Nooit in my wildste drome het ek gedink dat ek naby ’n aktiewe vulkaan sou kom nie. Never mind een uitklim. Maar toe die geleentheid opduik, het ek nie ’n sekonde gehuiwer nie. Ek is nie een wat graag nee sê vir eens-in-’n-leeftyd-ervaringe nie, al fladder die skoenlappers ook hóé wild in my maag.
Plaaslike toergidse
Die ent op na die krater is vlugtig, maar steil genoeg om mens behoorlik uitasem te laat. Douvoordag is ek saam met ’n groep Nederlanders ’n paar kilometer hiervandaan teen ’n ander bult uit om die vulkaan eers van vêr af te bewonder. Mount Bromo het vanoggend byna onsigbaar agter ’n sluier donker wolke gelê, maar stadig maar seker saam met die oggendson sy verskyning gemaak.
Soos wat ek die paadjie na die krater stap, Google Earth ek ons huidige ligging in my gedagtes: Suidoos-Asië, Indonesië, Java-eiland. Die oostelike gedeelte van Java alleen huisves dertien vulkane! Mount Bromo se huidige status lui: “rusteloos”. Dis nou 2012. Hy het ’n jaar gelede sy laaste uitbarsting gehad, maar dit blyk dat hy vandag in ’n goeie bui is.
Bo gekom, skrik ek myself boeglam toe ek besef dat ek letterlik op die rand van die krater staan. ’n Paar treetjies van my af blaas wilde rookbolle onophoudelik vanuit ’n groot, donker mond. Dit is nou die definisie van ’n kettingroker – lag ek vir my eie grappie, gedeeltelik om my senuwees te kalmeer. Behalwe vir ’n klein, verspotte heining, is daar niks wat keer dat mens in die kolkende vuurput val nie. Vreesaanjaend!
Dis nie elke dag dat ek letterlik die aarde sien lewe nie. Nou praat ek nie van die groei en ontwikkeling van mense, diere of plante nie, maar die aarde sélf. Op hierdie dag sien ek dit met my eie oë. Moeder Aarde – sy léwe! Sy is aktief en haal asem. Sy reageer.
Die omringende landskap is ’n surrealistiese prentjie van vaal heuwels en hier en daar ’n groen bossie. Die oggendson waak rustig oor skakerings van bruin, terwyl ek myself moet knyp om te glo dat ek op daardie oomblik met my eie voete op ’n lewende vulkaan staan.
Die omringende landskap
Dit is so maklik om jouself met verloop van tyd in ’n veilige kokon toe te wikkel. Daar waar alles bekend en voorspelbaar is. Daar waar jy gemaklik voel, waar jy “hoort”. Maar tog is dit nodig om jouself van tyd tot tyd uit jou veilige spasie te wikkel, en jou voete op ’n meer uitdagende stukkie aarde te plaas. ’n Ontnugtering dat jy lewe en dat jou hart, op hierdie spesfieke tyd en plek, ritmies saam met Moeder Aarde s’n klop.