Lemoen-ontbytkoekies deur Vickie de Beer, bygestaan deur Martjie Malan. Foto: Lindy Kriek
Lemoen-ontbytkoekies
Ingredients
- Ontbytkoekies
- • 3 lemoene (mandaryn-lemoene)
- • 250 g (1 k) strooisuiker
- • 6 eiers
- • 230 g (2 k) fyn gemaalde amandels/amandelmeel
- Roomkaasversiersel
- • 50 g (¼ k) sagte botter
- • 230 g (1½ k) roomkaas by kamertemperatuur
- • 130 g (1 k) versiersuiker, gesif
- • 5 ml (1 t) suurlemoensap
- • vrugtelekkers, gesnipper om soos blomblaartjies te lyk
Instructions
1 Sit die lemoene in ’n middelslagkastrol, bedek met water en kook vir 1 uur of tot sag. Wees versigtig dat die lemoene nie droogkook nie. Dreineer en laat heeltemal afkoel.
2 Breek die afgekoelde lemoene met jou hande oop en haal die pitte uit. Verpulp die lemoene, skil en al, in ’n voedselverwerker.
3 Hou eenkant tot benodig.
4 Verhit die oond tot 160 ˚C. Spuit ’n muffinpan met 12 holtes met kleefwerende sproei.
5 Gooi die strooisuiker in die bak van ’n voedselmenger (of gebruik ’n handklitser). Voeg die eiers by die strooisuiker en klits tot baie lig en donsig.
6 Voeg die lemoenpulp en amandelmeel by en roer versigtig deur.
7 Gooi die mengsel tot bo in die voorbereide muffinpannetjie (dit rys nie baie nie) en bak vir sowat 20-25 min. tot goudkleurig en gaar. ’n Toetspen moet skoon uitkom wanneer jy dit indruk.
8 Laat die koekies vir 5 min. in die pannetjies afkoel. Maak dan die kante versigtig met ’n paletmes los. Lig die koekies uit en laat verder op ’n draadrakkie afkoel.
Versiersel
1 Klits die botter en roomkaas tot goed gemeng.
2 Voeg die versiersuiker en die suurlemoensap by en klits vir ’n minuut of twee tot glad.
3 Verkoel in die yskas tot dit stewig genoeg is om te gebruik.
4 Versier die ontbytkoekies en pak die gesnipperde lekkergoed in blompatrone bo-op.