Leer hoe om selfgeldend te wees

Leer hoe om selfgeldend te wees deur Anys Rossouw. Foto’s: Mateus Campos Felipe vir Unsplash. Anys Rossouw is ’n opvoedkundige sielkundige.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Staan jou man, sê jou sê

Mense wat sukkel om hulself te laat geld laat ander toe om meer onttrekkings uit hul lewe te maak as wat deposito’s “inbetaal” word.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

As jy dit toelaat, beland jou selfbeeld en verhoudings kort voor lank in die rooi.

Elke mens het die reg om met respek behandel te word en om te kies wat jy wil doen, dink en voel. Jy moet kan “nee” sê as iets jou nie aanstaan nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Selfgelding is ’n noodsaaklike persoonlike en interpersoonlike vaardigheid wat kommunikasie oop, eerlik en duidelik hou en verseker dat jou eie en ander se regte en behoeftes gerespekteer word.

Selfgeldende mense handhaaf hulself en raak nie ander se slaaf of vloerlap, wat telkens die gemors opklaar, die werk doen of ander se verantwoordelikhede nakom nie.

Baie mense sien nie kans om selfgeldend op te tree nie omdat hulle dit met aggressiewe gedrag verwar. Hulle glo om jou wil en regte te laat geld verg meestal ’n aggressiewe tand-vir-’n-tand-benadering.

Elke mens verdien om met respek behandel te word en te kies wat jy wil doen, dink en voel

Maar selfgelding is ’n kommunikasiestyl wat die balans tussen passiwiteit en aggressiwiteit vind.

Mense met ’n passiewe kommunikasiestyl probeer die vrede bewaar en ander tevrede en gelukkig hou, maar offer in die proses hul eie behoeftes en regte op. Hulle sal gou sê: “Wat julle ook al besluit, is reg met my.” Of hulle sal stilbly as hulle verskil. Om konflik en verwerping te vermy sal hulle liewer met opoffe-rende liefde en diens ander bo hulself stel en in die proses word hul eie selfwaarde en selfvertroue geskaad.

Jy word dan ’n magtelose slagoffer van ander se aggressiewe, dwingende of behoeftige eise. Jy voel jy het nie ’n keuse wanneer ’n kollega, vriendin of kind die dag voor jou vakansie ’n klomp werk op jou aflaai, of wanneer jyself met werk oorlaai is nie. Jy kan nie weier nie en rasionaliseer dit met: Wat moet ek doen? Hulle het my nodig. Iemand moet dit doen. Of: Jy weet nie hoe hy is nie, jy gaan hom nie teë nie. Maar iewers in jou brand die onregverdigheid en bitterheid. Jy voel misbruik omdat jou program, tyd en emosies nie saak maak nie.

Mense met ’n aggressiewe kommunikasiestyl soek ’n posisie van wen en oorheersing: Hulle glo hulle het sterk persoonlikhede, weet wat hulle wil hê en hoe om dit te kry. Daarmee beheer hulle mense en ’n situasie deur hul wil, besluite en idees aan ander op te dwing. Hulle tree aanvallend op wanneer hulle teenstand kry en hanteer ander byna met minagting, asof hulle swakkelinge is.

Hul optrede word dikwels onbewustelik gedryf deur onderdrukte gevoelens van minderwaardigheid, woede en angs uit hul kinderjare. Toe het hulle moontlik nie die liefde, erkenning en aandag gekry waarna hulle gesmag het nie, of hul ouers het ’n aggressiewe kommunikasiestyl gehad. Hulle respekteer nie ander se grense, persoonlike ruimte, besluitnemingsregte en behoeftes nie en ontstel of vervreem mense met die optrede. Dikwels word fisieke of verbale geweld ingespan. Hul aggressiewe gedrag word gerasionaliseer as ’n reaksie op ander se optrede. Tog voel aggressiewe mense dikwels agterna skuldig en dit skaad selfrespek en verhoudings.

Lees ook: Leer hoe om nee te sê

Leer dit aan

Selfhandhawing is ’n vaardigheid wat aangeleer kan word en hou vir alle betrokkenes voordele in.

Maar dis nie altyd maklik om jou grense kalm en rustig te stel sodat ander sal hoor en sonder ontsteltenis daarop reageer nie. Jou selfvertroue hierin hang nie van ander se goedkeuring af nie, maar of jy jou man en woord kan staan, ongeag ander se goedkeuring en reaksie.

“Ek het ’n baie dominerende pa,” vertel ’n leser. “Van kleins af wou ek glad nie soos hy wees nie. Hy is altyd reg en almal moet na sy pype dans anders bars die hel om ons los. Ons eet waar hy wil, hou vakansie op ’n plek van sy keuse en saam met wie hy verkies. Langs die pad sal ons stop wanneer hy moeg is en waar hy wil. As ons iets wil sien, is daar nie tyd nie, of ons is veeleisend – selfs al het ons ’n nood, moet ons uithou. Ek het besluit ek sal nie so dominerend en opdringerig wees nie. Maar nou laat ek ander toe om ook met my te doen wat my pa gedoen het. Ek bly liewer stil en doen wat hulle vra. Dan voel ek ander respekteer my nie en misbruik my net. Binne my voel ek kwaad en het ’n stille weersin waaraan ek meestal in stilstuipe uiting gee.”

Hoekom sê mense “ja” as hulle eintlik “nee” wil sê?

  • Dis patrone wat in hul kinderdae aangeleer is.
  • Hulle wil in wees en ander se goedkeuring wen.
  • Hulle het sagte harte, wil goed en gaaf wees en ander tevrede stel. Hulle glo dit beteken om maar te doen wat ander vra.
  • Sommige mense het nie die selfvertroue nie en vrees verwerping en kritiek.
  • Mense vrees dat as hulle selfgeldend optree, ander met aggressie gaan reageer en dan vermy hulle maar liewer die konflik.
  • Hulle voel skuldig om te weier en glo om diensbaar en die minste te wees is ’n goeie, Christelike eienskap. Maar die teendeel is waar: Op die lange duur bewys ’n gebrek aan gesonde selfgeldendheid niemand ’n guns nie. Jy boet jou eie regte en geluk in as jy toelaat dat ander jou beheer, misbruik en nie respekteer nie. Hoe meer jy dit toelaat, hoe gemakliker raak ander daarmee om jou en ander met minagting te behandel, of hul wense en agenda aan jou op te dwing. Jy leer hulle dis aanvaarbare optrede en dra by tot hul swak kommunikasiestyl én swak menseverhoudings.
  • Dis ook op ’n manier selfsugtig en onbillik om nié jou behoeftes, gevoelens en denke, asook die impak van hul optrede op jou duidelik te maak nie. Hoe kan hulle toepaslik optree en hul gedrag verander as hulle nie weet nie? Jy ontneem hulle die reg om werklik te weet waar hulle met jou staan. Hulle moet jou gedagtes en gevoelens probeer lees.

Wanneer mense selfgeldend begin optree, wissel die reaksie van positief, neutraal tot negatief. Mense is aanvanklik nie noodwendig opgewonde daaroor nie, en kan selfs ontsteld wees, wat nie ’n treinongeluk is nie.

Op die lange duur sal ander jou toenemend respekteer en anders begin optree as jy sonder aggressie en met empatie en rustigheid selfgeldend begin optree. Selfgeldende optrede verminder stres en beloon jou ryklik met selfrespek, selfvertroue en geluk.

Toets jouself: Is jy selfgeldend?

Elke ja–antwoord op die volgende vrae of standpunte gee ’n aanduiding dat jy selfgeldend is.

1 Sal jy jou mening lug, al verskil die ander persoon van jou?  ja  nee

2 Keer jy dat ander hul verantwoordelikhede op jou afskuif?  ja  nee

3 Maak jy beswaar as iemand in ’n tou voor jou indruk?  ja  nee

4 Keer jy dat ander dinge namens jou besluit?  ja  nee

5 Sal jy in ’n restaurant vra dat swak diens of kos reggestel moet word?  ja  nee

6 Maak jy seker dat jy geleende goedere of geld terugkry?  ja  nee

7 Sê jy nee as jy iets nie wil doen of hê nie en laat jou nie emosioneel manipuleer nie?  ja  nee

8 Kan jy vir ander ’n guns vra?  ja  nee

9 Weet ander wat jy voel of dink?  ja  nee

10 Is jy seker dat ander jou nie sommer misbruik nie?  ja  nee

11 Sal jy sê as jy nie weet of verstaan nie, sonder vrees om oningelig te lyk?  ja  nee

12 Sal jy jou ongemaklikheid met ’n situasie vir vriende of familie duidelik maak?  ja  nee

Jy kan meer selfgeldend raak

  • Verbeter jou selfbeeld, selfvertroue en selfgeloof. Glo werklik dat jy ander se respek verdien.
  • Maak eers seker wat jou behoeftes en regte, asook dié van ander is.
  • Bepaal en verstaan jou vrese en redes vir situasies waarin jy nie selfgeldend is nie.
  • Verander jou denke en irrasionele vrese wat jou keer om selfgeldend te wees. Bepaal die moontlikheid dat iets werklik katastrofies sal gebeur as jy wel selfgeldend optree.
  • Bepaal vooraf hoe jy graag sou wou optree, wat jy sou wou sê.
  • Oefen dit vooraf voor die spieël, of in rolspel. Begin dan met klein goedjies in betreklik veilige situasies.
  • Maak seker wie se probleem dit is. Joune of syne?
  • Stel jou grense sonder om skuldig te voel, soos waarmee en wanneer jy bereid is om te help.
  • Sê sonder verskonings, reguit en met selfvertroue “nee” as jy nee wil sê. “Baie dankie, maar ek sal nie nog iets drink nie.”
  • Sê kalm, duidelik en spesifiek wat jy wil hê of wat jou pla, sonder om te blameer, te oordryf of verskonings te maak: “Sal jy asseblief jou vuil skottelgoed in die skottelgoedwasser pak,” eerder as “Jy is so onkonsidererend.”
  • Gebruik “ek”-boodskappe eerder as “jy”-boodskappe. Dit fokus jou boodskap op hoe jy voel en wat jy nodig het, sonder om ander aan te val. “Ek voel ongemaklik wanneer jy in die openbaar grappies oor my foute maak. Moet dit asseblief nie weer doen nie,” teenoor: “Jy is so ongevoelig om my so in die openbaar te verneder.”
  • Gebruik rustig die plaat-wat-vashaak-tegniek: Herhaal jou standpunt weer en weer: “Ek hoor jy wil hê ek moet dit doen, maar dis nie vir my moontlik nie.”
  • Hanteer die kritiek as dit kom.
  • Wees versigtiger met mense wat sensitief is. Maak jou positiewe en goeie bedoelings duidelik terwyl jy steeds jou grense stel:
  • Ek wens ek kon dit vir jou doen, maar ek gaan môre met vakansie en sal dit ongelukkig nie voor dan kan doen nie.
  • Ons verhouding en dat dinge reg verloop, is vir my belangrik. Ek wil nie hê hierdie ding moet vir ons ’n probleem word nie.
  • Kom ons bly by die probleem en kry saam ’n oplossing wat vir ons albei kan werk.
  • Jy weet ek gee om (is lief vir jou) en wil graag die ding uitpluis.
  • Kom ons probeer ’n oplossing kry sonder om mekaar te blameer of seer te maak.
  • Dit lyk vir my ons is nou albei ontsteld. Dit skaad net ons verhouding en keer dat ons ’n oplossing kry. Kom ons praat later hieroor wanneer ons afgekoel het en weer kalm is.
  • Of sê ja, en stel jou grense of voorwaardes: Ek sal jou help sodra ek van vakansie kom.
  • Om jouself te handhaaf en te laat geld gaan oor wat jy sê, maar ook oor hoe jy dit sê. Jou stemgebruik, liggaamstaal en houding is belangrik:
  • Maak en hou oogkontak.
  • Staan gemaklik eerder nader, as verder.
  • Hou jou liggaamsbewegings en handgebare rustig en kalm.
    Staan regop, met ontspanne skouers en ’n oop liggaamshouding.
  • Hou jou gesig ontspanne, maar wees ernstig sonder om te veel te glimlag.
  • Haal diep en rustig asem en luister.
  • Praat duidelik, rustig en met ’n gemaklike, gewone toon.

Lees ook: Mede-afhanklikheid: vernietig jou liefde jou?

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

10 redes waarom jy die Desember-uitgawe van rooi rose móét lees!

  Suzette en Skye: Sielsmaats met die liefde saamgesnoer    Suzette van der Merwe…

1 day Gelede

Van ‘slop’ tot ‘demure’: Hier’s die ses woorde wat meeding om Oxford se Woord van die Jaar

Vanjaar se kortlys, wat van dié jaar se gemoedstoestande en gesprekke opsom, is deur OUP…

1 day Gelede

Hoe om beter met jou lewensmaat te kommunikeer

Goeie kommunikasie in ’n verhouding laat die liefde blom. Maar soms eindig verskille in ’n…

2 days Gelede

Hoendergereg in romerige tamatiesous

Deur Rediscover Dairy   Voorbereidingstyd: 5 minute  Gaarmaaktyd: 20 minute  Bedien: 4 porsies  Porsiegrootte: 300…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Riaan Grobler, ’n meester van musiek en stories

Riaan Grobler, ’n geliefde radio-omroeper by Pretoria FM asook bekende skrywer en sanger, bewys weer…

2 days Gelede

Lamskenkel-en-waterblommetjie-bredie

Bestanddele   45 ml (3 e) olie 4 klein lamskenkels, die sening afgesny 2 wortels,…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.