*Hierdie artikel het in die Augustus 2011-uitgawe van rooi rose verskyn.
Lees ook wat sê Willem Landman oor genadedood
As jy ooit ’n geliefde aan die dood moes afstaan, weet jy hoe erg dit is. As jy boonop die mens vir wie jy opreg lief was, moes sien ly, is dit asof die swaard twéé keer deur jou sny.
Prof. Sean Davison, hoof van die Forensiese DNS Laboratorium in die Biotegnologie-departement aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het albei hierdie traumas ervaar. Hy het sy ma, die 85-jarige dr. Patricia Ferguson, se sterwe in haar huis in Broad Bay, Nieu-Seeland, as haar versorger meegemaak. Maar die ergste was die uitgerekte lyding wat haar dood voorafgegaan het. Terminaal siek met kanker wat van haar dikderm na haar longe, lewer en brein versprei het, het sy doelbewus op ’n hongerstaking gegaan om haar dood te verhaas. Min het sy geweet dat sy 35 dae lank op slegs water sou oorleef – dae waarin haar liggaam pynlik weggekwyn het terwyl haar verstand steeds helder was.
Sean, wat in Augustus 2006 sy lewe in Suid-Afrika voorlopig tersyde gestel het en Nieu-Seeland toe is om sy ma in haar laaste dae te versorg, kon ook nie raai wat op hom wag nie. Hy het geen idee gehad hoe lank sy nog sou leef nie, net dat hy sy bes wou doen om dié tydperk vir haar so maklik moontlik te maak aangesien sy nie na ’n hospitaal of hospies wou gaan nie. Hy het nie besef dat hy haar drie maande lank al intenser sou moes versorg op maniere wat haar waardigheid sou aantas nie, soos om haar op die toilet vas te hou; hy kon nie voorsien dat sy so sou verswak dat sy hande haar vel sou kneus wanneer hy haar elke twee uur sagkens probeer omdraai nie. Bowenal kon hy nie voorspel dat sy hom desperaat sou smeek om haar lyding te verlig deur haar met ’n dodelike morfiendrankie te help sterf nie – en nog minder dat sy hulp daartoe sou lei dat hy van moord aangekla sou word.
Lees jy Sean se boek, Before We Say Goodbye (Cape Catley Ltd, 2009), val sy eerlike aanslag en vermoë om sy diepste gedagtes verstaanbaar uit te druk, jou op. “Ek is ’n wetenskaplike, nie ’n skrywer nie,” sê hy in die voorwoord. “Ek het dagboek gehou en nie beplan om ’n boek te skryf nie. In ’n poging om my ma se naderende dood te verwerk, het ek destyds die behoefte ervaar om oor die gebeure te skryf. Dit het my gehelp om ’n mate van orde in my lewe te skep.”
Wanneer jy die boek lees, kan jy agterkom dat iets skort. Die hoofstuk oor Sean se aandeel in sy ma se dood, asook ander inligting, is deur die Nieu-Seelandse uitgewers uitgelaat. “Om wetlike redes het my uitgewers ’n paar dinge wat in my dagboek was, verwyder,” skryf hy in die voorwoord. “Ek betreur dit, maar lê my by hul versoek neer.”
Die uitgewers was bang dat regsaksie sleg sou wees vir sake, sê Sean. “Ek was gekant teen die verwatering van my boek omdat ek gevoel het ek verkul ander wat dieselfde ervaring het. Maar ek het besef uitgewers is in ’n sekere sin aanspreeklik wanneer hulle ’n boek uitgee en dat hulle ook ’n sê oor die inhoud het.”
Hofsaak
Dis juis dié boek wat daartoe gelei het dat Sean nou in Oktober by die hooggeregshof in Dunedin, Nieu-Seeland, vir die moord op sy ma tereg staan. “Met my outeurstoer in Nieu-Seeland in 2009 is die oorspronklike manuskrip waarin ek vertel het hoe ek my ma help sterf het, aan die polisie uitgelek. Die polisie het in ’n verklaring aangekondig dat daar ’n ondersoek na my ma se dood sou wees.
“Weens die omstandighede rondom my ma se dood het ek dit as onwaarskynlik beskou dat die polisie hiermee sou voortgaan. My ma was 85 en terminaal siek aan kanker, sy het gekies om op ’n hongerstaking te gaan om ’n mate van beheer oor haar dood te verkry, en dit in ’n Lewende Testament uiteengesit. In die Lewende Testament het sy ook gevra dat daar geen poging sou wees om haar aan die lewe te hou nie. Eers ná haar eetstaking ‘gefaal’ het, het ek teen my sin ingestem om haar te help sterf. Ek kon regtig nie insien waarom die polisie die saak verder sou voer nie.
“In September 2010 het ek namens die Universiteit van Wes-Kaapland ’n internasionale forensiese DNS-konferensie in Sydney, Australië, bygewoon. Ek was nog by die konferensie toe ’n reuse-aardbewing Christchurch in Nieu-Seeland tref waar my suster woon. Hoewel ek geweet het daar was ’n polisieondersoek na my ma se dood, is ek dadelik soontoe om te kyk of sy die mas opkom. Ek het vir myself gesê: as ek my suster nie ná ’n aardbewing kan besoek nie, wat gaan gebeur as daar ’n dringender rede is om my na Nieu-Seeland te haas?
“’n Paar dae ná my aankoms in Nieu-Seeland is ek in hegtenis geneem en van die moord op my ma aangekla. Ek was in ’n algehele skoktoestand. Drie maande later het die Nieu-Seelandse hof op grond van ’n versoek van my werkgewer, die Universiteit van Wes-Kaapland en aartsbiskop Desmond Tutu, my borgvoorwaardes verander en my toegelaat om na Suid-Afrika terug te keer totdat die verhoor plaasvind.
“Dit was nie vir die hof ’n maklike besluit nie. In Nieu-Seeland was daar geen regspresedent wat iemand wat van moord aangekla is, toegelaat het om die land op borgtog te verlaat nie. Veral nie om terug te keer na ’n land soos Suid-Afrika, wat geen uitleweringsooreenkoms met Nieu-Seeland het nie.
“Baie mense in Nieu-Seeland, ook lede van die media, voorspel dat ek nie sal terugkeer om verhoor te word nie. Ek glo dat die reg sy loop moet neem en ek is ’n man van my woord. Ek sal teruggaan om myself teen hierdie ernstige aanklag te verdedig. Die verhoor begin op 26 Oktober en drie weke is daarvoor opsy gesit. Toevallig begin die nasionale verkiesingsveldtog op dieselfde dag. Dis drie dae ná die finale wedstryd in die rugbywêreldbeker – die lede van die jurie gaan depressief wees as Nieu-Seeland nie wen nie!”
Op ’n vraag oor hoe hy oor die hofsaak voel, sê Sean: “Glad nie gelukkig nie. As daar ’n werklike moord in my familie was, sou ek van die polisie verwag om geen steen onaangeroer te laat nie. Maar in hierdie geval dink ek die ondersoek was misplaas.
“Ek het nie my ma vermoor of ’n poging aangewend om haar te vermoor nie en sal vir seker nie skuldig pleit nie. Die saak wek groot belangstelling in Nieu-Seeland. Dis sub judice en die media daar mag niks oor my berig nie. Die nasionale televisienetwerk het reeds toestemming om dele van die saak direk uit te saai; ek sidder by die gedagte dat my lewe so voor die wêreld ontbloot moet word.”
’n Nuwe debat
Ondanks die vooruitsig van ’n verhoor en moontlike vonnis van tot drie jaar tronkstraf, beywer Sean hom hart en siel vir nuwe wetgewing rondom genadedood in Suid-Afrika. In lande soos Switserland is genadedood wettig. “Party mense sal in dieselfde posisie as ek beland, terwyl ander dieselfde belewenis as my ma sal hê. My boek het ’n debat rondom die dood en verwante kwessies aangevuur en dit kan tot ’n verandering in die huidige wetgewing lei. Verandering in ’n gemeenskap word ten beste teweeg gebring deur inligting te deel, te lees, te skryf, en na ander se ervarings te luister. Só het ons samelewing byvoorbeeld by gemakliker sienings van sake soos homoseksualiteit, geboortebeperking, MIV-vigs en dwelmmisbruik uitgekom. Hierdie onderwerpe word deesdae aan tafel en in die klaskamer bespreek en mense is beter ingelig en het meer begrip daarvoor.
“My boek is veral relevant vir ouer mense wat voel dat hul einde nader kom, of mense met bejaarde ouers en grootouers. Baie mense worstel alleen hiermee. Dalk kan my storie hulle laat besef hulle is nie alleen nie. Nie almal sterf vredig in hul slaap soos die meeste doodsberigte lui nie – inteendeel. My ma se doodsberig moes eintlik gelui het: ‘Pat Davison het ’n ellendige, afgryslike dood by haar huis in Broad Bay gesterf, ná 35 dae van ’n selfopgelegde hongerstaking. Sy word deur vier emosioneel getraumatiseerde kinders oorleef.’ Ons moet elkeen sterf. Ek dink my boek berei mense hierop voor, en verminder hul vrees.”
Watter reaksie het Sean se verhaal sover uitgelok? “Sedert die kwessie van my hofsaak bekend geword het, word ek oorval deur verslae van mense met soortgelyke ervarings. In Suid-Afrika is daar groot belangstelling, veral in die Afrikaanse gemeenskap. Ek dink mense besef hierdie vraagstuk raak almal.
“Die steun wat ek ervaar, laat my baie nederig voel. Daar was steun van mense wat baie godsdienstig is, van wie ek veroordeling sou verwag. Ek vermoed hulle het hulle in my posisie ingedink en gewonder wat húlle sou gedoen het. Party het selfs gesê volgens hul godsdienstige oortuigings het ek nie reg opgetree nie, maar hulle voel dit was die meelewende ding om te doen. Vir my bly die belangrikste dat my motivering kindness was.
“My broer en susters was bewus van my besluit om my ma te help en het dit ten volle ondersteun.”
’n Liefdevolle verbintenis
Hierdie artikel weerspieël nie die hegte verhouding tussen Sean en sy ma nie; dié fyn band en gedeelde humorsin word duidelik wanneer jy Before we Say Goodbye lees.
“Ek was ná aan my ma en baie lief vir haar. Sy was ’n moederlike, onbaatsugtige, liefdevolle vrou wat vyftien jaar van haar loopbaan as algemene praktisyn en psigiater opgeoffer het totdat ons vier kinders almal skool toe is. Sy het ons onvoorwaardelik liefgehad.
“My ma was intelligent en onafhanklik maar ook stil en gereserveerd. Sy was besonder leergierig en het graag gelees en gereis. Sy het ons van omgewingsbewaring bewus gemaak, pottebakkery gedoen en pragtig geskilder. Sy was ook gek na tuinmaak.”
Oor sy ma se dood sê Sean: “Toe my ma haar hongerstaking begin, het sy verwag om gou te sterf. Elke oggend was sy verslae wanneer sy wakker word. Haar vlees het begin ontbind. Haar tong was ontsteek. Sy was oortrek met bedsere en het ’n kateter en kolostomiesakkie gehad. Sy het besef sy ervaar die onwaardige dood wat sy tot elke prys wou vermy.
“Sy het gesê sy wou haar lewe neem met morfienpille wat sy opgegaar het. Sy was te swak om dit self te doen en het my om hulp gevra. Dit was vir my ’n geweldige skok. Ek het ’n nag en ’n dag lank daaroor gewroeg en toe besef dis wat sy wou hê. Geen mens behoort so te ly nie. Ek het geweet as ek weier, sou die wete my die res van my lewe folter.
“Sy wou eers nie glo dat ek dit wel sou doen nie. Toe sy besef ek is ernstig, was sy mateloos verlig. Sy het die eerste keer in dae geglimlag. Ek het die tablette op haar aandrang fyngemaak. My trane het gevloei en my hart het wild geklop. Ek moes die mens wat ek die heel liefste gehad het, doodmaak, die een wat aan my die lewe geskenk het. Maar daar was geen ander uitweg nie. Dit was my lotsbestemming, die finale bewys van my liefde vir haar. Ek het dit met water vir haar ingegee.
Die paar uur voor sy weg is, was aangrypend mooi. Ek het met haar oor gelukkige tye gesels en oor ons kinders se liefde vir haar. Sy kon later nie meer praat nie maar het sag bly glimlag. Toe het sy vredig aan die slaap geraak.”
Sean se verhaal is geen Hollywood-fliek met ’n netjiese spanningslyn nie. Dis deurspek van die innerlike konflik eie aan ons alledaagse lewe: sy verwarring oor sy ma se aanvanklike beterskap toe hy by haar opdaag en sy kommer oor sy verpligtinge in Kaapstad; spanning tussen hom, sy susters en sy broer oor sy ma se versorging; verskeurdheid omdat hy nie sy ma wou verloor nie maar haar tog moes laat gaan; haar eie vrees vir die onsekerheid van die dood teenoor haar verlange om te sterf.
Hierdie opregte en diep menslike verhaal laat jou kritiese vrae vra oor die beskawing waarvan ons deel is. Hoe gebeur dit dat ’n man wat soveel liefde en opoffering teenoor sy ma uitgestraal het, juis daarom moontlik ontneem kan word van die geleentheid om dieselfde liefde aan sy gesin te bewys?
Tog hou Sean moed. “Ek het twee oulike seuntjies wat my baie plesier en hoop vir die toekoms gee.”
Ná sy ma se dood het Sean ’n nota op haar bed gekry waarop sy geskryf het: “Sean, please have children.”
Die feit dat hy dit gedoen het, bevestig die band tussen hulle op ’n besondere manier. Die lewe eindig nie in vergetelheid nie; dit gaan op nuwe maniere voort.
*Sean het skuldig gepleit aan bystandselfdood tydens die verhoor in 2011. Hy is gevonnis tot vyf maande huisarres wat in 2016 geëindig het.