dis nie soos koors wat van gister na vandag duidelik verander nie. Eers as ek dink hoe my kind twee jaar gelede was, kan ek sê sy is nou baie anders. Dis eerder soos ’n geleidelike aftakeling: eers was daar net een voorval en sy kon dit ná ’n tydjie oorkom; toe nog een en nog een. Eers was sy net ’n aks minder vrolik as die vorige week en later elke week of so net ’n aks hartseerder.
Jy word naderhand gewoond daaraan. Mieke is my oudste, en jy hoor oral die tienerfase is mos vol dramas, en dus dink jy dis maar hoe dit nou moet wees.” Daarom glo Juan dat ouers wat “wonder” die diagnose in die hande van ’n professionele buitestander moet plaas. “Ons gebruik vraelyste soos die Kiddie SADS, die Children Depression Rating Scale en die Columbia Suicide Severity Scale om ’n geheelbeeld van die kind se emosionele toestand op te bou. As buitestanders kan ons meer objektief as die ouer oordeel.”
Juan glo julle moet heel eerste met gespreksterapie begin.
“Maar ek sal baie versigtig wees in wie se hande ek die vorming van my kind se denkpatrone laat. Kies iemand met die vermoë om jou kind anders én meer positief te laat dink. Iemand wat jou kind vertel depressie is van die duiwel, of dat jy depressie net moet wegbid, doen ontsettend ernstige langtermynskade.
“Die sielkundige behoort jou kind bykomende vaardighede te leer (soos hoe om in ’n groepie op te tree, die waarde van ’n paar vriendelike vrae, groter selfinsig, of wat ook al nodig is) en dit met jou te bespreek sodat julle dit kan inoefen. “Die ideaal is dat jy sélf jou kind emosioneel ondersteun, want jy is daar wanneer hy vashaak, teenoor die sielkundige wat ’n uur per week het om aan ’n probleem te werk wat hom al die hele week kwel … en dalk direk ná skool wanneer die kind oormoeg en gejaag daar aankom en glad nie lus is om saam te werk nie.” Is anti-depressante nie darem net te drasties vir laerskoolkinders nie? Moet jy nie maar net aanvaar dat grootword ’n pynlike proses is en dat kinders deur met die probleme te worstel juis sosiale vaardighede aanleer nie?
“Dit hang af. As jou kind nie beter word nie, is hy biologies depressief, met ander woorde hy het ’n siekte wat buite sy beheer is. Sosiale vaardighede en gesonde persepsies het niks met sy toestand te doen nie: sy breinchemie kelder hom.
Ek is heeltemal gekant daarteen dat ouers en skole kinders maar net los: dis oningelig en ongevoelig, en sonder enige opvoedkundige waarde. Mense onderskat die impak van breinontwikkeling op vatbare kinders. Die frontale lob van die brein waar emosie gesetel is, ontwikkel in die tienerjare meer as in enige ander fase. By party kinders gaan dit met meer skommelings gepaard as by ander, wat hulle baie vatbaar vir depressie maak. “Ons besef ook nou dat depressie in hierdie fase die brein permanent skaad. As jy nié optree nie en die brein maar wanfunksioneel los, word depressie die brein se voorkeur werkswyse, wat jou kind se persoonlikheid vir die res van sy lewe vervorm. Depressie infiltreer permanent sy persoonlikheid – tensy dit behandel word.”
Beteken ’n pilletjie op tien ’n pilletjie tot op honderd? “Nee wat. Vir die meeste kinders is ses tot twaalf maande genoeg.
Dit lyk eintlik asof vroeë ingryping die brein tot by normale funksionering terugbring, waarna die kind baie waarskynlik nie weer ’n antidepressant nodig kry nie. As jy die kind los, sukkel hy juis vir die res van sy lewe met depressie. Die doel van die antidepressant is om die kind se breinchemie te plaas waar ander kinders s’n in elk geval is.”
• Wat sê jou intuïsie en die feite?
Sien jy ’n verandering of ’n bui? Die Kiddie SADS-evaluering kan jou help onderskei. Kry ook die klasonderwyseres se indrukke. Kry by jou dokter ’n verwysing na ’n kinderpsigiater. Moenie dat ’n huisdokter sommer ’n antidepressant voorskryf nie; dit is meer kompleks om kinders te behandel.
• Verduidelik aan jou kind depressie is ’n siekte net soos diabetes
Jy word nie vanself gesond nie en moet hulp kry. Daar is twee soorte hulp: vir party mense help dit om daaroor te gesels en te dink; by ander gaan dit oor breinchemie wat met ’n pilletjie reggestel word. Lig die skool in sodat jou kind met begrip benader word.
• Ontlont die stigma
Die skool kan nie jou kind se probleem oplos nie maar ter wille van groter begrip kan ’n organisasie soos SADAG die leerders en onderwysers kom leer omtrent depressie.
• Oppas vir manipulasie
Moenie jou kind oorbeskerm of alles toelaat nie. Hy kan nie te depressief wees om huiswerk te doen, maar vrolik genoeg vir fliek wees nie. ’n Werklik depressiewe kind sien vir die lekker dinge ook nie kans nie.
• Sorg vir ’n gesonde roetine
Veral depressiewe kinders vaar beter as hulle vroeg bed toe gaan, TV en rekenaarspeletjies realisties beperk word, daagliks bad, skoon aantrek, skool toe gaan, ’n bietjie buite kom en aan ’n aktiwiteit deelneem wat hul wêreld verbreed.
• Bou positiewe sienings
Ons glo ons persepsies oor gebeure, eerder as feite. As jou kind ’n klasvoorval baie negatief lees – daar is dalk ’n briefie rondgestuur wat sê hy suck – verduidelik dat eintlik net ’n paar ongemanierde kinders die briefie geskryf het en dat die res te bang of dom is om iets te sê. Help jou kind met begeleidende vrae om in te sien dat dit nie “die hele klas” of “almal” is nie; dat dit met almal ’n keer of wat in hul lewe gebeur; dat ander maats (en noem hulle by die naam), familie en jy die diamant in hom raaksien; en dat sulke briefies julle minagting verdien.
• Is jou kind gereed?
Hulle verloor selfvertroue as jy eise stel wat hulle nie suksesvol kan hanteer nie en waarin hulle keer op keer misluk.
• Tel jou kind se druk
In hoeveel van jou kind se aktiwiteite word spanplekke toegeken, pryse uitgedeel, punte getel of vorderingsverslae gegee? Elkeen van hulle is druk om te presteer – dalk nie van jou af nie maar van die aanbieder. Te hoë verwagting breek kinders en skep ’n teelaarde vir depressie.
• Pas die skool by jou kind?
Die naaste skool, of die mees vooraanstaande skool wat jy kan bekostig, is dalk nie die beste vir jou kind nie. Kies een wat by jou kind se vermoëns en persoonlikheid pas – kleiner getalle, gemakliker akademiese standaarde as jou kind nie ’n toppresteerder is nie, ’n skool wat nie op sport fokus as die kind nie sporttalent het nie. l Waarmee is jou kind besig? Depressie sal ’n kind aftrek wat ure aaneen negatiewe dinge lees, soos “fuckmylife” via mixit waar die een storie van mislukking na die ander gepos word. Dieselfde geld party TV-programme, rekenaarspeletjies en donker musiek. Speel doelbewus vrolike musiek in die res van die huis, gesels oor opwindende dinge, skets vir jou kind ’n lewe van optimisme.
• Hou jou kind aan die praat
Jou kind sal makliker gesels as jy nie met elke tweede sin raad uitdeel en teregwys nie. Frases soos “O, regtig?”, “En toe?”, “Ma is so trots op jou” en “Is dit?” is towerwoorde wat kinders aan die praat hou.
• Eet aan tafel
Jy sal verbaas wees hoeveel meer julle gesels as julle om die tafel sit. Kom in die gewoonte dat julle ietsie vertel wat julle vandag laat lag het of gefassineer het.
Genoeg vir 4. Bestanddele 6 aartappels, in wiggies gesny sout en gemaalde swartpeper…
Genoeg vir 4. Bestanddele 500 g vars pasta, soos tagliatelle of spaghetti 250 ml…
Om jou hond se ore skoon te maak is ’n noodsaaklike deel van sy basiese…
Bestanddele 3-4 groot rooi soetrissies, middeldeur gesny, en wit vliesies en pitte verwyder. sout…
Ons almal het een of ander slegte gewoonte. Die goeie nuus is dat jy dit…
Hierdie webwerf gebruik koekies.