Ruim jou lewe op
Een les wat ons nou al geleer het, is dat klotter (dis Afrikaans vir clutter) kreatiwiteit kortwiek (en ’n studie aan die Universiteit van Princeton het dit bevestig).
Jy het seker al gehoor van “mindful living”. Maar hoe kry ’n mens dit reg? Ons wil jou help om jou huis en lewe eens en vir altyd uit te sorteer sodat jy weer werklik bewustelik kan lewe.
Lees ook: Goeie energieplanne wat altyd werk
• Hoekom prop ons ons huise en dagboeke en lewe so vol?
• Hoekom is dit sleg vir ons?
• Waar begin ek om orde te skep?
Kate Emmerson is ’n lewensafrigter met ’n graad in bedryfsielkunde en kwalifikasies in neuro-linguistiese programmering (NLP) en die emosionele vryheidstegniek (EVT). Sy is een van Suid-Afrika se voorste kenners op die gebied van “decluttering”. Nie net van jou huis nie, maar ook van jou lewe.
Drie soorte rommel
Kate is oortuig daarvan dat ’n mens drie soorte rommel kry: fisieke rommel, liggaamsrommel en emosionele rommel.
In haar boek Ruim jou rommel op (Metz Press, 2013), verduidelik sy hoe die drie op mekaar inwerk. Terloops, as daar één boek is oor hierdie onderwerp wat jy maar vir jou kan koop, is dit hierdie een.
• Fisieke rommel is die tasbare ‘goeters’ wat ons in ons fisieke wêreld kan sien, aanraak en voel.
• Liggaamsrommel is enigiets wat jou van jou woema en lewenslus ontneem.
• Emosionele rommel is onsigbaar – ons kan net die slu uitwerking sien van alles wat ’n mens minderwaardig hou en jou persoonlike mag steel deur dit te gebruik om emosionele bagasie rond te sleep,” verduidelik Kate.
Moenie die bose kringloop wat dié drie vorm, ignoreer nie. En moenie die fout maak om te dink dat emosionele rommel na ’n vae term klink nie. Hierdie rommel, maan Kate, “neem plek in jou kop, emosies en geesteslewe in beslag en ondermyn so jou energie, gedagtes en tyd. Dit belemmer jou vermoë om verantwoordelikheid vir jou lewe te aanvaar, goed oor jou liggaam te voel en die gemors in jou lewe reg te maak.”
Kortom, dit beroof jou van die kans om werklik bewustelik te lewe. Kate se leuse is immers “leef lig, leef vry” en dit kan jy net regkry as jy eers die rommel in jou huis en lewe getakel het.Maar hoekom doen ons dit?
Sentimentaliteit is een rede, maar iets wat sielkundiges die “endowment effect” noem, is nog ’n rede. In leketaal beteken dit eenvoudig dat jy meer waarde aan iets heg omdat jy dit besit.
“Sodra jy iets besit, voel dit na ’n verlies as jy dit moet opgee,” verduidelik dr. Brian Young, ’n Britse verbruikersielkundige. Selfs al het jy iets nog net ’n paar minute besit, verduidelik hy, sal jy iemand wat dit wil koop, meer vra as waarvoor jy dit gekoop het. Dit maak geen sin nie, maar dit is wat ons doen.
Nog ’n rede is dat ons dit assosieer met iemand wat vir ons belangrik was (soos ’n oorlede ouer) en dat dit voel asof ons geen respek toon teenoor daardie mens wanneer ons haar besittings nie meer wil hê nie.
’n Vierde rede is die aspirasiefaktor, die strewe na nóg meer, nóg beter. Die slegte nuus wanneer jy in hierdie kategorie val, is dat jou behoefte om te versamel, direk verband hou met jou selfbeeld. Iemand met ’n gesonde selfbeeld sal hou wat hy nodig het, en die res laat gaan. Boonop beteken dit dat jy al die reklame glo wat vertel dat hierdie item jou lewe beter sal maak sodra jy dit besit. (En, op ’n ander vlak, dat jou lewe net soveel beter sal wees as jy ’n bepaalde aktiwiteit by jou daaglikse roetine voeg. Dit kan enigiets wees wat jy nie werklik geniet nie, van ’n boekklub, ’n komitee waarin jy dien, ’n sportsoort wat jy beoefen tot ’n vriendskap wat jou irriteer maar wat dalk vorentoe vir jou iets kan beteken.)
Hoekom is ’n oorvol huis en lewe sleg vir jou?
• Dit lei tot frustrasie, woede en onproduktiwiteit en oorheers later elke aspek van jou lewe.
• Rommel is sinoniem met stres. Dit maak ons angstig, want ons voel elke dag net al hoe skuldiger omdat ons nie die probleem takel nie.
• Rommel lok nog rommel.
• As jy nie jou rommel beheer nie, sal dit jóú beheer. Dit steel kosbare tyd wat jy kon gebruik om iets te doen wat jy regtig geniet. Navorsingsresultate wys ons bestee een jaar van ons lewe aan die soek van goed.
Dink net wat jy met daardie jaar kan doen! Neem dit ’n stap verder: dink hoeveel tyd bestee jy aan huis aan die kant maak omdat daar te veel goed is, of in ’n vergadering waar jy in elk geval nie wil wees nie.
Waar begin ek?
Stop net vir ’n oomblik hier, en dink oor jou deurmekaar lessenaar/kaste/dagboek. Hoe laat dit jou voel? Ek is sommer moeg en negatief by die gedagte daaraan. Dit voel of ek dit nooit sal kan uitsorteer nie, en eerder as om dadelik werk daarvan te maak, stel ek dit weer uit. Maar wáár begin jy?
Een van die belangrikste dinge is om te leer om te laat gaan. Dit geld verpligtinge, mense én die goed wat jou huis vol staan en wat jy hou uit skuldgevoel teenoor iemand wat dikwels reeds dood is.
“Om waarlik gelukkig te wees, moet jy soms toksiese mense en situasies uit jou lewe verwyder,” sê Alex Lluch, skrywer van Secrets to Love Life and Be Happy. Dit sal moed verg, maar jy gaan soveel beter voel as jy kan fokus op die mense en dinge wat jou waarlik gelukkig maak.
Paulo Coelho het gesê ons moet sorg dat ons elke dag na die horison kyk. Dat ons bewustelik ver moet kyk, anders val ons vas in die hier en nou. Die vier mure om ons, en die rekenaar- of televisieskerm, die deurmekaar huis en die probleme voor ons oë kan keer dat ons die horisonne sien.
As jy Kate Emmerson se stappe volg, sal jy binne dertig dae nie net ’n netjiese huis hê nie, maar ’n geordende, kalmer lewe en dalk selfs meer geld in jou sak.
Nog wenke
• Begin klein – al pak jy ook net vandag jou bedkassie reg. Selfs so min soos ’n daaglikse uitsorteersessie van twintig minute maak ’n verskil.
• Gee dit vir iemand wat dit nodig het. Sodra jy iets vir iemand gee wat hom of haar bly maak, word die proses makliker.
• Breek die assosiasie. Ja, dit was jou oorlede ma se kas, maar dis nét ’n kas. Sy weet in elk geval nie wat jy daarmee doen nie. As dit in jou pad is, of nie by jou meubels pas nie, voel jy in elk geval nie positief daaroor nie. Laat dit gaan!
• Hou op skuldig voel oor geld wat jy aan iets bestee het. Ja, die rok wat jy nooit dra nie, hét ’n sak vol geld gekos, maar gaan jy dit terugkry deur die rok in jou kas te hou en elke dag daarin vas te kyk? Jy ken reeds die antwoord: nee. Inteendeel, jy gaan elke keer skuldig voel wanneer jy daarna kyk. Laat dit gaan.
Hoekom laat ons klotter toe?
Sentiment is ’n groot ding, asook die vrees dat ons dit dalk môre kan nodig kry. Ons stem saam met Elize – dit maak jou lewe en jou gedagtes vol en verlaag jou lewensgehalte (jou vermoë om nou en hier te geniet) geweldig. Elke ding wat plek of tyd in beslag neem, voorkom dat iets of iemand anders ’n plek of tyd in jou lewe kan kry.
Het dit my dan glad nie geraak toe my pa se goed weggery is nie? Dit het – ek het ’n paar trane gestort, want dit was weer soos afskeid. Maar van daardie dag af het ek nog nooit die pragtige maar gewraakte vertoonkas gemis nie. En ek hoef nie die vertoonkas te hê om my pa te onthou nie – daarvoor het ek foto’s en honderde kosbare herinneringe wat in my gedagtes voortleef. Ek wens nou ek het die vertoonkas (en baie ander goed) baie vroeër laat gaan. Ons sou baie lekkerder geleef het in daardie eerste klein meenthuisie van ons!
Mis ek dan nooit van die goed wat ek weggemaak het nie? Een uit ’n honderd keer, en dan baie vlugtig. Die ander 99 keer wonder ek hoekom ek dit nie lankal gedoen het nie. My lewensgehalte is oneindig beter. En ’n mens pas aan! Jy dink maar net jy het al het daardie bakke en toebehore in die kombuis nodig. As jy hulle nie het nie, leer jy baie gou om goed daarsonder reg te kom!
Leef eenvoudiger
• Ek antwoord nie oproepe van onbekende nommers nie. Ek antwoord ook nie wanneer ek nie op daardie oomblik lus is om te praat nie.
• Ek antwoord e-posse wanneer ek kan en nie wanneer die afsenders dink ek moet nie.
• Ek aanvaar byna nooit bykomende werk nie, al sou ons kon doen met ’n ekstra inkomste. Dis net nie die moeite werd nie, en ek wag nou nog vir die armoede en hongersnood om my te tref. As ek ekstra werk aanvaar, is dit omdat ek dit geniet of dit ’n hoër doel dien. Ek het geleer dat my tyd kosbaarder as geld is. Die lewe is regtig te gejaagd om net nog aktiwiteite by te voeg.
• Ons beperk ons kinders se buitemuurse betrokkenheid tot een of twee aktiwiteite wat goed is vir hul huidige ontwikkeling en wat by ons roetine inpas.
• Ek het drie afslagkaarte by plekke waar ek gereeld koop en waar die afslag die moeite werd is. Drie is eintlik al vir my te veel, maar om elke hoek en draai wil nog iemand een vir my gee. Ek weier net beslis, hoewel ek weet ek kan seker ’n paar rand hier en daar spaar. Maar genade, hoeveel kaarte kan een mens ronddra?
• Ek het net een bankrekening en geen kredietkaarte nie.
• Ek maak nou al jare lank geen nuwe skuld nie.
• Ek koop nie eintlik meubels nie, maar wanneer ek dit doen, doen ek dit met groot oorleg en koop gewoonlik iets wat min ruimte in beslag neem of vir meer as een doel gebruik kan word.
• Ek pak jaarliks alle kaste en pakplekke uit en gooi weer uit. Ek het al geleer ontklotter is nie ’n eenmalige geleentheid nie, maar ’n voortdurende proses. Goeters kry kleintjies (ek weet regtig nie hoe nie) en ’n mens moet in beheer bly, anders word jy weer beheer.
• Ek gaan nie na geleenthede toe wanneer die mense daar nie vir my belangrik is nie.
• Ek leef so ver moontlik papierloos. Ek gooi weg wat ek kan, en berg die res elektronies. Ek het nou tien persent van die papier wat ek altyd in my lewe gehad het.