*Hierdie artikel is ’n verwerking van die artikel “Betowerend” deur Ronel Nel wat in die Desember 2015-uitgawe van rooi rose verskyn het.
Leonard Cohen, die man wat ons onvergeetlikhede soos “Suzanne”, “So long Marianne”, “Bird on a Wire” en ja, “Hallelujah” gegee het, sal vir ewig in sy liedjies leef.
Jong voyeur …
Die verhaal van Leonard Cohen in sy biografie I’m your Man, soos vertel aan die hoogaangeskrewe musiekjoernalis Sylvie Simmons, lees soos ’n sprokie. Nie ’n Disney-sprokie nie, inteendeel, daarvoor was hy heeltemal te wild en jeukerig boonop. Leonard Cohen was nie ’n saint nie, moet daar duidelik en dadelik aangemeld word. Maar dat hy hemelse musiek geskryf het, is onbetwisbaar.
Dog, anders as die rowwe jacks van die tyd, was hy altyd subtiel en stylvol, gewild en benydenswaardig. “Die man in die pak.”
Hy was die klankbaan van ons jeug, van ons stuwende tiener-harte, romantiese en/of hartgebroke universiteitsjare, hippie-fases en vernielde siele.
Net nou die dag was ons by ’n troue waar die bruidspaar die dansbaan met sy “Dance Me to the End of Love” geopen het. Daar was nie ’n droë oog in die saal nie.
Dié folk-madrigaal is 82 jaar gelede in Kanada gebore as ’n “kohen” – dit beteken hy is ’n werklike afstammeling van Aaron en dus Hebreeuse “adellui”, hoewel hy in sy lewe by verskeie godsdienste ’n draai gaan maak het. Dit het sy liedjies, sy lewenswyse en sy nalatenskap diep geraak en beïnvloed.
Hy was eerstens ’n digter, dan ’n skrywer en daarna eers ’n liedjiemaker en sanger. So sê hy in I’m your Man. Dié boektitel is ook een van sy gewildste liedjies en sy suksesvolste album tot nog toe.
Trouens, die gedig waarop die liedjie gegrond is, is reeds in 1958 geskryf:
“When I’m with you
I want to be the kind of hero
I wanted to be
when I was seven years old
a perfect man
who kills”
(Uit: The Reason I Write)
En wat ’n ladykiller was hy nie! Van jongs af al, hoewel hy altyd gekla het “daar’s eenvoudig nie genoeg meisies nie … ”
As tiener het hy ’n groot belangstelling in hipnose ontwikkel en op sy eie die proses bemeester. Hoofstuk twee in sy “handboek” beskryf die stilte waarna die hipnotiseur moet streef:
“Jou gesig moet stil wees, onleesbaar. Wees ademloos in al jou aksies. Laat sak jou stem, laat dit laer en laer word, tot net-net duskant ’n fluistering … Bly doodstil vir ’n oomblik of twee. As jy haas, sal jy faal.” Dié aanhaling beskryf die latere Leonard Cohen in een magtige, klein paragraaf.
Sy eerste “pasiënt” was ’n jong, vroulike huishulp. Hy het dit reggekry om haar te hipnotiseer – en oplaas beveel om al haar klere uit te trek!
Dit was die eerste keer dat hy ’n naakte vrou gesien het, en vir die jong Leonard sou dié oomblik ’n vormende invloed op die res van sy lewe en sy kunsuitinge hê. (Hy het wel erg paniekerig geword toe hy haar nie dadelik “uit die beswyming” kon kry nie – doodbang dat sy ma hom sal betrap.)
Een ding was wel seker: Sy lewenslange poëtiese impak op en komplekse verhoudings met vroue is daar en dan gevestig.
Maar die “groot oerknal” in sy lewe het gekom toe hy as jongman The Selected Poems of Federico García Lorca ontdek het – en spesifiek die gedig “Gacela of the Morning Market” gelees het.
“My nekhare het letterlik gerys,” het hy later gesê. “Die krag van sy woorde was dat dit ’n landskap geskep het wat jy gedink het nét jy bewandel … Dis asof dit die hele kosmos omhels – nie net my hart nie, maar élke hart is betrokke.”
’n Deel van daardie landskap is eensaamheid – en Leonard was onmiddellik verslaaf. Aan Lorca, aan woorde, aan die eenvoud van verlange … En aan die eenvoud van die uitdrukking daarvan.
Lorca se gedigte was donker, melodieus, elegies en emosioneel baie intens – én baie eerlik. Net soos Cohen se gedigte en liedjies later sou wees.
Hy’t in alle erns gedigte begin skryf en later jare dele uit sy werke op ’n kitaar getoonset wat hy as 15-jarige aangeskaf en op sy eie leer speel het.
Digter, skrywer, sanger
Ná twee bekroonde digbundels in Kanada het Cohen na Amerika uitgewyk. Hy was aanvanklik op pad na Nashville, maar is vinnig in die New Yorkse folk-scene vasgevang. Onder sy vriende was die (toe nog onbekende) Campbell’s Soup-kunstenaar Andy Warhol, gevierde Beat-digter Allen Ginsberg, rocker Janis Joplin (sy was ook ’n minnares), Joni Mitchell, David Crosby en vele ander ikone uit daardie polsende era.
Die “Marianne” en die “Suzanne” van sy liedjies was werklike vroue in sy lewe. Hy’t later twee kinders saam met ’n ánder Suzanne gehad, Lorca en Adam. En tussendeur was daar vele ander muses wat sy kunsvure gestook het.
Sy onnabootsbare liedjies het gevloei. “Sisters of Mercy”, “First we take Manhattan”, “Famous Blue Raincoat” … Op skool was “Sisters of Mercy” en “Suzanne”, twee van die gedigte wat ons in die Engelse klas moes lees en “ontleed.” Ek sukkel nou nog met “Sisters”. Dit is só eenvoudig, só mooi, en so … “diep”! Laag op laag van betekenis … maar iewers roer dit die menslikste deel van jou self.
Toe kom die allergrootste van sy oeuvre. “Hallelujah”.
“Well I heard there was a secret chord/ that David played and it pleased the Lord/ But you don’t really care for music, do you? Well it goes like this, the fourth, the fifth, the minor fall and the major lift/ and a baffled king composing Hallelujah … ”
Jeff Buckley het die liedjie, wat beskou word as een van die bestes tot nog toe, aan die wêreld bekend gestel. Daar is tans al meer as driehonderd amptelike opnames daarvan – Karen Zoid en Elvis Blue s’n ingesluit. Ironies, aangesien Cohen se platemaatskappy dit aanvanklik nie op sy 1988-album, Various Positions, wou insluit nie!
Hy was op die kruin van sukses. Veertig jaar later was Cohen ’n huishoudelike naam.
Maar toe kom die ontnugtering: Hy was beroemd, maar bankrot.
Kelley Lynch, Cohen se jare lange bestuurder, was “…’n vertroueling, ’n naby-vriend, soos ’n lid van die familie … ”
In 2004 het Lorca, Cohen se dogter, snuf in die neus gekry oor Lynch se wanbestuur van haar pa se geld. Toe Cohen die eerste keer in jare na sy bankstate gaan kyk, het hy tot sy skok agtergekom dat al sy geld uit al sy rekeninge weg is, ook sy aftreefonds en liefdadig-heidgeld, sy tantieme, sy beleggings … Dié bedrog het al in 1996 begin toe sy reeds Cohen se liedjieregte begin verkoop het.
Hy was aan die einde van sy loopbaan, maar het letterlik met net 150 000 dollar op sy naam gesit.
Leonard het vroeër, in 1994, besluit om hom aan die musiekwêreld te onttrek en hom vyf jaar lank in ’n Boeddhistiese oord gaan afsonder. Hy is later as ’n Zen-monnik met die Dharma-naam Jikan ingewy, wat stilte beteken. Maar Lynch het hom gedwing om sy stilte te verbreek. Hy moes teruggaan, weer begin.
Die ou man met die hoed in die hand
So het dit gekom dat Cohen op 75 terug verhoog toe is.
Hoed in die hand, letterlik, soos jy kan sien op die DVD wat in 2009 van sy eerste terugkeerkonsert in Londen gemaak is.
Sy fyn, beaarde vingers ietwat bewend. Die stem kenmerkend donker en liries. Sy oë plooiend geskreef teen ’n skel kollig wat hom in die middel van die verhoog vaspen. Soos altyd in die kenmerkende swart pak. “I was born in a suit,” het hy altyd gesê.
Toe hy sy mond oopmaak en sag begin praat, kon jy ’n speld hoor val.
Want die magic, die toorkuns, die woorde wat laat ween en swymel, is steeds daar. Selfs beter. Hierdie keer met ’n groot skeut ootmoed.
Op tagtig en steeds voorstuwend, is Leonard Cohen roerender, sterker en mooier as ooit. ’n Mens bid dat dit nooit sal ophou nie, hoewel jy weet dit moet. Maar intussen is elke optrede ’n oorwinning, elke nuwe liedjie ’n vreugdespsalm.
Hallelujah, inderdaad.