Ek koop elke Saterdag vir ons ’n reuse-werfhoender op die mark. Drie hongerige seuns kan die hoendertjie nie baasraak nie en daar is altyd genoeg oor vir Maandag se toebroodjies.
Vulsel
125 ml (½ k) koeskoes
180 ml (¾ k) warm hoenderaftreksel
45 ml (3 e) olyfolie
1 ui, fyn gekap
2 knoffelhuisies, fyn gekap
2,5 ml (½ t) fyn koljander
5 ml (1 t) fyn komyn
5 ml (1 t) paprika
8 vars of gedroogde dadels, pitte verwyder en grof gekap
60 ml (¼ k) pistasieneute, grof gekap
Hoender
2-2, 4 kg werfhoender, afgespoel en afgedroog
100 g chorizo-worsies (of enige ander geurige worsie wat jy op die mark kan koop), in 5 mm-skyfies gesny
30 ml (2 e) olyfolie
Instructions
Voorverhit die oond tot 200 °C. 1 Meng die koeskoes en kokende hoenderaftreksel goed deur. Bedek en laat vir 3 min. staan. Meng met ’n vurk en laat afkoel. 2 Braai die ui en knoffel in 15 ml olyfolie in ’n pan tot sag en deurskynend. Voeg die koljander, komyn, paprika en dadels by en braai vir nog 3 min. 3 Meng die dadelmengsel, pistasieneute en sout en peper deur die koeskoes. 4 Wikkel die hoendervel op die bors en dye met jou vingers los. Druk die gesnyde chorizo in enkellae onder die vel in. 5 Vul die holte van die hoender met die koeskoesmengsel. Bind die bene met kombuistou saam en sit die hoender, borskant na bo, op ’n oondpan, verf met olyfolie en geur met sout en peper. 6 Bak vir 1 uur of tot daar helder vloeistof uitloop wanneer ’n sny in die dikste deel van die boudjies gemaak word. Haal uit die pan en laat rus vir 6-7 min. sodat die vleissappe geabsorbeer word.