Die-Een-Vir-Wie-Mens-Nie-Mag-Dokter-Sê-Nie, James van der Merwe, het vir my ’n bors gebou uit ’n ovaalvormige stuk vel, vet, latissimus dorsi spier en bloedvate. Die hele spulletjie word onder mens se vel oorbeweeg na die bors-area toe en daar word dit gebruik om vir jou ’n nuwe bors te bou, die bloedvate nog steeds geheg aan die oorspronklike bloedtoevoer in jou rug. Onder al hierdie dinge word ’n silikoongevulde prostese ingeplant en siedaar! ’n Splinternuwe boobie.
Op die middag ná die operasie word ek oorgeplaas na ’n algemene saal in Seksie twee in Wilgeheuwel-hospitaal. Ek is altyd maar half skrikkerig vir algemene sale. Dis amper soos om om op ’n vliegtuig te klim – mens weet nooit langs wie beland jy nie. Ek was al in ’n saal waar die vrou in die bed skuins oorkant my vir ure lank roerloos na my gesit en staar het. Sonder om haar oë een keer te knip, het dit vir my gevoel. Dan is daar gewoonlik die nagpersoneel wat dwarsdeur die nag kliphard lag en gesels terwyl hulle heen en weer voor jou kamer verbyloop, bedpanne en ander metaalgoeters wat in simbale verander en die kans dat iemand in jou saal dalk ’n snorker is. Kyk, mens moet jouself sielkundig baie mooi voorberei vir algemene sale.
Daar is net een ander persoon in die saal saam met my, die ander beddens leeg. My mede-pasiënt is bloot ’n bondeltjie mens onder die komberse, ’n klein bossie swart hare wat by die koppenent uitsteek. Nie ’n gesnork van ’n dag oud nie. Great! Toe sy later wakker word, sien ek eers hoe mooi sy is. Jonk, seker in haar baie vroeë twintigs met groot, swart oë en die langste wimpers wat ek nog aan ’n mens gesien het. Dit wil voorkom asof die personeel haar baie goed ken. Osupile, noem hulle haar. Sy het lupus en die hospitaal is soos haar tweede tuiste.
Die nagpersoneel is die ene glimlagge. Hulle praat van my twee dreine as ‘the twins’. Saam besluit ons op die tweeling se name. Die een wat vloeistof uit my rug dreineer is Tweedledee en die een wat vog uit my borskas dreineer is Tweedledum.
Gedurende die nag is dit tjoepstil in die hospitaal. Niemand lag en gesels nie en daar is geen simbale wat bespeel word nie. Osupile snork nie, maar by een of twee geleenthede snork ek myself wakker. My arme kamermaat.
Ek en die tweeling onderneem ’n voorvallose wandeling of twee na die badkamer. Met elke draai in die badkamer beskou ek my bolyf sommer so bo-oor die klere in die spieël. Dinge is erg lopsided. James se kunswerk sit hoog op, byna reg onder my sleutelbeen, want in die volgende drie maande moet Newbie en swaartekrag saamwerk om ’n normale posisionering te bewerkstellig. My linkerbors se blootstelling aan die vreugdes van swaartekrag duur nou al vir ’n stuk of drie en ’n half dekades, so dis geen verrassing dat Oldie so swaarmoedig sal lyk nie. Wanneer die tweede prosedure oor drie maande geskied sal Newbie op die regte plek sit. Ek dink aan my klerekas. Op die een of ander manier sal ek my klere moet inspan om tot dan die verskil tussen die twee te verdoesel. Of ek kan Gods water oor Gods akker laat loop en my asimmetriese borskas as ’n conversation starter gebruik.
Ek het so uitgesien na die rekonstruksie, maar, soos wat ons Vader maar maak, wys Hy my op ’n praktiese wyse dat alles op die ou einde maar net oor mense gaan: die dapper Osupile wat my vertel van haar Lusando wat hierdie jaar met haar gaan trou al het sy lupus, my ma en my sussie Hannelie wat vir vier ure lank ry om ’n uur lank by my te kom kuier en toe weer terug te ry Bloemfontein toe, Jaun, my rots der ondersteuning, James met sy wonderwerkhande en die ander lieflike mense by Wilgeheuwel-hospitaal. Dis op tye soo dié dat ek weet hoekom God die mens liefhet.
James ontslaan my op die Sondag, drie dae ná die operasie, op voorwaarde dat ek niks stout aanvang nie. Daardie nag word ek in my eie bed wakker. Eers salig van lekkerte oor die bekendheid van my bed en my kamer en toe agterdogtig. Iets voel nat. Sopnat. Ek lig die beddegoed op en staar na die bloed en ander vog wat my bed en my slaapklere inkleur. Tweedledee is nie lekker nie. Ek en Jaun ry terug hospitaal toe, Noodgevalle toe. Die mense daar bel vir James en hy sê vir hulle niemand mag karring aan Tweedledee nie. Hy wat James is, is uitstedig, hulle moet net skoonmaak en toeplak. Die susters, duidelik bang vir ou Jamesie, gehoorsaam. Binne sekondes is alles weer deurnat. By die huis aangekom, sit ons skoon beddegoed op die bed, ek trek skoon, droë slaapklere aan en Jaun pak my sy toe met ’n ou handoek.
Tweedledum suig tog te lekker, gorrel-gorrel, aan die vog in my bors.
Tweedledee is siek. Geen vog beland in sy ronde lyf nie, maar die handoek en my slaapklere word al hoe natter.
Dit mag dalk ’n lang nag wees.