Verskeidenheid is die wagwoord
• Gebruik ’n verskeidenheid brode soos rogbrood of ciabatta en waag met verskeie soorte slaaiblare, soos bronkors (watercress), roket of bindslaai (cos lettuce). Hou ’n verskeidenheid in jou yskas. Blare soos bronkors is geurig én bevat 12 keer meer vitamien C en drie keer meer yster as gewone Iceberg-slaai.
• Maak ’n verskeidenheid gegeurde botter om die broodjies mee op te kikker. Maak die botter sag en geur dit met suurlemoenskil en swartpeper, of ’n verskeidenheid gekapte kruie. Rol die botter in rolletjies in kleefplastiek toe en gebruik wanneer nodig.
• Gebruik oorskiet soos boerewors, hoender, maalvleis of lamsvleis vir interessante en veelsydige vulsels.
• Brood bly nie langer vars as jy dit in die yskas hou nie. Draai dit eerder deeglik toe in kleefplastiek, en koop kleiner broodjies.
• Maak ’n smaaklike sous vir die vulsels.
• Smeer die broodjies deeglik tot op die hoeke met botter of margarien sodat die brood nie pap word nie.
Basiese broodjiesous
Genoeg vir 5 broodjies
Jy kan die sous vir vyf dae in die yskas hou, en dit saam met verskillende vulsels gebruik.
- 75 ml (5 e) korrelmosterd
- 75 ml (5 e) mayonnaise
- 10 klein argurkies, fyn gekap
- 2 hande vol vars koljanderblare of sprietuie, gekap
- vir ’n variasie kan jy kappertjiesaad of peperwortel byvoeg.
Meng al die bestanddele en hou in die yskas.
Lees ook: JY KAN mayonnaise maak
Nog idees
Gebruik die basiese sous saam met ’n paar van dié heerlike kombinasies, of raak kreatief en skep jou eie.
- 2 snye rogbrood, ’n halwe avokado, 50 g gerookte salm, rooi-uie, 2 repies bros gebraaide spek, slaaiblare en roket. (Spek word lekker vinnig bros as jy dit op ’n bakplaat in die oond rooster.)
- 2 snye saadbrood, ’n stukkie boerewors, in die lengte gesny (of enige ander oorskietvleis), kaas, soos bloukaas of brie, ’n hand vol kersietamaties (as jy tyd het, rooster dit vinnig in die oond met knoffel, olyfolie en tiemie), gepekelde uie en slaaiblare.
- 2 snye volgraanbrood, ’n hardgekookte eier, gekap, gaar hoendervleis, 10 ontpitte olywe, 4 sondroëtamaties, komkommerskywe en gekrummelde fetakaas.
- 2 snye ciabatta, ham of koue beesvleis, kersietamaties, slaaiblare van jou keuse, beleë cheddar en fyn gedrukte avokadopeer met heelwat suurlemoensap in.