Leon Gropp, met sy heerlike sin vir humor, het met ons gesels oor die rooi rose/Revlon SA-produksie ‘Landskap’ wat eersdaags by Aardklop opgevoer sal word. In hierdie produksie bied vier kunstenaars hul toonsettings van Suid-Afrikaanse digters, insluitend gedigte deur Ingrid Jonker, N.P. van Wyk Louw, Fanie Olivier, Eugène Marais en Griekwa-psalms, onder andere.
Vertel ons van Landskap.
Landskap is ’n verhoogproduksie wat bestaan uit toonsettings van bekende digters. Met Anna Davel, Laurinda Hofmeyer, Lizanne Barnard en myself.
Hoe het jy betrokke geraak by dié produksie?
Aanvanklik was dit net Anna, Laurinda en Lizanne in die vertoning, maar toe Anna die regisseur word van my eie produkse Rooidag, het sy my jammer gekry en my ook in die vertoning ingesluit …
Wat dra elkeen van julle by tot die opvoering?
Die ander drie is groot geeste as dit kom by toonsettings. Om hulle op ’n verhoog te sien is soos om ’n gemsbok in die veld te sien staan. Hulle is in hul natuurlike habitat, niks is geforseer nie, dis mooi, dis insprirerend. Hulle het wel nie horings nie.
Dis egter nie net julle vier nie, julle het ook ’n baskitaarspeler (Schalk Joubert) en tromspeler (Kevin Gibson). Speel julle drie ook instrumente tydens die opvoering?
Lizanne en Laurinda is ook op die klavier en ek mag dalk ’n snaar of twee streel.
Lees hier meer oor Landskap wat by Aardklop opgevoer sal word
Gepraat van toonsettings, vertel ons van jou nuwe projek, Rooidag.
Rooidag is ’n verhoogproduksie wat bestaan uit my toonsettings van N.P. van Wyk Louw se gedigte. Ek gebruik selektiewe gedeeltes uit sy prosa as bindingsteks in die vertoning. Dit is ’n groot voorreg om dit ook by Aardklop hierdie jaar te doen, en om ook die gelyknamige album amptelik vry te stel by Aardklop.
N.P. van Wyk Louw is een van die belangrikste digters in die geskiedenis van Afrikaanse letterkunde. Waarom het jy juis sy gedigte getoonset?
Dit het op ’n manier nogal lukraak gebeur. ’n Vriend het een oggend ’n boek in my hand gestop en gesê: “Lees hierdie of ek bliksem jou” (ek skerts in die vertoning ook daaroor). Dit was die versamelde gedigte van N.P. van Wyk Louw. Ek het die boek oopgemaak en begin lees – amper soos ’n storieboek. Die een gedig na die ander. Die heel eerste gedig waarop ek toevallig die bladsy oopgemaak het, was Ons liefde is ’n uur se ydelheid. Soos ek dit gelees het, het ek net musiek gehoor (en die draadloos was af). Alhoewel ek nooit as jongeling daai ou was wat gedigte vir my nooi onder die boom gelees het nie, het iets in die ritme van N.P. van Wyk Louw se woorde my laat wakker word tot ’n wêreld van Afrikaanse skrywers wat my diep inspireer.
Jy werk saam met verskeie groot name in hierdie album – jy sing saam met Anna Davel, Coenie de Villiers, Richard van der Westhuizen en Christiaan Baartman. Jy het ook ’n interessante orkes wat jou begelei wat tjello, klavier, en tromme insluit. Vertel ons meer van hierdie elemente en persone en waarom juis dié keuse van “line-up”.
Om met hierdie mense te kan werk wat al sulke diep spore in die bedryf getrap het en wie se nalatenskap en toewyding so baie kunstenaars inspireer, is vir my niks minder as ’n grootse voorreg nie. Coenie self het ook ’n groot rol gespeel in my lewe, en ek sou waarskynlik nie eers hierdie ding aangepak het as dit nie was vir sy geloof in my nie. Die musikante saam met my op die verhoog is Coenraad Rall op klavier, Liesel Harris-Kruger op tjello, en Jardus Smith op perkussie. Ek wou spesifiek gaan vir ’n meer akoestiese gevoel, so ek het dadelik hierdie makkers van my nader gehark. Hulle maak hierdie produksie so mooi!
Wie is jou gunsteling Afrikaanse digter(s) en waarom?
Daar is werklik te veel om te noem. Ons het soveel ongelooflike digters wat ’n ding kan raaksê. Ek is ’n groot fan van Bibi Slippers.
Dis algemene kennis dat Sting een van jou musikale helde is. Waarom? Watter ander musikante inspireer jou?
Sting se veelsydigheid is een van die groot redes hoekom ek so resoneer met wat hy doen. Hy kan letterlik enigiets doen op ’n verhoog en dit sal waarde dra. En sy musikaliteit is verbysterend. Baie musikante plaaslik inspireer my, onder meer een waarmee ek onlangs gewerk het, Joshua Na Die Reën. Dit is talent wat saam met harde werk en nederigheid in ’n musikale harmonieuse ontploffing ontaard. Ek is nie jaloers nie …
Hoe het dit gebeur dat jy kitaar begin speel het? En jou sang?
Ek sing my hele lewe al. Die kitaar het my gevind eers so aan die einde van my skoolloopbaan, maar sang is nog altyd my eerste instrument.
Jy was lank deel van die suksesvolle kitaarduo CH2, maar het onlangs besluit om meer te fokus op jou eie (veral sang-)loopbaan. Hoe het jy hierdie besluit geneem?
Ek het vir lank klassieke sangopleiding gehad, en omdat ek vir só lank eintlik die sang “afgeskeep” het, was daar vir die laaste paar jaar die hunkering om dit weer te begin doen. Om net meer te sing. Tesame met dit het ’n sameloop van omstandighede veroorsaak dat ek aan die begin van die jaar CH2 verlaat het, en my eie solopad begin stap het. Dit was en is nie maklik nie, maar ek is baie opgewonde oor my loopbaan as sanger. Ek speel wel nog kitaar.
Jy het onlangs ’n album met kinderliedjies uitgebring met die duet Jonkman en Baartman, saam met Christiaan Baartman. Vanwaar hierdie projek?
Ons het die projek aangepak toe almal in ons vriendekring begin kinders kry het. Die idee met die CD was om ’n alternatiewe of akoestiese kinderalbum daar buite te sit, wat mamma ook kan luister sonder om te vinnig verveeld te raak.
Vertel ons van jou gesin.
Ek is getroud met die beeldskone Martelize, sy is ’n spraakterapeut en ’n oudioloog. En ons het ’n dogtertjie by name Kara-May. Ek is ’n groot familieman.
Wat is die belangrikste ding wat jy as pa geleer het?
Dat jou aksies altyd meer gewig sal dra as jou woorde.
Jy geniet trail running. Vertel ons meer van hierdie belangstelling en waarom jy dit doen?
Om te kan loop en om te kan hardloop is ’n ongelooflike voorreg. Om dit te in die natuur te doen bring vir my ’n vrede en ’n sielsgeluk wat ek nie in woorde kan omsit nie. Bykomend is dit ’n sport sonder fieterjasies. Om ’n beter seilbroekie of snaakse en duur stuk toerusting te koop, gaan jou nie ’n beter hardloper maak nie.
Jy is ook ernstig oor koffie. Waar is, volgens jou, die beste plek om ’n goeie koppie koffie te kry?
In Pretoria: Spout in Hazeldean. Daar is nog baie maar dis die plek waarheen ek tans die meeste gaan, en dit is elke keer ongelooflik. Doen jouself ook ’n guns en soek vir Urban Barista. Dit is ’n mobiele koffie-“tuk”, waar jy verruklike koffie kan kry.
Wat is jou gunsteling-landskap?
In ons land, ongetwyfeld die berge by Rhodes, net suid van Lesotho.