Verna Vels se geliefde Liewe Heksie, wat terloops op 42 April verjaar (ja, 42!), kruip geslag ná geslag diep in kinderharte. Sy sukkel soms met lang woorde, maar gelukkig is Blommie die Kabouter en haar geliefde Mattewis die kat altyd naby om te help. Die jongspan kan nader skuif, want Liewe Heksie en haar kaboutermaats kuier weer by die Atterburyteater op Donderdag, 21 Maart. Die 09:30 vertoning is reeds uitverkoop, maar die goeie nuus is dat daar ‘n ekstra vertoning geskeduleer is vir 12:30. Vir besprekings, besoek www.LTickets.co.za. Vir groepbesprekings en navrae, skakel Monica Booysen by (011) 815-3000 of e-pos [email protected]. Liewe Heksie word aangebied met die trotse ondersteuning van die City Lodge Lynnwood, Van Loveren Wyne, Hollywood Costumes, Lift, Britz Couriers and Removals, Stephnie’s en WS Pianos.
Voor pouse word Liewe Heksie en Botterblom opgevoer. Botterblom is Blommeland se koei wat vir die hele Blommeland melk verskaf. Maar Botterblom is kwaad. Karring, Blommeland se melkkabouter, laat niemand by Botterblom toe nie en Botterblom raak baie eensaam. Dan begin die poppe (of is dit nou koeie?) dans. Na pouse is dit dan Liewe Heksie en die Tuindwergie, waar ons Casper die tuindwerg ontmoet. Toe Casper die tuindwerg op ’n dag wakker word in Liewe Heksie se tuin, is daar drama van begin tot einde. Want wie is dit agter daardie boom? Kan dit ’n stoute Gifappeltjie wees? Die maats moet kom uitvind by die Atterbury Teater.
Liewe Heksie en die Tuindwergie is die laaste Liewe Heksie-storie wat Verna Vels geskryf het, spesiaal vir Frans Swart, Besturende Direkteur van Lefra Produksies. Frans het sy tande geslyp by die destydse SAUK televisie as televisiekameraman. Hy het op heelwat groot produksies gewerk, maar een van sy hoogtepunte was beslis die kamerawerk op die televisiereeks, Liewe Heksie. So het hy vir Verna Vels ontmoet, wat op daardie stadium Bestuurder van Kinderpogramme was. “Sy was die wonderlikste en mees kreatiewe mens. Sy was bereid om al haar kennis as skrywer vir kinders met my te deel en vir my ook te leer om vir kinders te skryf. Ek was verantwoordelik vir ‘n hele aantal Wielie Walie-tekste, daarna het Vuurhoutjieland gevolg, Siembamba en so het ek ook my eerste kinderboek, Blouvlam die Draak geskryf onder die bekwame oog van Verna.” Frans voeg by dat sy maar net verstaan het hoe kinders dink en wat gryp kinders aan. “Liewe Heksie is beslis so ‘n voorbeeld – ons praat al van ‘n paar generasies wat die klein heksie oorgedra het aan ‘n volgende generasie. Verna het so totaal verstaan hoe om met kinders te kommunikeer deur Heksie en die ander karakters, want Heksie verstaan ook nie mooi van ‘groot woorde’ nie. En Heksie kom gewoonlik in die moeilikheid oor iets wat sy nie beplan het om haar in die moeilikheid te bring nie.”
Swart was verantwoordelik om heelwat Liewe Heksie-stories vir die verhoog te verwerk en aan te pas. “Ons het gewoonlik ‘n paar stories gekombineer om uiteindelik by die verhoogproduksie uit te kom. Onthou ook, ons uitdaging was altyd om al die karakters van Blommeland uit te beeld met net vier akteurs. Dit was somtyds ‘n groot uitdaging,” sê Swart. “want Blommeland het baie karakters gehad. Natuurlik was dit op radio baie makliker om soveel karakters te skep.” Vier baie talentvolle akteurs gee aan die Liewe Heksie-karakters lewe op die verhoog. Anmari van Achterbergh speel die rol van Liewe Heksie, Botha Enslin die rolle van Mattewis, Kwaaitjie Kabouter, die Geelheks, Borrie die Gifappeltjie, Griet, Karel Kat en Koning Rosekrans. Elizma Byleveldt is te siene as Blommie, Kerrie die Gifappeltjie en Koning Rosekrans. Phillru van Achterbergh vertolk onder andere Casper, die Tuindwergie, ‘n Gifappeltjie en Klein Kwaaitjie.
Swart vertel verder dat hy en Verna ten minste een keer per maand gaan tee drink het. Tydens die tee- en geselssessie het hy Verna amper mal gehad om nog Heksie-stories te skryf. Verna en Frans se werkswyse was dat Verna die storie skryf en dan hanteer Frans die verhoogteks. Sy het bly sê dat sy nou uitgeskryf is aan Heksie, maar Frans het net aanhou bly karring! “En toe ons weer eendag tee drink, toe sê sy uit haar eie uit dat sy dink Heksie moet ‘n tuindwergie ontmoet. So is Liewe Heksie en die Tuindwergie gebore kort voor Verna oorlede is. Verna het vir my vertel dat sy een aand gedroom het dat Karel Kat se huismense vir Casper, die tuindwergie wou weggooi omdat tuindwergies uit die mode uit gegaan het. Ek onthou so goed dat sy so lekker gelag het toe sy gesê het: ‘Maar ek sien tuindwergies kom nou weer in die mode. Modes herhaal mos maar!’
Bederf die kleinspan – en jouself – deur nou vir hierdie wonderlike produksie te bespreek by www.LTickets.co.za
Groepbesprekings en Navrae: Monica Booysen by (011) 815-3000 of epos [email protected]
Regisseur en vervaardiger Frans Swart
Met Ana van Achterbergh, Botha Enslin, Elizma Byleveldt en Phillru van Achyterbergh.
Atterburyteater, Lynnwood Bridge Lifestyle Centre, Daventrystraat 4, Hoek Van Lynnwoodweg, Lynnwood.
Donderdag, 21 Maart om 09:30 & 12:30
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Ansu van der Sluys oor haar nuwe onderneming in binnenshuise versiering