Kinders is kunstenaars. Hulle teken en verf, sing en dans, maak mamma of pappa na en dink die verstommendste stories uit. Hulle leef met oorgawe. As hulle bly is, straal hulle dit uit. Slaan die hartseer toe, gaan jy dit wéét. Goed of goor: elke oomblik tel.
Maar kinders word groot, en die spontaneïteit verdwyn. Hulle wys nie meer wat hulle voel nie. Hulle sê nie meer wat hulle dink nie. Hulle doen nie meer wat hulle die graagste wil nie. Hulle leer om by die gesin, die skoolstelsel en die samelewing in te pas.
Volgens die gangbare uitkyk help dit ons ’n geordende samelewing skep, maar ongemerk betaal ons die prys. In die strewe om aanvaar te word, om “eenders” te wees, verloor ons dikwels die waagmoed om “anders” te leef. En dis juis die andersheid wat ons vervul; die vermoë om iets te sê soos net ek kan, ’n gunstelinggereg met ’n onverwagse kinkel voor te sit, of my eie stempel op ’n vertrek af te druk. Die plesier lê nie net in die eindproduk nie. Dis die skeppingsproses wat ons soveel vreugde gee.
Hoe kry jy dit reg om weer ’n onbevange kindkunstenaar te word, om vrye toegang te hê tot die kreatiewe jy?
Baanbrekerboek
Sowat twee dekades gelede het die Amerikaanse skrywer, digter, dramaturg, joernalis, komponis en skilder Julia Cameron wat ook wye ervaring in die rolprent-, TV- en teaterwese het, ’n kreatiewe revolusie met haar boek The Artist’s Way ontketen. Dié praktiese werkboek is vandag nog wêreldwyd ’n topverkoper.
Om The Artist’s Way in ’n paar bladsye op te som, is soos om iemand te vra om binne ’n halfuur van sy reis om die wêreld te vertel. Jy hoor dalk in watter lande hy was, maar die kleure, die klanke, die kwaliteit van die lig – alles wat sy sintuie gestreel of ontstem het – bly in die slag, saam met die ervarings wat sy uitkyk vir altyd verander het. Daarom is dié artikel hoogstens ’n lusmakertjie, ’n wegwyser wat sê: “Hier wag avontuur.”
Julia glo elke mens het kunstalent. Sy verwag nie van jou om ’n skilder, skrywer of musikant te word nie, hoewel jy tot jou verbasing in een mag ontpop. Wat haar werkboek met sy weeklikse oefeninge en speletjies doen, is om kreatiwiteit oor ’n tydperk van twaalf weke deel van jou alledaagse lewe te maak. Dit verryk jou op alle vlakke. Jou verhoudings, selfbeeld, leefruimte en geestelike lewe kry algaande meer diepte, warmte en kleur.
As jy dink dis alles goed en wel, maar twyfel of jy die tyd, geld of energie het om so ’n kursus aan te pak, staan jy reg in Julia se visier. The Artist’s Way gaan juis daaroor om jou selftwyfel en kommer oor tyd, geld en emosionele steun stap vir stap uit die weg te ruim.
Klem op die kreatiewe kind
Hoe gebeur dit dat ons ons spontane, eiesoortige uitdrukkingsvermoë verloor? In The Artist’s Way verduidelik Julia dat ons skeppende deel, ons inner artist, ’n kind is. Nes ’n kind kan dit die hier en nou ten volle geniet. Dit hou van verrassings, lawwigheid en oordaad. Dit floreer op nuwighede en uitdagings.
Aan die ander kant is die artist child besonder broos. Dit het dit ’n veilige omgewing nodig om te kan blom. Dit kry gou seer en moet voortdurend vertroos word – en dit wil wérklik raakgesien word.
Wie van ons word van kleins af so gekoester en heel gehou? Selfs met die beste ouers ter wêreld word ons mettertyd verwond. The Artist’s Way lei jou om met dié blokkasies vrede te maak – hindernisse soos negatiewe oortuigings, vrese, woede, skaamte, kritiek, perfeksionisme, jaloesie, die gewoonte om ander ten koste van jouself tevrede te stel en die navolging van uitgediende reëls.
Tog is The Artist’s Way alles behalwe een lang sielkundige worsteling. Hoewel die wegruim van blokkasies die hekkie vir jou kreatiewe self oophou, is dit speelsheid wat dié kind uit sy skuilplek lok.
“Ons besef dikwels nie eens dat ons verleer het om te speel nie,” sê Kobus Burger, joernalis, asemhalingsterapeut en Artist’s Way-fasiliteerder van Johannesburg. “Ons raak so vasgevang in die alledaagse eise en sleur dat ons dink dis tydmors en selfs onverantwoordelik om pret te hê. Ons klou vas aan die oortuiging dat kreatiwiteit wérk is. The Artist’s Way het my geleer dis ’n wolhaarstorie dat skeppingswerk 99 persent sweet en een persent inspirasie is. Daar’s vir my dikwels 99 persent inspirasie en slegs een persent sweet.”
Kobus het die kursus al ses keer gefasiliteer sedert hy dit vier jaar gelede die eerste keer in groepverband gedoen het. “Ek het vir die kursus ingeskryf omdat ek graag ’n toneelstuk wou skryf. Maar die onvoorspelbaarheid van die proses het oorgeneem; die uiteinde was dat ek begin skets en skilder het.”
Sedertdien het The Artist’s Way baie ander goed ontblok. “’n Ongepubliseerde boek waarvan ek vergeet het, verskyn vanjaar. Ek het ’n diploma in die kulkuns voltooi – iets wat ek as kind ontsettend geniet en toe heeltemal begrawe het. In 2006 het ek by rsg radiowerk begin doen. Dis die misterie van The Artist’s Way. Omdat jy die moontlikhede raaksien, gaan die ongelooflikste deure vir jou oop.”
En dis nie net “groot” dinge wat met jou gebeur nie. “Jou gewone lewe kry skielik kleur. Om kreatief te leef, is so eenvoudig soos om ’n dosie Smarties oor jou ontbytpap uit te gooi.”
Die ewige vrees
The Artist’s Way neem die vrees vir verandering in ag wat keer dat ons dit uit ons gemaksone waag. “Ons sielsbehoefte is om veilig te wees,” sê Julia in ’n onderhoud met Michael Toms. “Ons verstaan nie dat ons juis veilig voel wanneer ons vrylik skep nie. Toe The Artist’s Way die eerste keer verskyn het, het terapeute in Amerika groot verbetering by kliënte gesien wat die boek deurgewerk het. Wat ons as neurose sien, is dikwels mense wat onvervuld is omdat hulle nie hul kreatiwiteit uitleef nie.”
The Artist’s Way oorkom dié struikelblok deur jou treetjie vir treetjie te leer waag. Jy hoef nie jou hele lewe te verander om gelukkig te wees nie, beklemtoon Julia. “As ons elke dag iets kleins verander, word ons elke dag ’n tikkie gelukkiger. Dikwels is die laaste stap iets soos ’n loopbaanverandering. Maar teen daardie tyd het ons die nuwe omstandighede reeds stukkie vir stukkie ‘geskep’.”
Wat baie mense verras, is dat The Artist’s Way in wese ’n spiritu-ele groeiproses is. Om te skep bly iets goddeliks, hoe jy ook al kies om die Skepper van alles te sien. “Kreatiwiteit is God se geskenk aan ons,” sê Julia. “Ons gebruik daarvan is ons geskenk aan God.”
Daarom bring dié kursus jou nader aan die Goddelike, sonder om jou te vra om jou geloofsoortuigings te verander. Jou bewuster manier van leef word ’n vorm van danksegging. Jy stel jou daagliks daarop in om die skepping te geniet, én self te skep.
“Ons kreatiewe drome en verlangens het ’n goddelike oorsprong. Beweeg ons in die rigting van ons drome, kom ons nader aan God.”
Dis nooit te laat om die eerste tree te gee nie. Bring die vervulling, die magic, terug!
Die grondslag waarop The Artist’s Way rus, is oggendblaaie* (morning pages) en kunstenaarafsprake* (artist dates). Die kragtige werking van dié oënskynlik eenvoudige hulpmiddels betrap jou kort voor lank onkant.
Oggendblaaie
Sodra jy soggens jou oë oopmaak, skryf jy drie folio’s met die hand. Nee, dis nie ’n kreatiewe skryfwerkoefening nie. Jy skryf letterlik wat by jou opkom. As jy niks het om te skryf nie, skryf jy “Ek het niks om te skryf nie.” Soms kla jy oor die koffiemasjien alweer stukkend is. Soms bekommer jy jou oor jou werk. Die gedagte is om alles wat jou kreatiewe kanale verstop, uit jou gestel en op die papier te kry. Jy kan jou oggendbladsye nie “verkeerd” doen nie. Niemand mag dit lees nie – jy ook nie (eers ná agt weke, tensy jy hulle dadelik weggooi). Oggendbladsye leer jou om jou innerlike kritikus of linkerbrein te systap. Maar jy moet getrou daarby hou. Die dae wat jy nie lus voel nie, is juis die kere wat jy dit die nodigste het. Op ’n dag gebeur dit dat die ongelooflikste idees uit jou pen vloei, of jy kry ’n dramatiese insig in ’n verhoudingsprobleem. Dan praat ons nie eens van die groter gemak waarmee jy skielik jou daaglikse werk gedoen kry nie.
Kunstenaarafsprake
Een maal per week neem jy jou kreatiewe (kinder)self op ’n uitstappie. Dis jou kunstenaarafspraak, net vir julle twee bedoel. Julle kies iets wat lékker is – dalk ’n uur in ’n winkel vol kristalle? Om lyf te swaai op vinielplate uit jou tienertyd? Om te gaan kyk hoe ’n glasblaser sy ding doen? Dié oefening ontlok groot weerstand. Ons is dikwels ongemaklik met “speeltyd” én om alleen te wees met onsself. Maar dit voed en bind ons aan ons kreatiwiteit. Ons kreatiewe kind begin ons (met sy gawes) vertrou.
Lees ook ons onderhoud met Kobus Burger oor ’n kreatiewe lewe in die Augustus 2015-uitgawe van rooi rose.