Met al die afskeide van geliefdes en bekendes wat deesdae om my gebeur, kan ek nie anders as om gereeld te wonder oor die doel van die lewe nie.
As iemand skielik uit jou lewenskring geruk word, word mens noodgedwonge ook gekonfronteer met jou eie sterflikheid en wat op aarde jy nou eintlik op aarde maak.
Tot kort voor haar vyfde verjaardag, was my dogtertjie vasbeslote dat sy bestem is om ’n Barbie te word. Vir iemand wat nie juis vreeslik klem lê op stereotipiese kinderspel nie – ek het nog nooit geglo “Dogtertjies moet Barbie speel en seuntjies karretjies” nie – was dit nogal ’n vreemde gedagte dat ek ’n pop grootmaak.
Haar wyse ouboet het toe op amper sewe droogweg opgemerk dat Barbies nou nie juis boffins is nie en sy nie moet dink dat sy eendag vir haar kinders sal kan Lego’s koop as sy nie ’n “regte werk” het nie.
Sy eie aspirasies wissel al die afgelope jaar tussen Lego-ingenieur word, spioen wees na-ure en natuurlik my gunsteling: werk-van-die-huis-af-pappa “sodat ek in die middag my seuntjie kan help met sy Wiskunde en met hom kan speel.”
Maar, nou die ander dag boul hy my heeltemal uit toe ons weer die gesprek het oor hoe lank mens moet leer om verskillende werke te kan doen. Ons is deur die hele spektrum van spioen tot hartspesialis, toe hy na so ’n ruk se stilte sê: “Mamma, ek dink ek wil eendag net ’n gewone mens wees. Want ek dink dit is hoekom God my gemaak het.”
Dit het my nogal getref dat iemand wat glo soos ’n kind, só vasberade kan glo dat God ons gemaak het om blote mense te wees.
Want, na bietjie nadink, vermoed ek dat dit nogal nie ’n maklike taak is om bloot ’n gewone mens te wees nie.
Ons aspireer eerder om die wêreld te verander deur spesialiste op ’n gebied te word wat die mens en aarde se voortbestaan sal verseker en in ons oë beter sal maak. Ons wil kundiges word en wetenskaplike en literêre en entrepreneursgrense verskuif. Ons wil uitblink! Ons wil geld maak! Ons wil suksesvol wees.
Maar, is suksesvol en die doel van die lewe een en dieselfde ding?
Hoe meer ek deesdae daaroor dink en gesels, hoe meer kom ek agter dat suksesvol in die wêreld se oë, dikwels as ’n groot leemte in die individu se lewe beleef word.
Wat help dit om die beste te wees in my veld, as ek inboet op gehaltetyd saam met my mense? Wat help dit om ’n fortuin te verdien as ek my oor ’n mik werk om hierdie fortuin te verdien – eerder as om die vrug van my arbeid darem ook te gebruik om lekker dinge saam met my hartsmense te doen en te geniet?
Volgens Rick Warren, wat in 2002 sy trefferboek oor ’n doelgerigte lewe uitgegee het, is die antwoord die volgende: “As jy weet waarom God jou geskep het, sal jy minder stres beleef, jou energie kan fokus, jou besluite vereenvoudig, betekenis aan jou lewe gee, en die belangrikste: Jouself vir die ewigheid voorberei.”
Die boek handel oor “’n leefwyse wat op God se ewige waardes gegrond is, en nie op kulturele waardes nie”.
En, hierin lê volgens my die kern van die doel van die lewe. Sodra jy voel jy lewe nie meer met ’n ewigheidsdoel nie, moet jy bietjie hersien wat nou eintlik belangrik is.
As alles weggestroop word waaraan die wêreld waarde heg – soos ’n hoogsbetalende loopbaan, gepubliseerde werk, ’n sakeryk, kinders wat danksy uitstekende en duur afrigters en leerondersteuning, die hoogste sporte bereik en net hoër en hoër mik en ten alle koste presteer – as dit alles een oggend op pad skool en werk toe net van jou weggeneem word, wat sal jou doel wees as jy agterbly?
Ek kom agter dat ek myself dikwels bewustelik en onbewustelik té veel meet aan wat ander dink. Die wêreld bepaal dat mens darem eintlik beter op pad is na jou doel as jy ’n paar sakeondernemings bedryf, jou kinders se belange op jou vingerpunte kan noem en beskerm, jou rol as gemeenskapsleier én dienende Martha vervul en boonop nog ’n talent het wat maak dat mense jou gesig onthou.
Effens oppervlakkig as mens regtig daaroor dink. Al bogenoemde dinge is wel die vrugte wat ’n mens op harde arbeid kan pluk. Maar: Is dit régtig waaroor die lewe gaan? Is dit régtig wat veroorsaak dat mense wat nie al hierdie dinge bereik nie, of selfs een daarvan nie, doelloos lewe?
Ek weier om dit te glo. Wie is ons om ’n ander se doel gering te skat? Om ’n ander se soeke na wat sy doel nou eintlik is, af te maak as doelloos?
Te midde van al die wenke en gedagtes wat Warren in sy boek deurgee, staan die volgende vir my uit: Die gedagte dat God deur my vir die wêreld iets wil sê.
Dit sluit vir my aan by die bekende gesegde: Mense sal nie onthou wat jy gedoen en bereik het nie, maar hoe jy hulle laat voel het.
Ek wil hierby voeg dat ek nie die soektog na ’n lewensdoel enigsins geringskat nie. Maar, ek dink dit is belangrik om te dink oor hoe jou soeke na hierdie doel die mense wat belangrik is in jou lewe, raak.
Ek glo nie ’n mens moet só fokus daarop om die doel van jou lewe na te jaag, dat jy vergeet om te lewe nie.
’n Kubervriendin deel onlangs die volgende:
Kom ons haal ’n slag asem. Kom ons lewe met die doel om te léwe – en geniet die voorreg en vreugdes wat hierdie reis na die Ewige Doel meebring.