Lewensvreugde – Deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: Johan Wilke
Die akteur Morné Visser het kleintyd glad nie in drama belang gestel nie. “Ek het die wonderlikste kinderjare gehad in Bothasig, ’n werkersklaswoonbuurt in Kaapstad. Soggens is ek met my BMX skool toe, en smiddae het ek see toe getrap met my branderplank onder my arm vasgeknyp. Ek het wonderlike maats gehad, en ons het alles van tennis tot rugby in die straat gespeel.”
Ná matriek aan die Hoërskool Hugenote op Wellington is hy weermag toe, en daar het ’n toneelkompetisie hom laat dink dat drama dalk net ’n interessante loopbaan kan wees. “Ek was die enigste een wat nie my hand opgesteek het toe daar vir vrywilligers gevra is nie, en daar kry ek toe die opdrag!” Toe skryf hy ’n stuk, speel daarin én behartig die regie. “Ek was verbaas hoe baie ek dit geniet het! My tannie Marjorie Nortje was ’n verhoogaktrise, en as kind het ek na haar stukke gaan kyk. Dit het my gefassineer. Maar al wat ek op skool wou doen, was sport en op my BMX rondjaag.”
Het jy toe drama gaan studeer?
Ja, aanvanklik het ek by die Universiteit van Stellenbosch vir ’n dramagraad ingeskryf – hoewel ek van die kursus gehou het, het ek nie van die universiteit gehou nie. Toe skryf ek in vir spraak en drama aan die Cape Academy of Dramatic Arts in Observatory, Kaapstad. In my derde jaar is ek ’n klein rolletjie aangebied in Marthinus Basson se produksie van Shakespeare se Anthony and Cleopatra. Ek het daar en dan uit my ouerhuis getrek, ’n kamer in die stad gehuur en besluit om ’n lewe uit toneelspel te maak. Ek het die eerste jaar net op die verhoog gefokus. Ná Anthony and Cleopatra het ek Shakespeare se The Tempest by Maynardville gedoen en daarna met produksies vir skole getoer.
Jy het ’n rits rolprente en televisiereekse op jou kerfstok, asook talle verhoogproduksies. Watter medium verkies jy?
Al drie. Die uiteenlopendheid van dié drie dissiplines gee meer tekstuur en vaardigheid aan jou as akteur.
Wat sou jy as jou loopbaanhoogtepunte uitsonder?
Beslis die 123 episodes van die sitkom SOS wat ek destyds vir e-TV gedoen het. So ook my rol in Dis ek, Anna. Ek is ook baie opgewonde oor die vooruitsig om die hoofkarakter te kan speel in die rolprente wat van Karin Brynard se boeke Plaasmoord, Onse Vaders en Tuisland gemaak gaan word. Die draaiboeke word tans gefinaliseer, en ek speel die rol van kaptein Albertus Beeslaar. Die rolprente gaan internasionaal uitgereik word.
Jy is tans te sien in ’n rolprent wat ook by die beroemde Cannes-rolprentfees vertoon is …
Ja, dis Die Stropers, ’n internasionale ko-produksie uit die pen van die Suid-Afrikaans gebore Amerikaanse regisseur Etienne Kallos. Hy het ook die regie behartig. Die prent is met Engelse onderskrifte uitgereik as The Harvesters en in Frankryk as Les Moissonneurs. Dis ’n eietydse sielkundige drama wat hom op ’n afgeleë plaas in die Vrystaat afspeel. Ek speel die rol van die pa, Jan. Die rolprent het baie goeie resensies gekry, en is vir ’n toekenning by die Cannes-rolprentfees benoem. Dit word binnekort in Europa en Suid-Afrika bekend gestel.
Jy speel gereeld in internasionale rolprente en televisiereekse wat plaaslik verfilm word. Watter ervarings staan uit?
The Forgiven van die Oscar-benoemde regisseur Roland Joffe is ’n onlangse hoogtepunt. Hy was ook die regisseur van The Mission. Ek was nog ’n dramastudent toe ek die fliek gesien het en die prent het ’n groot invloed op my loopbaan gehad – dit was ’n droom wat waar geword het om saam met hom te kon werk. Variety en die Hollywood Reporter het my toneel aan die einde van die prent saam met Forest Whitaker en Thandi Makhubele as die beste toneel in die rolprent aangewys.
Ek was vanjaar ook in die Netflix-prent The Kissing Booth waarin ek Molly Ringwald se man gespeel het. Nog ’n hoogtepunt was om sowat 15 jaar gelede teenoor Patrick Swayze in die minireeks King Solomon’s Mines te kon speel. Hy het vir my die mooiste Ethiopiese kunswerk gegee met ’n nota wat sê dat ek moet aanhou toneelspeel, want ek het al die instinkte van ’n groot akteur.
Jy skram nie weg van omstrede rolle of prente wat die tonge laat klap nie. Hoe pak jy dit aan?
Ek hou van omstrede materiaal. Rolprente en toneelspel is ’n veilige manier om deur verskillende emosies en karakters te lewe. Ek voel as jy bekommerd is oor wat mense van jou keuse van rolle gaan dink, is jy meer behep met jou beeld as akteur as met jou doel as akteur. Akteurs is daar om alle soorte mense uit te beeld.
Vertel ons van jou ander passies en belangstellings? Hoe ontspan jy?
Ek is baie lief vir die see en swem weekliks in die koue Kaapse see. Ek speel ook weekliks ultimate frisbee op die strand. En stap. Ek kan ure lank stap. Ek bid graag wanneer ek stap en sê net dankie vir alles in my lewe. Ek is baie tevrede met my lewe.
Wat weet niemand van jou nie?
Ek is erg kleurblind.
Beskryf jouself in tien woorde …
Sterk, onafhanklik, liefdevol, kinderlik, spiritueel, pa, vriend, broer, standvastig, vergewensgesind.
Watter eienskappe bewonder jy in mense? En wat verpes jy?
Mense wat kan vergewe. Ek verpes niks.
Het jy ’n motto?
Sê eers dankie vir wat jy het, voor jy vra vir wat jy wil hê.
Waaroor voel jy baie sterk?
Ek voel sterk oor veroordeling. Ek probeer om almal eerstens en laastens as mense te sien. Ek hou nie daarvan as ’n mens op grond van jou velkleur, geslag, taal, besittings of agtergrond beoordeel of veroordeel word nie.
Het jy ’n emmerskoplysie? Wat is alles daarop?
Ek wil graag vanjaar die Camino-staproete in Spanje gaan stap. En ’n luilekker tropiese vakansie saam met Kirsten hou.
Wat is (volgens jou) jou beste eienskappe?
Ek veroordeel nie mense nie. Ek is ook emosioneel baie onafhanklik.
En die swakste?
Almal wat my goed ken, weet ek het ’n flip switch. O hel, nee! Kom ons los dit eerder daar …
Vreugde in die alledaagse
Morné deel sy lewe met Kirsten Koopman, ’n geoktrooi-eerde rekenmeester. “Sy is my partner-in-crime. Ons doen alles saam.” Morné se twee kinders uit ’n vorige huwelik – sy seun Kahlil (17) en dogter Maya (14), asook Kirsten se dogter Isabelle (11) woon by die paartjie in hul huis in Observatory, Kaapstad.
Sy ma se kos bly vir hom die lekkerste, maar hy is ook nogal handig in die kombuis, vertel Morné: “Of dit nou ’n smoothie is vir my beste vriend, die akteur David Isaacs, of ’n kerrie vir my kinders, of ’n bredie vir Kirsten – daar is liefde in kos maak.”
Daar is drie goed wat hy daagliks probeer doen, al is sy dag ook hoe vol. “Ek hou daarvan om my dag met ’n koppie koffie op my stoep te begin. Ek gaan stap ook elke dag ’n ver ent, en drink saans graag ’n glasie wyn saam met Kirsten.”
Morné hou van lees en veral van boeke deur Paulo Coelho. “Ek lees alles wat hy skryf.” The Prophet deur Kahlil Gibran is die boek waarvolgens Morné sy lewe rig, vertel hy. “Ek het selfs my seun na hom vernoem.”
Natuurlik hou hy ook van fliek! “Ek is mal oor Europese rolprente, veral Franse, Poolse en Nieu-Seelandse produksies. Schindler’s List is die een fliek waarna ek weer en weer kan kyk. Dis ’n meesterstuk.” Morné se gunstelingakteurs is James Spader en Sean Penn. “Ek was nog altyd mal oor hulle.” As dit by aktrises kom, is Kate Winslet boaan sy lysie gunstelinge. “Sy is fenomenaal.” Wanneer hy oor plaaslike talent praat, duik Izel Bezuidenhout – teenoor wie hy in Dis ek, Anna gespeel het – se naam op. “Dis wonderlik om saam met haar te werk.”