Ek moet dit seker nou maar net sê en klaarkry: Ek hou nié van die Kersseisoen nie.
Dit voel soos heiligskending om dit te sê, want, as gelowige, behoort dit mos een van die hoogtepunte van my kalenderjaar te wees? Maar, jaar na jaar sukkel ek al meer met die gedoente rondom Kerstyd.
Dalk het ons gesin se wildewragtag van ’n vierde kwartaal iets te doen daarmee?
Behalwe dat die laaste skoolkwartaal van die jaar gewoonlik sy eie uitdagings soos somersport en eindeksamen en einde-van-die-jaar-funksies-en-spertye inhou, het ons gesin ook drie van ons vier verjaardae binne vyf weke. Nege dae daarna is dit ons huweliksherdenking en die week daarna Kersfees.
En, tussen die Desemberverjaardag en jaareinde moet daar boonop skoolklere en skryfbehoeftes vir die volgende jaar aangeskaf word (want, ons weet mos hoe lyk die winkels daardie laaste twee dae voor die skool open in Januarie).
Met al die vieringe in die laaste kwartaal, is ons pappa dus van einde Oktober, as die eerste SMS’e van die bank via die kaart deurkom, effe bleek om die kiewe.
Vanjaar was hy teen laat November heelwat meer bleek, want sy gryse ou vrou het boonop ’n sogenaamde mylpaalverjaardag gehad.
Twee weke later was dit die pretiener se beurt om die klok elf te laat slaan.
En, skielik, nog ’n week en ’n bietjie later was dit die huweliksherdenking.
So, wat geskenke soek en aanskaf betref, is die laaste drie maande van die jaar vir ons (en veral vir die pa en sy beursie) ’n blitzkrieg.
As ek dus van einde Oktober vriende en kennisse in die winkels raakloop wat vra hoe my Kersinkopies vorder, glimlag ek net senuagtig.
Teen einde November, as almal doelgerig deur die winkels drafstap, gooi ek ’n blinde oog en ’n flou verskoning indien nodig. Ek fokus op my oudste spruit se verjaardag.
As mense geskenkgeselsies aanknoop begin Desember, knip-knip my linkeroog onwillekeurig en probeer ek nie eens verduidelik hoe geskenksoekvoos ek reeds is nie. Ek voel soos ’n onpraktiese persentepamflet. Want. Ek. Kon. Nog. Nie. Aan. Kerspersente. Dink. Nie. (En. Wil. Ook. Nie.)
Vanoggend egter, met ’n onbeplande draai deur die winkels om ’n huweliksherdenkinggeskenk beter nommerpas te maak, het ek weer eens besef hoekom ek nie ’n blymoedige engel is hierdie tyd van die jaar nie.
Dit gaan nie oor die fisiese en materialistiese marteling nie. Hoewel, die bôgger wat my hakskeen met ’n winkeltrollie probeer af ry het terwyl ek teenaan ’n winkelvenster met ’n vriendin staan en gesels, was ’n fisiese en figuurlike pyn.
Of ek die jaar ’n ekstra vryskutmeevallertjie het, al dan nie – dit gaan oor die verwagtinge wat vir ons ingeprent word: Geskenke, samesyn, bon homie – alles word verwag, ongeag of jy nog die fisiese en emosionele kapasiteit daartoe het.
Na ’n jaar soos vanjaar met al sy seëninge en vreugde, maar ook ’n goeie skoot hartseer en bekommernis, wil hierdie introvert eintlik net die blindings dig trek en onder die duvet verdwyn met ’n vergewensgesinde boek wat geen onrealistiese verwagtinge stel nie.
In hierdie moegste tyd van die jaar, voel dit asof mens se senueindpunte almal ontbloot is. Bekommernisse is feller, emosies meer intens, eensaamheid word ’n werkwoord.
Daar is die groot gemis van mense wat mens graag in jou binnekring in die feestyd wil hê.
Vir party van hulle sou mens duur geskenke wou koop. Vir ander sou mens bloot die geskenk van tyd wou gee. Tyd vir hulleself om te genees van ’n lewensbedreigende siekte. Tyd vir heelword. Tyd vir sommer net menswees saam met die mense waarmee hulle die graagste sou wou wees.
Ek vermoed almal van ons mis vanjaar iemand aan ons feestafel.
Ek het so drie jaar gelede iets geskryf vir mense na aan my wat na iemand verlang oor die feestyd.
Ek weet vanjaar is daar soveel ander wat iemand mis.
Om iemand – begrawe of lewendig weg uit jou kring – te onthou in hierdie tyd van die jaar, is nooit maklik nie.
Aan almal vir wie Kersfees vanjaar anders is en vol verlange – om watter rede ookal – dra ek hierdie op:
Leëstoel Kersfees
Die oudstes het gaan skuinslê
Kersete is verby
Jou naam is nie ongesê nie en ek kon sien almal ly
Jou stoel was só leeg
Ons tafel was onewe
Ek moes telkens terugtel tot net sewe
Die stormwind het effens bedaar
Dis ’n Somerkersdag in Worcester
En ek wonder hoe lyk dit dáár waar jy Kersfees vier aan Sy voete
Is dit regtig mooier daar en loer jy af na hier? Want ons harte bly swaar… Ons wou só bitter graag nog ’n Kersfees met jou vier.